Waar kom jy vandaan en hoe het jou pad na ’n dramagraad geloop?
Ek kom oorspronklik van Oudtshoorn af, maar bly nou al vir die afgelope ses jaar meestal in die Kaap. Ek sê meestal omdat ek absoluut mal is oor reis en enige geleentheid wat ek kan kry om nuwe plekke te gaan explore, aangryp.
Ek is so dankbaar vir my loopbaan as akteur, omdat dit my al regoor die land gestuur het en onlangs ook oorsee waar ek in Suid-Korea regisseur van ’n musical was. Ek wens ek kon vertel dat my liefde vir drama by ’n David Minaar one-man show by KKNK begin het, maar om eerlik te wees was my droom, soos talle seuntjies daar buite, om ’n superhero te wees. En sewejarige Wynand was slim genoeg om te weet dat die enigste manier hoe hy dit sou kon regkry, was om ’n akteur te word. So ’n mens kan sê my liefde vir drama het in 2001 begin, in die ou Ster-Kinekor op Oudtshoorn, toe my oë vasgenaal was op Toby McGuire se Spiderman soos hy tussen deur die geboue swaai.
Ongelukkig het ek daardie passie later in my tienerjare verskriklik onderdruk. As tiener was ek te bang om ’n karakter voor die skool op die plankte te bring, want ek het vas geglo dat ek my naam met een van daardie planke sou plat slaan. My passie vir optrede het ek toe eerder as danser uitgeleef. My hiphop-vertonings by die skool was hand-in-hand met die vrystelling van 2008 se Step Up 2, en dit het my iewat van ’n mascot onder die Gimmies gemaak. Ek het toe genoeg selfvertroue opgebou om na juffrou Analise Swart se woorde te luister toe sy vir my sê dat ek die talent het om drama te swot en ’n akteur te word.
In die vroeë 2000’s het ek besluit om drama te studeer ’n negatiewe stigma in kleiner konserwatiewe dorpies gehad. Mense het gedink jy is verfynd en dat jy arm gaan wees omdat dit nie ’n regte werk is nie. Ek het gevoel dat ek vriende, familie, onderwysers en die res van die dorp (want in klein dorpies kan jy nie poep sonder dat almal die volgende dag daarvan weet nie) sou moes oorreed dat dit ’n beter opsie as siviele ingenieurswese sou wees.
Om my familie te oorreed dat ek die volgene jaar kon gaan drama swot, het ek ingeskryf vir ’n dramakompetisie waarin die wenner ’n klein rol in die eerste Klein Karoo film sou wen. Ek het in die laaste rondte uitgeval, maar hard genoeg gesmeek om steeds ’n waiter te kon speel. My hele familie het my drie sekondes van roem kom ondersteun op stel en weens ’n tekort aan ekstras, was hulle toe ook in die toneel betrek. Hulle het op die ou end meer screen time as ek gekry. Was dit regverdig? Nee. Maar dit het my saak vir ’n dramagraad sterk genoeg gemaak sodat ek en my ma, ná ’n lang gesprek oor my toekoms, saamgestem het op ’n gap jaar. Een gap jaar en ondervinding as ’n cheetah- en tierhanteerder by Cango-Wildlife Ranch later, was my hart steeds op die verhoog en was ek oppad UCT toe om Theatre & Performance te swot per voorstel van die akteur en vervaardiger Tim Theron.
Wie sou jy sê het die grootste invloed op jou loopbaan gehad?
Ek het baie akteurs en vriende wat my deur die jare met klein brokkies inligting geseën het en wat uiteindelik my loopbaan met groot skuiwe vorentoe gestoot het. Vir hulle is ek ewig dankbaar. Twee noemenswaardiges is my agent, Suzaan Boje, en my mentor op universiteit, Amy Jeptha, wat albei baie deure vir my oopgemaak het. Maar behalwe hulle, sou ek sê die grootste invloed kom van myself en my geloof. Ek weet dit klink hiper cheesy, maar tot dusver identifiseer ek steeds baie met Snoop Dogg se Hollywood Walk of Fame aanvaardigingstoespraak waar hy gesê het: “Firstly, I want to thank me, for putting in the work”.
