web uni tv guide
Boer soek n vrou S17 slim bb pilot episode
web uni tv guide

Boer Soek 'n Vrou

144RealiteitPG13

'n November propvol hoogtepunte op die kykNET-kanale

Nuus
04 November 2024
Daar is nie 'n tekort aan vuurwarm vermaak dié November op kykNET nie!
Wie word n miljoener S4

Boer soek ’n vrou het ’n nuwe aanbieder, en kykNET word 25 en vier dit op skouspelagtige wyse. Oppi Kassie het twee splinternuwe episodes, en Trompoppie kom kykNET toe. En dis maar net ’n paar hoogtepunte in November op kykNET en kykNET&kie.

Reandi is Boer soek ’n vrou se nuwe aanbieder

Die gewilde maatsoekreeks Boer soek ’n vrou se 17de seisoen skop nie net af met ’n nuwe oes boere nie, maar ook met ’n splinternuwe aanbieder.

Marciel Hopkins was die afgelope vier jaar die Kupido wat derduisende kilometers gereis het om boere hul lewensmaats te help vind. Nou is dit die aktrise Reandi Grey se beurt om die boodskap van liefde en hoop op potensiële lewensmaats te help versprei.

“Vir jare en jare – dit was soos my industry bucket list – was dit wat ek wou doen,” het Reandi in ’n onderhoud aan Marciel verklap.

Reandi is nie ’n onbekende vir TV-kykers nie. Sy vertolk immers die rol van Anja in Diepe waters sedert 2022, maar daar was ook verskynings in Legacy en 7de Laan. En deesdae maak sy ook naam met haar klerereeks, Sonder Reëls.

Sy is die sewende aanbieder van hierdie gewilde reeks. Haar voorlopers is Elma Postma, Angelique Gerber, Nadia Beukes, Minki van der Westhuizen, Leah van Niekerk en dan natuurlik Marciel.

Die toptienboere vir die 17de seisoen is op 29 Oktober tydens ’n spesiale uitsending op kykNET (DStv-kanaal 144) aangekondig. Voornemende pasmaats het nou die geleentheid om vir dié boere briewe te skryf. 

kykNET 25 en SARIE: Twee ikone span saam

Op 15 November bereik kykNET ’n besonderse mylpaal wanneer die kanaal hulle 25ste verjaardag vier. ’n Kwarteeu van wêreldklasvermaak – van dramareekse tot komedie, leefstyl en aktualiteit. Alles in Afrikaans.

Menige loopbaan, voor én agter die skerms, is op dié kanaal begin, en kykNET kan terugkyk op een suksesverhaal ná die ander.

Om hierdie spesiale geleentheid te vier, het kykNET en SARIE, die topverkoper-vrouetydskrif in die land, saamgespan en vier voorblaaie vir die November/Desember-uitgawe gekonseptualiseer met vier geliefde kykNET-persoonlikhede op elk van die voorblaaie.

Hans Strydom, bekend vir sy rol as At Koster in Binnelanders, deel ’n voorblad saam met Diepe waters se Nadia Valvekens, De Klerk Oelofse van Nêrens, Noord-Kaap en Kyk wie praat, en Skemergrond se Devonecia Swartz.

Emo Adams, meer onlangs die aanbieder van Oppi Noot, die aktrise Amalia Uys van Plan B en Een keer om die son, Taktiek se Bennie Fourie, en Lottoland help ’n dorp se Leah is die viermanskap op nog een van die voorblaaie.

Hannes van Wyk, aanbieder van Kwêla en Hannes aan huis, deel ’n voorblad met Een keer om die son se Donnalee Roberts, Suidooster se Dean John Smith, en Lourensa Eckard, aanbieder van In gesprek.

Die veteraanaktrise Denise Newman van Suidooster-faam is op die voorblad saam met Susanne Beyers, onlangs gesien in Een keer om die son, Binnelanders se Reynardt Hugo, en Hotel, Hartklop en Binnelanders se Simoné Pretorius.

Die November/Desember-uitgawe van SARIE, wat vroeër vanjaar haar 75ste verjaardag gevier het, is van 1 November op die rak. Dit is die afskop van kykNET se verjaardagaktiwiteite wat sal opbou tot 15 November wanneer daar behoorlik fees gevier sal word.

Die foto’s is in Kaapstad geneem en Bravo! was agter die skerms om die opwinding vas te vang. Hierdie episode van Bravo! word op 7 November om 21:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) uitgesaai.

