Logo
kykNET_Boer_soek_'n_vrou_Seisoen_16_Slim_Billboard_Launch_1600x160
web uni tv guide

Boer Soek 'n Vrou

144RealiteitPG13

'n Vuurwarm Julie wag op kykNET-kykers

Nuus
01 Julie 2024
In Julie is daar ’n magdom programme wat kykNET die kanaal gaan maak om te kyk.
kykNET Julie Hoogtepunte Main Article Image

In Julie is daar ’n magdom programme wat kykNET die kanaal gaan maak om te kyk. Boer soek ’n vrou is terug, asook ’n hele paar gewilde reekse wat spog met nuwe seisoene. Intussen hou die dramareeks Een keer om die son kykers vasgenael en is daar ’n nuwe komediereeks, Pronk Primêr, wat die snaakse kant van laerskole wys.  

 

Sestiende oes van Boer soek ’n vrou op pad

Plaasjapie se stadsjapies maak binnekort plek vir boere wat soek na liefde wanneer Boer soek ’n vrou se sestiende seisoen in Julie op kykNET begin.

Soos voorheen sal dié gewilde maatsoekreeks, wat uit 13 episodes bestaan, grootliks fokus op die vyf boere wat die meeste inskrywings ontvang het. Kykers sal dan dié hubare boere se opwindende liefdesreis volg.

Boer soek ’n vrou het sedert 2008 ’n móétkyk-afspraak op die Suid-Afrikaanse televisiekalender geword en tientalle boere het al deur hierdie reeks hul lewensmaats ontmoet. Só het drie van die topvyfboere van 2023 se Boer soek ’n vrou – Francois, Hennie en Louis B – intussen met hul pasmaats getrou.

Marciel Hopkins keer vir ’n vierde keer as aanbieder van die reeks terug. Die ouderdom van 2024 se boere wissel tussen 23 en 40, en hulle kom van ses provinsies.

Boer soek ’n vrou begin op Donderdag 18 Julie om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144). Die reeks sal ook op DStv Stream en Catch Up beskikbaar wees.

Een keer om die son

Die dramareeks Een keer om die son speel af oor die loop van ’n jaar en draai om die Van Wyks wat met die verlies van ’n geliefde worstel. Daar is ook siekte, vergifnis en geheime terwyl hulle genesing én mekaar weer probeer vind.

In Julie spartel Ruan om kop bo water te hou en vra Amé om te help met Lani se boedel. SAGE se uitstalling is ’n sukses, maar dit kom teen ’n prys. Markus word 18 en kry werk by die galery. Joshua sukkel om sy skuldgevoelens weg te steek, en Amé krap dieper in Lani se verlede. Markus moet fyntrap om sy dubbele lewe ’n geheim te hou, en Leandri se hart word gebreek.

Dinsdae om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144). Die reeks sal ook op DStv Stream en Catch Up beskikbaar wees.

Oppi noot

3 Julie

Die eerste semifinaliste sing teen mekaar uit in ’n verskeidenheid vermaaklike sanguitdagings. Die gaskunstenaar is Marcel Dalmayda.

10 Julie

Chante, Crushanda en CO-B is die sangers wat teen mekaar uitsing in ’n verskeidenheid vermaaklike sanguitdagings. Die gaskunstenaar is Gavin Edwards. 

17 Julie

Fouché, Liza-Marie en Celeste is die sangers wat teen mekaar uitsing, en die gaskunstenaar is Nadine.

24 Julie

Die tweede groep semifinaliste sing teen mekaar uit, en die gaskunstenaar is Elvis Blue.

31 Julie

Renaldo, Cathleen en Andrea is die sangers wat teen mekaar meeding, en die gaskunstenaar is Nur Abrahams.

Woensdae om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144). Die reeks sal ook op DStv Stream en Catch Up beskikbaar wees.

