web uni tv guide
web uni tv guide

Een Keer Om Die Son

144Drama13 V

kykNET in samewerking met Ivan en Donnalee kondig aan tweede seisoen vir trefferdrama, "Een keer om die son"

Nuus
10 September 2024
Wat kan kykers van die tweede seisoen verwag?
Een keer om die son S2

Reeds van die eerste episode van die dramareeks Een keer om die son, het kykers laat weet: Hierdie is ’n wenner! Die reeks, met Ivan Botha en Donnalee Roberts aan stuur van sake, het vir twaalf episodes die lief en leed van die Van Wyk-familie gevolg. Daar was vreugde en trane, woede en struweling, geheime en eerlikheid. In kort was dit ’n realistiese blik op die lewe van ’n familie wat reeds in die eerste episode traumatiese hartseer beleef.

Ronél van der Merwe het op kykNET se Facebook-blad geskryf: “Elke episode is net beter as die vorige een.” Atoofah Fredericks stem saam. “Sjoe, maar dis ’n mooi storie. Goeie akteurs en aktrises. Welgedaan aan die skrywers. Julle verdien ’n Oscar!” Anna Havenga sê sy is sonder woorde. “Soveel hartseer, lag, ware lewensdrama. Die trane het weer geloop. Die beste reeks. Welgedaan aan die skrywers en elke speler. Puik reeks!”

“Ek dink dit is ’n kombinasie van dinge wat bymekaar gekom het, maar ek dink nie ons het besef hoe honger kykers was vir die temas – angs, depressie, selfdood, familie, lief, leed – wat gesprekke oopmaak nie,” sê Ivan oor hoekom die reeks so met mense gepraat het. “Ons is dankbaar dat ons instrumente in hierdie proses was.”

“Mense kan hulself in hierdie situasies sien,” sê Donnalee. “Almal van ons het al iemand verloor en deur pyn en verlies gegaan. In Suid-Afrika word sekere dinge net onder die mat gevee en toe ons begin skryf het, was dit vir ons belangrik om dit aan te spreek. Jou familie is die plek waar jy veronderstel is om die veiligste te voel, maar soms is dit juis die plek waar jy nie veilig voel nie omdat hulle nie die mense naaste aan hulle wil teleurstel nie. Een van my gunsteling-terugvoering wat ons gehad het, was iemand wat gesê het Een keer om die son gee haar die reg om een keer ’n week te huil. Dan huil sy sommer oor alles! Dit het dus soveel heling vir mense gebring.”

Wat was die reaksie van kykers wat julle die meeste waardeer het?

“Ons staan in totale dankbaarheid dat mense nie net gekyk het nie, maar saam gevoel het,” sê Donnalee. “Honderde boodskappe van oral. Ek was selfs in ’n ry in Woolworths waar ’n vrou met my begin praat het en toe ek weer sien praat die hele ry saam oor waarmee hulle kon vereenselwig en waaroor hulle gelag en gehuil het. Die reeks het werklik gesprekke oopgemaak.”

Hoewel Ivan en Donnalee reuse-sukses behaal het met speelfilms soos Pad na jou hart en Vir altyd, was hierdie die eerste TV-reeks wat hulle aangepak het.

“Ek dink ons het ’n uur nodig om te sê wat ons alles geleer het,” sê Ivan en lag. “Maar ek sal met ’n volgende reeks die drie maande van verfilming meer geniet. Dit gaan so vinnig verby.”

Donnalee is vol lof vir Ivan as regisseur. “Ek sê dit nie omdat hy my man, my beste vriend en my vennoot is nie, maar hy is ’n ongelooflike regisseur. Hy het almal op stel so gewaardeerd laat voel en dit reggekry om onder soveel druk almal kreatiewe vryheid te gee.”

Wat kan kykers van die tweede seisoen verwag?

“Ek is selfs meer opgewonde oor die tweede seisoen as die eerste,” sê Ivan. “Ek dink daar is soveel lewens ervarings waardeur jy die karakters kan laat gaan. By my kom die woorde tweede kanse op, maar ook ou wonde en ou gewoontes waarin mense verval. Daar is ’n paar nuwe karakters, maar natuurlik ook die karakters wat kykers in die eerste seisoen leer ken het. Ons werk hard as ’n span om weer vir kykers alles te gee wat hulle uit die eerste seisoen gekry het.”

Die beoogde uitsaaidatum van die tweede seisoen van Een keer om die son is in 2026. Hou kykNET dop vir meer inligting.