Logo
Plaasjapie

In retrospek – Plaasjapie

Nuus
16 Julie 2024
Van dié jaar se plaasjapies vertel ons wat hulle geleer het op die plaas en wat hulle moontlik anders sou doen as hulle weer dié reis kon aanpak!
Plaasjapie

Michelle de Waal

Wat het jy geleer uit dié ervaring?


Ek het geleer dat ’n mens nie sommer ’n boek moet judge op sy cover nie. Ek het ook geleer dat ’n mens mense beter moet lees.

Ek het ook geleer dat ek nie myself so moet onderskat nie, die feit dat ek steeds in die game was sê tog iets van myself. Ek dink ek het die game besonders goed gespeel.

Wat sou jy anders doen as jy weer Plaasjapie kon aanpak?

Ek sal verseker minder ernstig wou wees en meer die ware Michelle wou uitbeeld. Ek is nie altyd so ernstig nie, ek is verseker ’n grapjas vol energie.

Ek dink nie daar is iets wat ek sou wou verander nie.  Alles het uitgewerk soos dit moes.



Danielle Reinecke

Wat het jy geleer uit dié ervaring?


Dat ek moet my mond eerder hou voor ek iets se en elkeen verdien ’n kans. Hê genade met mense se foute want dis ons almal se eerste keer wat ons lewe.

Wat sou jy anders doen as jy weer Plaasjapie kon aanpak?

Ek sou my mond stilhou en net hard gewerk het. Moes meer werk en minder skinder, lol.



Etienne de Villiers

Wat het jy geleer uit dié ervaring?


Ek het geleer dat ek ’n baie sterk speler is met baie krag en definitief ’n fisiese bedreiging is en nie net ’n sosiale bedreiging is nie. Ek het verseker geleer dat mens nie sommer kan vertrou nie maar dat jy wel op een of ander stadium moet vertrou of dit gaan nie vir jou uitwerk nie. Ek het geleer dat ek tot so baie in staat is en wel ’n huisie met sewe ander spelers kan deel al is dit nie gemaklik nie maar ’n mens is so aanpasbaar en na een aand toe is ek als gewoond. Ek het geleer dat my eie limiete baie ver gedruk kan word, of dit nou met uithou en aanhou is en of dit net met die spel se sosiale aspek is, ek het my deursettingsvermoë getoets en bewys dat ek wel nooit sal opgee nie.

’n Nuwe les vir myself is dat ek baie, baie hou van wen en dat dit altyd vir enigiemand die beste gevoel is. Plaasjapie was een van die heel beste ervarings wat ek al ooit gehad het en ek kyk deesdae met nuwe oë na mense in realiteit-reekse en oordeel glad nie meer so maklik soos wat ek altyd het nie, want nou verstaan ek als beter. Die ervaring het my meer oopgemaak vir spanwerk en saamwerk en tot ’n besef laat kom dat alles op die ou einde baie moeiliker is alleen as om net mooi saam te werk en goed te kommunikeer. Soos genoem die ervaring was fantasties en ’n absolute fees en met als wat ek ondervind het en van myself geleer het dat ek so iets enige tyd weer sal doen. Die dae wat mens het en eintlik besef jy is alleen het my so baie perspektief gegee want ja jy’s in ’n span maar niemand ken niemand nie en ek waardeer nou my alleentyd soveel meer want dis wanneer ek die beste perspektief het aangaande alle daagse uitdagings. Ek was nog altyd ’n groep mens en beweeg tussen mense maar tyd staan vir niemand stil nie en die ervaring het dit duidelik gemaak aan my om partykeer terug te staan en net in te neem wat om my aangaan.

’n Groot les was ook om nie dadelik soos wat ek gewoonlik sal doen leiding te neem nie maar bietjie meer terug getrokke voor te kom en net te se wat jy regtig dink die oomblik as niemand anders ’n oplossing het nie.



Wat sou jy anders doen as jy weer Plaasjapie kon aanpak?

Daar is so baie wat ek anders sal doen, ek weet nie eers waar om te begin nie. Ek sal begin deur te se ek sal nog laer lê en minder leiding neem, ek sal makliker saam met die span stem en minder ’n stem probeer hê, net om myself ’n bietjie te kamoefleer. Ek het geweet toe ek inskryf dat ek gaan moet leer om nie altyd leiding te neem nie en dit was al klaar moeilik veral omdat ek my span tot ’n wen gelei het met die heel eerste uitdaging waar ek die roeper was.