Bakkies op Toks & Tjops in November

Die legendariese Springbokrugbyspeler Bakkies Botha kuier in November saam op Toks & Tjops wanneer die Springbokke toetswedstryde in die Verenigde Koninkryk speel. Die Bokke draf op 10 November uit teen Skotland op Murrayfield in Edinburgh, op 16 November teen Engeland op Twickenham in Londen en op 23 November teen Wallis in die Principality-stadion in Cardiff.

Bakkies is ’n gas in die Toks & Tjops-episodes van 1, 8, 15 en 22 November, en hy gaan saam met die aanbieders die opbou na die drie toetse bespreek asook ontleding doen van die wedstryde.

Toks & Tjops is Vrydagaande om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) en is ook beskikbaar op DStv Stream.

Nêrens, Noord-Kaap Deel II

5 November

Ronnie is nêrens te vinde nie. Willem sleep vir Lourens na ’n partytjie, terwyl Henna by Ans se huis opdaag vir hulle ete. Jan-Jan het skokkende nuus vir Frans en Andries.

12 November

Frans konfronteer sy pa en vind die waarheid oor sy gesondheid uit. Suzette het ’n afspraak by haar dokter.

19 November

Pa Lourens en Ans deel ’n teer oomblik. Lourens en Suzette ondersteun mekaar.

26 November

Ronnie probeer die stukke van sy lewe optel. Daar word voorbereidings getref vir ’n reis na die buiteland.

Nêrens, Noord-Kaap Deel II is op Dinsdae om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) en is ook op DStv Stream beskikbaar.

Banana Air

4 November

Passasiers kla oor die lugwaardinne se gedrag. Hester wil Banana Air se ambassadeur wees. Sakkie vertel almal van die pille wat hy in Mumbai gekoop het.

11 November

Brand is in die hospitaal, en Rodney waarsku oor die gebruik van sekere medikasie. Piston het groot planne, en ’n hotel in Mumbai verbied Banana Air se personeel.

18 November

Sakkie is verlief op Koekie, maar sy is onseker oor haar gevoelens. Barbie word aangewys as Banana Air se ambassadeur. Rodney vra Brand se hulp met ’n persoonlike probleem.

25 November

Hester is jaloers op Barbie. Koekie probeer Sakkie terugwen. Meneer Reddy het slegte nuus vir Piston en Sakkie.

Banana Air is Maandae om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) en is ook op DStv Stream beskikbaar.

Op pad met my potjie

4 November

Joalette besoek die hawedorp Walvisbaai waar Salie haar op ’n toer deur sy ou woonbuurt neem. Daarna oes hulle mossels en berei ’n smaaklike seekosbredie voor.

11 November

Op Houmoed wys Rebeka vir Joalette hoe om na bokke om te sien en hoe belangrik naaldwerk in haar kultuur is. Daarna kook hulle ’n liplekker bokpotjie.

18 November

Joalette besoek Rietkuil en verken Rudy en Lawrencia se plaas. Sy versamel vuurhout saam met Rudy, terwyl Lawrencia ’n heerlike skaappotjie met souskluitjies opdis.

25 November

Joalette doen aan op Mupini waar sy en Veikko veldvrugte versamel en visvang in die Okavangorivier. Daarna maak hulle ’n smaaklike talapia-vispotjie met die dag se opbrengs.

Op pad met my potjie is Maandae om 21:30 op kykNET (DStv-kanaal 144) en is ook op DStv Stream beskikbaar.

Wie word ’n miljoenêr?

Die gewilde Wie word ’n miljoenêr? is die eerste keer op 27 Oktober 2021 op kykNET uitgesaai, en intussen het heelwat deelnemers hulle spaarvarkies beduidend vetter gemaak. Die grootste wenners tot dusver was Theunis Strydom in 2022 en Susan Booyens in 2023, wat elk ’n stewige R500 000 gewen het. Francois Brink het in 2022 ’n welkome R250 000 in sy sak gesteek, en daar was al ’n paar R125 000-wenners, onder andere, die mediese student Joshuan du Toit, wat hierdie seisoen dié bedrag gewen het.

Vir die program wat op 6 November uitgesaai word, is ses van die vorige seisoene se topspelers gekry om nie net kykNET se 25ste verjaardag te vier nie, maar ook die 25ste herdenking van Who Wants to Be a Millionaire? se Suid-Afrikaanse weergawe. Jeremy Maggs was die aanbieder, en die eerste reeks is in 1999 uitgesaai. Die deelnemers aan die Wie word ’n miljoenêr?-episode van 6 November speel egter nie vir hulle eie sak nie, maar vir liefdadigheid.

Die finale episode van hierdie seisoen gaan op 27 November uit, en die vraag is natuurlik: Gaan daar ’n groot wenner wees?