Pronk Primêr

Welkom by Pronk Primêr, ’n laerskool in ’n klein dorpie, waar ’n wiskunde-onderwyseres, Ada, terugkeer na haar alma mater en van haar skoolvriende – Earl, Charl, Driena en Filip – skoolhou. Hulle eertydse skoolhoof, Mnr. Welgehawe, is steeds in sy pos. Die daaglikse lewe en uitdagings wat onderwysers in die gesig staar, word binne en buite die klaskamer verken. Daar is Charl se pogings om dissipline te handhaaf, liefdesdriehoeke, aanlyn flankeerdery, inspeksies en Filip se ongemak om gesinsvoorligting aan te bied. En die kersie op die koek: die groot bal wat ter wille van fondsinsameling gehou word.

In die rolverdeling is Tobie Cronjé, Juanita du Plessis, Pietie Beyers, Solomon Cupido en Jaco Muller. Die reeks is geskryf deur Desiré Gardner, bekend as die skepper-skrywer van Magda Louw, waarin sy ook die hoofrol vertolk.

Pronk Primêr begin op 1 Julie om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144). Die reeks sal ook op DStv Stream en Catch Up beskikbaar wees.

Bolhuis beslis

Dis die klein jakkalsies wat ’n wingerd kan verwoes. Wat begin as ’n ligte onderonsie, kan maklik ontaard in ’n volskaalse bakleiery. In Bolhuis beslis is dit juis hierdie sake wat aangespreek word. In die arbiter-stoel is die bekende speurder Mike Bolhuis wat na al die kante van die storie luister en dan besluit wie reg en wie verkeerd is.

“Hierdie program is net weer eens ’n bewys dat klein gevegte tussen partye baie vinnig kan uitkring en vererger,” sê Mike. “En dis gewoonlik maklik oplosbaar. Jy sal nie glo hoeveel sake soos hierdie daar is nie!”

In van die eerste programme in die reeks, leer ons, onder andere, vir Alta ken wat ’n spysenieringsmaatskappy gevra het om ’n koek vir haar seun se 21ste verjaardag te bak. Die spysenier het egter die versoek misverstaan, en wat ’n sogenaamde naked cake – ’n koek met min versiersuiker moes wees – word toe ’n koek in die vorm van ’n kaal vrou.

Bolhuis beslis begin op 9 Julie 2024 op kykNET (DStv-kanaal 144). Die reeks sal ook op DStv Stream en Catch Up beskikbaar wees.

Nuwe seisoene van trefferreekse

Anzél in die Boland se vierde seisoen skop op 5 Julie 2024 af. Kykers kan gereed maak vir die mees uiteenlopende seisoen nog. Anzél gaan sorg vir spesiale wyn, skilderagtige landskappe, avontuurlustige aktiwiteite – en hartroerende stories.

“Ek is so bly om terug op die lug te wees. Ek het dit vreeslik gemis om die area se stories vas te vang en al die mooi plekke met ons kykers te deel. Ek moes weer gewoond raak aan al die kameras, maar ek het vinnig weer my ritme gevind,” vertel Anzél.

Anzél in die Boland begin op 5 Julie 2024 om 18:30 op kykNET (DStv-kanaal 144). Die reeks sal ook op DStv Stream en Catch Up beskikbaar wees.

Wie’s nuus met Netwerk24 is terug om kykers op hoogte te hou van aktuele sake in Suid-Afrika en die res van die wêreld. Die nuwe seisoen begin op 17 Julie om 21:00.

“Daar het baie water in die see geloop sedert die laaste seisoen van Wie’s nuus met Netwerk24, wat beteken dat daar ’n hele klomp nuwe nuusmakers is wat ons aandag trek,” sê die aanbieder, Mia Spies. “Ons het ’n rits nuwe ministers en parlementslede ná die algemene verkiesing, nuwe sporthelde wat ons harte trots laat klop en dan is daar ongelukkig ook ’n hele klomp omstrede figure wat ons warm onder die kraag het. Ek sien uit daarna om elke Woensdagaand in jou leefkamer te kom kuier en meer te deel oor die mense wat die land en die wêreld aan die praat het.”

Wie’s nuus met Netwerk24 begin op 17 Julie 2024 om 21:00 op kykNET (DStv-kanaal 144). Die reeks sal ook op DStv Stream en Catch Up beskikbaar wees.