Ek sal meer probeer glo en my paranoia bietjie op sy skuif. Ek sal harder werk om die mense wat ek regtig nie vertrou nie oor te wen dat al stem ek vir hulle ek weet hulle nie noodwendig vir my sal terug stem om huis toe te gaan nie. Ek sal ver weg bly van mense wat skarrel en besluiteloos is en hulle nie probeer oortuig oor wat gaan gebeur nie en dat hulle eerder hulself hang as wat hulle my onder die bus ingooi vorentoe.

Moet geen persoonlike vendettas hou nie en maak seker jy’s bereid om saam enigiemand op enige tyd te werk al was dit nie voorheen deel van jou alliansie nie. Die dinge na die program waaraan mens als dink sal mens mal maak want mens stap daar weg deur te sê ek moes dit of ek moes dat, so dis eindeloos, maar dit is ’n spel en omdat die kyker als sien, maar ons hoor en sien net wat met ons daar gebeur, maak dit waarlik ’n baie interessante gebeurtenis in enige speler se lewe.

My grootste berou was toe ek op my eerste koöperasie-besoek my pekel pennie gemors het en ek voel as ek hom net nog een koöperasie-kuier gehad het was dit ’n totale ander spel gewees. Maar ja, soos enigeen wat nie gewen het nie is daar ’n miljoen goed wat ek anders sou doen. So ek hoop regtig ek maak dit weer tot op plaasjapie vorentoe of ’n soortgelyke program dat ek dit wat ek nou genoem het wel kan toepas want dit was een besonderse ervaring.



Riaan Snyder

Wat het jy geleer uit dié ervaring?


Ek het ‘n baie sterker mens weg gestap, sielkundig myself verryk met vars en nuwe uitsigte uit die objektiewe perspektief van my spanmaats om sodoende as mens te verbeter. Dan is daar ook die liefde wat ek weer leer koester het vir mense, vreemdelinge waarin ek my vertroue kon werp en uit my dop uit te klim. Die grootste bate by verre is dat ek geleer het om myself te wees en steeds my man te kan staan sonder die vrees om dalk iemand anders te vertrap nie. Mens is geregtig om vertroue te hê in jouself, jou waarde, jou opinie en die bydrae wat jy tot jou span kan maak.

Wat sou jy anders doen as jy weer Plaasjapie kon aanpak?

Ek sou baie keuses anders maak, of so glo ek, uit die gemak van my voorstoep kombuis. Maar weereens dit is die gemak wat die illusie skep en jou donkerste self versteek in situasies waar jy nog beheer het en gemak ken. Dit is juis die situasies waar gemak verwyder word en jy spreekwoordelik vir die leeus gegooi word, wat jou ware self onthul word. Lank en kort, my gedagtes spreek nou van keuses anders maak, maar ek weet dit wie ek was op die plaas, is my werklike opregte self.



Zanie van Rensburg

Wat het jy geleer uit dié ervaring?


Eerstens dat mens nooit te oud is om iets nuuts te leer nie. Tweedens dat mens altyd ’n plan B, C en D moet hê as jy sien plan A gaan verseker nie werk nie. Derdens dat jy ’n goed ontwikkelde skillset leer, wat baie vinnig moet inskop, om met mense wat anders dink en operate as jy oor die weg te kom en verhouding te bou met hulle.

Dan het ek geleer dat eerste bondgenootskappe die sterkstes is. As jy nie het nie is jy in die moeilikheid. Laastens is dit nie te sê as mense jou kan vertrou hulle noodwendig gaan nie en ek sal nie so verward wees as hulle nie doen nie. That’s life.

Wat sou jy anders doen as jy weer Plaasjapie kon aanpak?

Sal verseker harder werk aan sterker begin-bondgenootskappe en dan sal ek nie aanneem dat fiksheid en om swaar goed te kan optel my balans noodwendig verbeter nie.

Ek sal verseker vir ’n klein dramakursus gaan en ’n paar balans-oefeninge doen voor volgende keer!



Milandie Grimbeek

Wat het jy geleer uit dié ervaring?


Ek het geleer ek is tot soveel meer in staat as wat ek dink. Ek het weer selfvertroue in myself ontdek en sien nou vir baie dinge kans. Ek het geleer dat ’n mens soveel mooier kan sien en hoor sonder die geraas van die wêreld en tegnologie. Dis baie belangrik om rustiger te raak en regtig te kyk en hoor.



Wat sou jy anders doen as jy weer Plaasjapie kon aanpak?

In die oomblik sou ek niks wou anders doen nie, want ek voel alles het gebeur soos dit moes sodat ek die lesse kon leer wat ek moes leer.