Wie word ’n miljoenêr? is Woensdae om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) en is ook op DStv Stream beskikbaar.

Waar daar ’n wil is

1 November

Lee-Ann van Rooi kuier saam met Eddie Andrews, die voormalige Springbokstut en tans die adjunk-burgemeester van Kaapstad.

8 November

Hierdie week gesels Lee-Ann met René Naylor, hooffisioterapeut van die Springbokke, en ons maak ook ’n draai by van die Bokspelers om te hoor wat hulle oor haar te sê het.

15 November

Lee-Ann praat met die skrywer en rolprentresensent Leon van Nierop, en ons besoek sy huis waar Leon hart oopmaak en ons sy lewensmaat ontmoet.

22 November

Francois van Coke is Lee-Ann se gas, en hy praat oor sy wilde dae, familie en die skryf van sy outobiografie, Hoe ek dit onthou.

29 November

Lee-Ann gesels met die voormalige vuurvreter-regter Anna-Marie de Vos en kuier saam met haar en haar lewensmaat op hulle plaas.

Waar daar ’n wil is begin op 4 Oktober om 18:30 op kykNET (DStv-kanaal 144). Dit sal ook op DStv Stream beskikbaar wees.

Oppi Kassie

Twee splinternuwe episodes van die dokumentêre reeks Oppi Kassie word in November uitgesaai. In episode 14, op 7 November om 21:30, word daar gekyk na die sukses van realiteitsreekse soos Boer soek ’n vrou, Die brug, Op my eish!, al die weergawes van Kokkedoor en die Housewives-reekse. Episode 15, op 14 November om 21:30, kyk terug na die afgelope tyd se dramareekse, komedies en telenovelas.

Oppi Kassie se twee nuwe episodes is op 7 en 14 November om 21:30 op kykNET (DStv-kanaal 144) en sal ook op DStv Stream beskikbaar wees.

Trompoppie

Trompoppie, ’n sielkundige riller met Etienne Fourie as skrywer en regisseur, het in Desember 2023 sy buiging op Showmax gemaak en dadelik kykers laat naels kou. Die goeie nuus is dat dié reeks in November op kykNET begin.

Trompoppie is vir twee Silwerskermtoekennings benoem – een vir Melissa Myburgh as Beste aktrise in ’n drama, en een vir Marion Holm as Beste vroulike byspeler in ’n drama. Etienne is vir ’n Safta-toekenning vir sy draaiboek benoem.

Melissa speel Luna, Marion is Jill, en die jong Luca Human is Elke. Ook in die sterbelaaide rolverdeling is Cantona James, Daneel van der Walt, Frank Opperman, Celeste Loots, Armand Aucamp, Jane de Wet, Joanie Combrink en Albert Maritz.

3 November

Luna, ’n talentvolle gimnas van die verkeerde kant van die spoorlyn, word ’n beurs aan ’n gesogte privaatskool toegeken. Om deel te word van ’n elite-groep trompoppies neem sy aan ’n ontgroeningsritueel deel wat tragies verkeerd loop.

10 November

Die trompoppies begin swaar dra aan hulle verskriklike geheim. Wie gaan eerste knak?

17 November

Met ’n moordenaar op vrye voet is niemand veilig nie. Almal is ’n verdagte. Is Luna volgende? Tomas, die polisie se hoofverdagte, begin sukkel om die druk van die publiek se veroordeling te verwerk.

 24 November

Luna ontvang ’n ontstellende dreigement. Is sy volgende? Die trompoppies moet ’n nuwe roetine uitwerk en word gedwing om weer saam te werk.

Trompoppie begin op 3 November om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144). Dit sal ook op DStv Stream beskikbaar wees.

Sepies

Binnelanders

Weeksdae om 19:30 op kykNET

Henry kyk met nuwe oë na Ella wanneer sy ’n moeilike diagnose in Ongevalle maak, en die waarheid oor ’n leuen wat Max vyftien jaar lank saam met hom gedra het, word uiteindelik onthul. LJ besef hy is verlief op Thalia, maar is bang hy staan nie ’n kat se kans nie.

Uys neem sake in eie hande en konfronteer Nicolette se broer ná ’n moeilike begrafnis. Yvonne neem ’n radikale besluit oor Max. Delia is nié gelukkig wanneer Riekie in Binneland opgeneem word nie, al is Henry in ’n toestand oor sy dogter se diagnose. Bets daag onverwags by Conrad se huis op met heelwat nuwe planne, en Ella beland in die linnekamer – saam met iemand wat haar koue rillings gee.

