Foto: ’n Oomblik vanuit Die Spreeus episode agt
deur Tertius Kapp
Ek het nie Spies en Plessie gekyk vir die boeremusiek nie. Jan Spies en PG du Plessis kon net sit en praat (en as jy kyk na hulle wange, darem tussendeur aan so ’n ietsie teug ook) en die mense het bly kyk. Hulle was eintlik TV-persoonlikhede uit ’n era voor TV – toe die oom of tannie wat die beste storie kon vertel ’n celeb was reg deur die kontrei.
PG het natuurlik baie meer geskryf as Spies – Fees van die Ongenooides, Koöperasiestories, Siener in die Suburbs, ensovoorts. Ek het na die laaste twee verwys in hierdie episode. In Siener is dit arme Tjokkie wat vir sy alkoholis-stiefpa moet “sien” watter perdjie gaan wen. Uit Koöperasiestories is “Soontjie” die beste voorbeeld van tragiese ironie wat ek ken.
Die idee om te kan “sien” is al lank deel van Afrikaanse kultuur. Dink maar aan Siener van Rensburg, of Johanna Brandt. Dan is daar die stukkie wat Beatrice vertel oor kwantumfisika en “retro-causality”. Dit is nie opgemaak nie – daar is wetenskaplikes wat dit ernstig opneem.
LEES OOK: ‘KUL JOU HIER’
Maar daaroor kan lesers self gaan Google (sterkte!). Ek wil eerder praat oor PG.
Ek het hom die eerste keer ontmoet op skool, by ’n Afrikaansweek in Pretoria. Hy’t opgedaag, jollie patrollie, en wou by die organiseerders hoor wat ons gaan doen.
Ongemaklike stilte – het hy dan niks voorberei nie?
Nee, sê hy. Moet ’n misverstand wees. Hy het nie ’n lesing of ’n praatjie of ’n ding nie.
Oeps. Daar sit ’n honderd van ons en wag.
Kan hy nie maar ’n storie vertel nie, vra PG.
Nou maar toe. Hy vertel ons van Soon Pieterse en sy ses kinders, waarvan vyf met oop bekke geloop het. Een van hulle, Soontjie, so ses of sewe, het een Sondag vir oom Bertus kom groet na kerk. Minute later slaan Bertus dood neer.
Toe was dit tante Van Wyk – selfde storie. En ou Davids ook. Die dorp begin praat van wiggelary en towerkuns en die doodsengel en die magte van die duisternis. Genis en die manne gaan vertel vir Soon hy beter dié kind wegstuur.
Soontjie staan en luister in die deur.
“Hulle wil my nie hier hê nie, Pa.” En daar groet hy hulle, in die ry af: “Totsiens, oom… totsiens, oom… totsiens, oom”.
Die doodsvrees pak hulle beet – hulle skryf testamente en hou ’n nagwaak. Toe die son opkom, stap hulle uit.
En kry vir Soontjie in die watertenk. Morsdood.
KYK OOK: ‘NIE GEWONE KRINMINELE’
Veldsman sê dalk is dommigheid net ’n ander manier van kyk.
PG laat die ontknoping uitrek. Die saal is doodstil. En toe ontplof hy!
“VERTEL VIR MY ’N BETER DONNERSE STORIE AS DIT!!!” bulder hy (baie soos Gladiator jare later: “Are you not entertained?!”)
Stel jou voor, dag ek, om dit te kan doen, met woorde en jou verbeelding. PG kon nie weet dat ek net daar ’n pad gekies het nie.
Amper twintig jaar later het ek hom by die Fiëstas die storie vertel. Hy was al oud, en moeg. Hy het teruggesit en met ’n droë glimlag opgemerk: “So… Nou het ek ook my profeet.”
Paaseier vir die week: Die perderesies-kommentaar aan die begin van die episode is woord vir woord uit Siener in die Suburbs.
Gebruik die hutsmerk #DieSpreeus op Facebook, Twitter en Instagram. Kliek hier vir meer inligting.