As ek vandag terug kyk sou ek baie dinge wou anders doen, maar dit sal my geheim bly. Wie weet, dalk kry ek weer vorentoe iewers ’n kans so ek kan nie nou al my geheime verklap nie.



Liovian Anderson

Wat het jy geleer uit dié ervaring?


Vanuit my Plaasjapie-ervaring het ek geleer dat ek in staat is om meer te doen en myself verder te stoot as my eie en ander mense se grense. Dat ek nooit moet toelaat dat ek beperk word deur ander mense se denke nie en dat ek altyd meer groter kan droom, groter moet vra en groter moet glo.

’n Groot skok vir my was toe twee mense in my alliansie agter my rug vir my gestem het, en al het ons steeds 'n goeie vriendskap ná ons plaas-ervaring, het dit baie van die realiteit van die lewe vir my uitgebeeld: Hoe mense soms meedoënloos kan wees en nie omgee om agter jou rug jou as 'n trappie te gebruik om in die lewensspel vooruit te kom nie. Mense sal jou altyd wys wie hulle is, glo hulle die eerste keer en vertrou altyd jou instinkte oor 'n situasie.

Ek het geleer dat ek definitief onderskat word weens my grootte en die gesegde dat dinamiet in klein pakkies kom, het ware betekenis, want ek het ver gekom in die seisoen van Plaasjapie, iets waarop ek uiters trots is.

Ek besef dat elkeen van ons ’n unieke storie het wat anders is, elkeen se pad is anders en dat jy elke hoofstuk met ope arms moet verwelkom, omhels en vreesloos aanpak. Bly altyd getrou aan jouself en weet dat wat vir jou bestem is, jou nooit sal verbygaan nie.

Wat sou jy anders doen as jy weer Plaasjapie kon aanpak?

Wat ek anders sal doen as ek ooit weer die geleentheid het is om die spel meer strategies van dag 1 af te speel en baie meer werk in die fisiese uitdagings op die werf en arena te sit. Ek sal beslis myself druk en meer motiveer want ek het die vermoë om berge te versit.



Pieter Gouws

Wat het jy geleer uit dié ervaring?

  1. Lei van agter af in die begin, moet nie te vinnig leiding probeer neem nie. 
  2. Vind die mense wat soortgelyk is as jy en vorm 'n sterk groep met hulle. 
  3. Maak dan dit so aanloklik om deel van die groep te wees dat jy ander mense aantrek en sodoende altyd die meerderheid het. 
  4. Wees gereed om alles te doen want in die ergste geval gaan jy.
  5. Koeie is bliksems.


Wat sou jy anders doen as jy weer Plaasjapie kon aanpak?

  1. Seker maak ons stem nie van ons sterker spelers in die eerste rondtes uit nie.
  2. Sou ek my pekel-pennie gespeel het.
  3. Bid op alles in die veiling.
  4. Kommunikeer tussen scenes want die hel weet ander mense het.


Liezle Wiese

Wat het jy geleer uit dié ervaring?


Ek het geleer dat ek baie meer emosioneel is as wat ek gedink het. Ek werk daaraan om dinge nie so persoonlik meer te vat nie. Laat dit gaan... Ek het ook geleer dat ek nie moet toelaat dat mense my manipuleer in my besluite nie. My instink is altyd reg. Luister vir daai innerlike stem. Dit het my ’n miljoen rand gekos.

Wat sou jy anders doen as jy weer Plaasjapie kon aanpak?

Ek sou beslis strategies harder gespeel het. Ek het toegelaat dat my emosies die oorhand kry. Maar nou ja, you live and learn...



Blue Kester

Wat het jy geleer uit dié ervaring?


Ek het baie van myself en van my medemens geleer. Eerstens, dat ek tot baie in staat is as ek net glo in myself en nooit opgee nie. Tweedens, dat daar mense in die wêreld is wat regtig die beste vir jou wil hê en dit opreg bedoel wanneer hulle jou voorspoed toewens. Ek stap regtig weg as ’n beter mens en is so bly dat ek weer met nuwe oë na die lewe kan kyk.

Wat sou jy anders doen as jy weer Plaasjapie kon aanpak?

Ek glo nie daar is baie wat ek sal verander aan my spel nie. As ek iets moet verander sal dit seker net wees om planne deeglik te beplan en deur te dink en seker te maak dat ek aan al die moontlike uitkomste dink, maar anders as dit is ek tevrede met hoe ek die spel gespeel het want dit het my tot aan die einde gevat.



Stroom nóú alle episodes van #Plaasjapie seisoen 2 op DStv Stream!