Suidooster

Weeksdae om 18:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) en 18:30 op kykNET&kie (DStv-kanaal 145)

Kate probeer die ongehoorsame huurders onder beheer kry en hoor Chris gaan die huis verkoop. Met Zoe se hulp kan Kate die huis koop, en sy maak intussen ook die reëls vir die huurders strenger. Die gort is gaar, want Gary, Aiden, Angie en Justin gaan nie net terugsit nie. Lee-Ann sukkel met erge trauma ná haar kaping en besluit om saam met Debbie wraak te neem op haar aanvallers. Maar gaan dit haar wonde heel?

Mo ontwikkel ongesonde gevoelens vir Siya en intussen daag haar broer Jacques ook in Ruiterbosch op. Kaashifa se droom om ’n fynproewerrestaurant oop te maak, veroorsaak konflik in die Samsodien-gesin. Kaashifa is woedend wanneer Rhafiek besluit om die restaurant se bestuur heeltemal aan Nazeem oor te gee. 

Diepe waters

Maandae tot Donderdae om 18:30 op kykNET (DStv-kanaal 144)

November bring groot drama en kinkels wat kykers op die punte van hul sitplekke gaan hou. Konflikte tussen geliefdes, ’n belangrike besoek aan Lettie se kêffie, en ’n moordsaak wat ’n verdagte aan die lig bring, maak die eerste week vol spanning. Terselfdertyd probeer ’n geliefde karakter om ’n kritieke deurbraak te maak, maar sal dit betyds wees?

In die tweede week neem die hofdrama toe, met opwindende getuienis en onthullings wat alles in die weegskaal plaas. Nuwe verhoudings begin vorm, terwyl ander dalk op breekpunt staan. Namate die maand vorder, groei die spanning in die swemspan – veral tydens die Swart Marlyne-gala. Tragedies en onverwagte gebeure lê op die horison, en ou vriendskappe kan dalk in die slag bly.

kykNET&kie

Skemergrond

Maandae tot Donderdae om 19:30 op kykNET&kie (DStv-kanaal 145)

Patty se grootste vrees word ’n werklikheid wanneer sy haar verbeel sy sien vir Blaartjie Williams, die man wat haar suster vermoor het. Sy kry ook vreemde geskenke wat haar vermoede versterk. Hy is veronderstel om nog in die tronk te wees. Hoe is dit moontlik dat hy in Gemoedsdrif rondloop? Intussen spring Ruan vinnig in om Patty teen Blaartjie te beskerm.

Ronnie en Hazel se huweliksprobleme raak al hoe erger, soveel so dat arme Junior bekommerd raak oor sy ouers se huwelik. Terwyl Hazel haar ontferm oor Junior, gee Ronnie al hoe meer aandag aan Christine, en sy geniet dit terdeë om te sien hoe Hazel en Ronnie se huwelik verbrokkel. Tyler probeer haar keer, maar sy duiwel voort. Christine kry ’n handlanger om die lorries op Everlasting te saboteur. Dit plaas die Louws in ’n verknorsing, en hulle enigste uitweg mag dalk wees om Christine se hulp te aanvaar.

Namibiese-speelfilms op kykNET&kie

Twee films, wat deel is van MultiChoice Namibië se Ombura-projek, is in November op kykNET&kie (DStv-kanaal 145) te sien.

Die rooftog

Komedie

Sondag 3 November om 20:00

Regisseur: Hildegard Titus

Met: Roger Nino, Edo Dice Lutete, Tjiurimo Kandjii, Amy-Leigh Hammond, Joyce Sydne Tjizu, Abigail Goliath, Oscar Shilongo en Mark Kariahuua

Ernest, ’n hardwerkende jong man, sukkel finansieel, maar dan daag sy neef Sly in die dorp op met ’n plan om al hulle probleme op te los – hy wil luukse salonne in Windhoek beroof. Sal hulle daarmee wegkom?

Lubinda

Aksie

Sondag 10 November om 20:00

Regisseur: Leon Mubiana

Met: Fareed Du Toit, Harmony Ahalwa, Llewellyn Muenjo, Nguundja Kandjii, Filna Nalisa en Johan Engelbrecht

Nadat hy ’n lewe van misdaad verlaat het, keer Lubinda terug na die onderwêreld om sy rebelse dogter uit die kake van ’n wraaksugtige verlede te red.

Skakel Sondagaand 3 en 10 November om 20:00 in op kykNET&kie (DStv-kanaal 145) vir twee splinternuwe speelfilms.

 

Bly ingeskakel op die kykNET-kanale vir die beste in wêreldklas Afrikaanse vermaak. Gesels saam op Facebook, X, Instagram en TikTok