web uni tv guide
web uni tv guide

Skemergrond

145TelenovelaPG13

Hildegardt Whites ná aangrypende toneel in 'Skemergrond': ‘My hart breek vir Lily’

Nuus
25 Oktober 2024
Vir maande wou kykers weet watter geheim Lily Louw (Hildegardt Whites) vir almal wegsteek – en Woensdagaand het sy dit per ongeluk verklap in ’n emosionele toneel met Erica Pienaar (Shimmy Isaacs) in kykNET&kie se telenovela 'Skemergrond'.
Skemergrond

Lily het sonder om ’n woord te rep op 16-jarige ouderdom Everlasting-plaas verlaat en in die jare sedertdien het haar familie en vriende gewonder hoekom sy net verdwyn het. 

Toe Lily weer ná 17 jaar op Gemoedsdrif opdaag met haar dogter, Amber (Talia Davis), was dit duidelik dat sy ’n groot geheim wegsteek. 

Amber het vinnig bevriend geraak met Erica se seun, Louis (William Adams), maar Lily was uit die staanspoor ongelukkig daaroor en het Amber verbied om met Louis te praat. Sy het gewaarsku hulle twee sal weer Suid-Afrika moet verlaat indien sy nie wil luister nie. 

Amber het dit moeilik gevind om hierdie belofte te hou sonder enige verduideliking. En daar betrap Lily gisteraand die twee tieners saam en storm dadelik in ’n emosionele toestand oor na Erica se huis om te eis dat Louis van Amber wegbly. 

Erica kon nie verstaan hoekom Lily so woedend is nie, en toe bars die bom: Erica se pa, Abel, is Amber se biologiese pa. Abel het Lily verkrag op 16-jarige ouderdom.

“Ek was baie senuweeagtig om hierdie toneel te skiet omdat ek geweet het dis die een oomblik wat Lily het om haar waarheid te deel. Dit was emosioneel. Dit was rof. Ek sal dit nooit vergeet nie. My hele lyf het gebewe. As ’n akteur het ek dit geniet, maar dis ’n moeilike storie om te vertel, en ek dink as Lily voel, voel sy baie. Ek dink nie sy het ooit enigeen toegelaat om oor haar verlede te praat nie. Haar mond het net opgegaan, en die waarheid het uitgekom. Ek kry sommer nou weer koue rillings!” sê Hildegardt. 

Volgens Hildegardt was die atmosfeer anders op stel tydens die verfilming van dié toneel. “Ek kan net onthou die vloer was doodstil. Toe hulle sê hulle is gelukkig met die toneel, het dit net so in die lug gehang. Niemand het gepraat nie – dit was intens.”

Hildegardt was geskok toe sy vir die eerste keer die teks lees. “My eerste reaksie as aktrise was: ‘Sjoe, hectic!’ Maar wat ’n wonderlike speelgeleentheid. En as mens het my hart gebreek vir Lily. Toe ek deur die draaiboek gaan, kon ek Lily se seer sien en voel.”
 
Sy hoop dat die kykers nou meer begrip met Lily sal hê. “Sy is vol dinge, maar as jy haar storie hoor, verduidelik dit hoekom sy is soos sy is. Om te dink, sy was ’n 16-jarige meisie toe sy die plaas verlaat het. Sy het die verkragter se kind gedra en moes daai babatjie grootmaak terwyl sy elke dag daai man se gesig sien. Dis baie rof. Ek raak sommer weer tranerig, want die storie het my so geraak. Maar sy is onvoorwaardelik lief vir haar kind, en sy moes die lewe embrace.”

  • Skemergrond is elke Maandag tot Donderdag om 19:30 op kykNET&kie (DStv-kanaal 145). Dis ook beskikbaar op DStv Stream en Catch Up.