Ysters op die landgoed, ’n reeks wat fokus op Suid-Afrika en Mauritius se voorste gholflandgoedere, keer terug vir ’n tweede seisoen op 6 Julie. Die aanbieders is Johnny Davids, Alwyn Hollenbach, Herman Watney en Ricky Schroeder. In dié seisoen gaan hulle dertien eksklusiewe landgoedere verken, die inwoners leer ken, gholf speel en ’n paar bekendes ontmoet.

Van die landgoedere wat besoek word, is Zimbali Estate in KwaZulu-Natal, St. Francis Links in St. Francisbaai in die Oos-Kaap, en Tamarin in Mauritius.

Ysters op die landgoed begin op 6 Julie 2024 om 18:30 op kykNET (DStv-kanaal 144). Die reeks sal ook op DStv Stream en Catch Up beskikbaar wees.

In die nuwe, derde seisoen van 4x4 met André gaan die aanbieder, André de Villiers, die Ai-Ais-Richtersveld verken, duine langs die Namibiese kuslyn aandurf en binnelandse plaashindernisse ry waar hy vindingryke boere leer ken.

4x4 met André begin op 6 Julie 2024 om 19:30 op kykNET (DStv-kanaal 144). Die reeks sal ook op DStv Stream en Catch Up beskikbaar wees.

Jak de Priester is terug vir ’n vyfde seisoen van Koppieteefontein, wat op 2 Julie om 21:30 begin.

“Ek is verheug dat ons weer saam met bekendes kan kuier oor ’n koppie tee, in hulle huis of ateljee, waar hulle hul stories met my deel,” sê Jak. “Met hierdie reeks het ek net weer besef watter wonderlike, inspirerende mense ons in Suid-Afrika het en hoe uniek ons land, taal en kultuur is.” Soos met die vorige reekse, word die nuwe seisoen deur Toyota geborg. Neil Joubert-wyne verras gaste met van hulle spesiale wyn.

Koppieteefontein begin op 2 Julie 2024 om 21:30 op kykNET (DStv-kanaal 144). Die reeks sal ook op DStv Stream en Catch Up beskikbaar wees.

Met ’n huppel in die stap wys nou al sestien seisoene lank dat oudword nie beteken jy moet agteroor sit nie. In die nuwe seisoen, wat op 3 Julie begin, is daar, onder meer, insetsels oor ’n familie wat besluit het die gras is nie groener aan die ander kant nie en van Nieu-Seeland terug na Suid-Afrika gekom het. Daar word na projekte in belang van Suid-Afrika gekyk wat dr. Mathews Phosa en sy kollegas aanpak, en daar is ’n kuier saam met ’n groep afgetrede vlieëniers. Skoolhoofde deel hulle herinneringe, en seniors word gewaarsku teen kubermisdaad.

Met ’n huppel in die stap begin op 3 Julie 2024 om 17:30 op kykNET (DStv-kanaal 144). Die reeks sal ook op DStv Stream en Catch Up beskikbaar wees.

 

Sepies

Binnelanders

Weeksdae om 19:30 op kykNET (DStv-kanaal 144)

Ella het ’n idee vir Binneland, en die uiteinde maak van Naomi ’n baie gelukkige vrou. Tracy moet ’n moeilike besluit neem wat Leah betref, en Bronwyn wil Nicolette by ’n drastiese keuse betrek – maar sy besluit uiteindelik daarteen. Thalia dink twee enkellopende dokters is perfek vir mekaar, en Binneland kry ’n nuwe pediater, dr. Fiona Fortuin.

Almal het hulle hande vol wanneer Ella se susterskind, LJ, by Ongevalle opdaag. Steve maak ’n loopbaanbesluit wat almal stomslaan, en Conrad vra Delia se raad ná hy ’n onverwagse aanbod ontvang. ’n Verhouding kom tot ’n einde, ’n gesiene Binneland-dokter neem afskeid, en At ontvang slegte nuus oor Laetitia.

Suidooster

Weeksdae om 18:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) en 18:30 op kykNET&kie (DStv-kanaal 145)

Met Texas en Nazeem se gekonkel begin dit lyk of Ruiterbosch die nuwe Wilde Weste is. By die nuwe Lone Star-wassery word daar meer as net klere gewas. Dis in der waarheid ’n front vir ’n onwettige casino, en ’n hele paar van Ruiterbosch se inwoners geniet nogal hierdie nuwe tydverdryf. Maar Texas en Nazeem moet hul voetwerk ken om die regte kliënte te trek en diegene wat hul pret kan bederf, van stryk te bring. Gaan dié twee daarin slaag om te verhoed dat hulle vuil wasgoed uitgehang word? Cupido kom klop ook dié winter aan die Booysen-broers se deur. Aiden val halsoorkop vir die pragtige Lisa, en hy glo vas dit is sy trouvrou, terwyl Gary by Zoë begin vlerksleep. Daar is ook verwikkelinge by die kerk wanneer ’n waardevolle ring in die kollektesakkie beland. Siya en Kate probeer agter die kap van die byl kom, maar dit veroorsaak ook spanning tussen hulle. Mymoena word in die versoeking gelei, en die Samsodien-gesin kom voor nog ’n groot toets te staan. 

Diepe waters

Maandae tot Donderdae om 18:30 op kykNET (DStv-kanaal 144)

Theresa se terugkeer het in Junie vir groot opgewondenheid gesorg, en Jacques het die breedste van almal geglimlag. Hoewel dit lyk asof hul vriendskap besig is om in iets meer ernstigs te ontwikkel, is daar dinge wat die saak kompliseer, en Jacques moet verbete baklei om haar aandag te hou. Charity, wat by ’n onmoontlike kruispad ten opsigte van haar swemloopbaan staan, kry hulp uit ’n onverwagse oord. Sanet en Ben verwelkom ’n nuweling in die gemeenskap, maar gaan Sanet binnekort dalk spyt wees? Waaroor Chris beslis nie jammer is nie, is die nuwe kelner wat by Lettie’s begin werk. Jacques ontvang besoek van ’n maatskaplike werker. Sou dit dalk iets met Engela se sorg te doen hê? En waar pas Dolf en Engela in die prentjie in?

Silwerskermfees 2024

Vir meer as ’n dekade al is die Silwerskermfees een van die mees gerespekteerde ontwikkelingsprojekte in die plaaslike filmbedryf en kykNET bou vanjaar daarop voort.

Een van die fees se sleutelbestanddele is die suksesvolle kortfilm-mentorskapprojek waardeur kykNET ’n nuwe generasie rolprentmakers se loopbane ’n wegspringplek gee.

In 2023 het dit na dokumentêre projekte uitgekring en vanjaar is die opwindende shotgun-kortfilms prominent in die kollig. Die fees het verlede jaar die shotgun shorts-idee geloods, waar gevestigde filmmakers gevra is om voorstelle vir professionele kortfilms voor te lê en in Augustus word dié films by die fees bekend gestel.

Buiten die ses shotgun-kortfilms tel ses speelfilms, agt kortfilms (deur opkomende rolprentmakers) en vyf kort dokumentêre rolprente onder vanjaar se debuutwerke.

’n Hoogtepunt op verlede jaar se program was die insluiting van loodsepisodes van splinternuwe televisie- en stroomdiensreekse en vanjaar gaan daar weer eksklusiewe voorskoue vir feesgangers wees.

kykNET bring soos tevore ook talle kenners na die fees om insiggewende werkswinkels, paneelbesprekings en meesterklasse aan te bied. Van die onderwerpe wat bespreek gaan word, handel oor die hantering van intimiteit op die stel, die proses waardeur boeke vir die skerm verwerk word en hoe ko-produksies werk.

Oudergewoonte sluit kykNET die fees af met die swierige Silwerskermtoekennings vir Film en TV waar die beste films van die fees saam met top-televisie vereer word.

Dié glansryke geleentheid word op Saterdag 31 Augustus by die Kaapstadse Internasionale Konferensiesentrum (Kiks) aangebied, waar die gesogte Silwerskermbeeldjies aan filmfees-presteerders en televisie-uitblinkers van die afgelope jaar uitgedeel sal word.

 

kykNET&kie

Skemergrond

Maandae tot Donderdae om 19:30 op kykNET&kie (DStv-kanaal 145)

In Julie ontmoet kykers die inwoners van Gemoedsdrif, die blommeverkopers op die Kaapse Vlakte en ook ’n sukesvolle sakevrou van die stad. Alles begin met die aflewering van ’n brief wat ’n paar mense lelik ontstel.

Jasmine worstel al ’n geruime tydjie met haar emosies en neem ’n groot besluit om vir Hendrik van As na haar 60ste verjaardag te nooi. Sy vertel vir niemand hiervan nie – nie eers haar beste vriendin, Tillie, nie. En dis die begin van groot ongelukkigheid in die Louw-familie. 

Kykers maak ook kennis met Gloria, die blommeverkoper op die Kaapse Vlakte. Gloria sien om na haar broer, Fabian, vandat hulle ma oorlede is. Fabian weet net hoe om Gloria te manipuleer en sal enige iets doen om seker te maak niemand anders kry haar aandag nie. Arme Kevin probeer so hard om tyd met Gloria te spandeer, maar Fabian steek elke keer ’n stokkie voor. 

Daar is ’n paar interessante besoekers wat ’n draai kom maak op Gemoedsdrif. Patty begin werk by Manny se hotel as die nuwe sjef. Erica laat sommer gou-gou vir Patty tuis voel in die nuwe dorp. Patty is baie geheimsinnig, maar Ruan vind haar interessant. Ons sal maar moet wag en sien of dié twee mekaar gaan vind. 

Nóg ’n interessante besoeker is Christine Atkins. Sy daag op in die dorp op soek na die Louws. Christine wil graag gebruik maak van hul blomme vir haar besigheid, maar is dit al rede hoekom sy so geïnteresseerd in die Louws is? Hoekom snuffel sy so baie rond?

Koortjies met Elwira Standili

Die bekende Pinkstersanger en Idols-deelnemer Elwira Standili, die nuwe aanbieder van Koortjies, sê sy was nog altyd ’n groot Koortjies-aanhanger en dat sy dit gereeld Sondae saam met haar familie gekyk het. Elwira beskryf Koortjies as ’n baanbrekerprogram, want toe die reeks in 2020 aan die begin van die Covid-19-pandemie afgeskop het, was dit in ’n tyd wat talle mense hopeloos gevoel het.

“Mense kon nie kerk toe gaan nie, maar met kykNET&kie se Koortjies kon ons steeds die kerk ervaar – veral soos wat ons bruinmense kerk leer ken het en hoe ons kerk geleef het. Dit het ook die Pinkster community bymekaar gebring en ons het gesien hoe groot dit eintlik in Suid-Afrika en in Namibië is,” sê sy.

Koortjies met Elwira Standili begin Sondag 14 Julie op kykNET&kie (DStv-kanaal 145).

 

kykNET NOU! 

Die tweede seisoen van Ommighellie, met Frazer Barry as aanbieder, skop in Julie op Saterdagaande om 18:30 op kykNET NOU! (DStv-kanaal 146) af.

Stiltetyd, elke oggend tussen 05:00 en 06:30, is presies wat die naam sê: tyd waarin jy kan stil raak met jou gunsteling- geestelike liedjies voor jy die dag aanpak.

Die Krone-musiekblokke bring nuwe musiekvideo’s van gewilde Krone-kunstenaars wat Kurt Darren, Christia Visser, Brendan Peyper, Refentse, Nicholis Louw, Appel, Leah, Juanita du Plessis en Ricus Nel insluit.

Die tydgleuwe vir die Krone-musiekblokke is as volg:

Maandae: 18:00 – 19:00

Dinsdae: 12:00 – 13:00

Woensdae: 22:00 – 23:00

Vrydae: 20:00 – 21:00

Saterdae: 20:00 – 21:00

 

 Bly dié Julie knus, gemaklik en tuis deur in te skakel op die kykNET-kanale vir die nuutste en warmste Afrikaanse vermaak! Gesels ook saam op Facebook, X, Instagram en TikTok deur #kykNET te gebruik.