Ek het nog altyd meer nay-sayers as ondersteuners gehad wat verstaanbaar is in ’n beroep soos hierdie en waaroor ek eintlik bly was. Dit het my toewyding aan my groei as akteur en kunstenaar, persoonlik en in die industrie, van jongdae af getoets en versterk. Ek het nooit gedruk gevoel om te slaag in die industrie vir iemand anders se goedkeuring nie, en gevolglik was elke mislukking tot dusver, soos Edison sou sê “just another way how not to do it”. Ek is nog ver van waar ek wil wees en ek moet nog groei, maar so ver voel ek dankbaar vir die geleenthede wat ek tot dusver kon kry en wat ek in my passie belê kon het.
Wat was jou reaksie toe jy gehoor het jy het die rol van Doons gekry?
Ek was ongelooflik dankbaar. Enige persoon in ons industrie sal vir jou sê dat om ’n werkende kunstenaar te wees, ’n voorreg en ’n seën op sigself is. Werkloosheid in die algemeen in ons land is ’n groot kwessie op die oomblik, so om werk te as ’n kunstenaar te kry voel amper soos ’n luuksheid. Ek het ’n rol in Dinge van ’n kind wat verlede jaar uitgekom het gespeel en het so lekker saam met die regisseur Zandré Coetzer gewerk, dat sy my weer teruggebring het om lewe aan ou Doonsie te gee.
Hoe is die karakter geskep? Het jy iemand as invloed gebruik?
Ek probeer altyd ’n karakter halfpad ontmoet. Ek glo sterk dat ons almal meer eenders as anders is, en dus probeer ek altyd eerste uit te vind wie die karakter is en hoe ons eenders is. Van daar af kan ek ‘Wynand’ afskaal tot ek gemakliker in die karakter se skoene kan glip. Met Doonsie was dit anders. Omdat Zandré ’n deel van my in Doons gesien het, het ek eerder van myself af begin werk om wat sy gesien het meer na vore te bring. Die res was net konteks. Ek en Doons verskil soos dag en nag. Hy is ’n rugbyman, draai vroue om sy pinkie en oorskrei grense om te kry wat hy wil hê. Ek aan die ander kant, ken net een rugbyspeler: Tiger Woods. Ek huil ook nog oor my graad 7 heartbreak, en is glad te veel van ’n people pleaser. Maar een ding wat ons deel, is dat ons albei kinderlik stout is.
Wie het besluit jy moet ’n mullet hê? En het jy hom nog steeds?
Ek blameer ons grimeerkunstenaar Jolene Cilliers vir die een. Ek het opgedaag en ’n mooi comb-over verwag, en toe siedaar – ’n mullet! Okay, okay, dit was darem nou nie so erg nie. Sy het dit met my bespreek en het ook uitstekende werk gelewer. Ek weet steeds nie wie se idee dit was nie, maar dit was perfek vir die karakter en het regtig gehelp om hom visueel af te rond. Alhoewel ek baie van die mullet op Doons gehou het, het ek in my alledaagse bestaan permanent met ’n mussie rondgeloop. Ek kon ’n duidelike verskil in mense se houding teenoor my in winkels en eetplekke agterkom terwyl ek Doonsie se mullet ge-rock het. Dit was seker een van die interessantste ondervindings van die hele proses. Ek was altyd gewoond aan ’n vriendelike “hallo, meneer, waarmee help ons?”, maar is eerder gegroet met ’n “ja, wat wil jy hê?” of ’n minagtende glimlag. Dit was duidelik op almal se gesigte dat hulle eerder nie met my wou praat nie. Dit was my ondervinding vir die volle twee maande wat ons gekiet het, tot ek uiteindelik weer die lieflikste glimlag ontvang het van ’n klerk in Willowbridge se DisChem, twee minute ná ek Doons se mullet by Edge-haarsalon gegroet het.
Mooiweer en warm het ’n groot rolverdeling met groot name. Was dit vir jou intimiderend?
Dit is eindlik vreemd, maar ek was al min kere geintimideerd deur groot name in die industrie. Ek dink die rede is omdat elke groot naam met wie ek al die voorreg gehad het om die skerm te deel, nog altyd nederige, goeie, sout van die aarde mense was. Daar is ’n shared experience wat ek voel kunstenaars almal het, en ons ontmoet op daardie basis mekaar op gelyke grond. Elke gesprek wat ek al op stel met n beroemde kon voer, het nog altyd gevoel of ek met regte mense oor die regte lewe kon gesels en dit het my meer op my gemak laat voel as baie gesprekke met mense buite ons industrie. Ek het vir ure lank met Marisa Drummond oor ons geloof, wysheid van Beer Adriaanse oor verhoudings gekry en waardevolle advies by Antoinette Kellerman oor die belangrikheid van reis in mens se jeug gekry. At the end we are all just people trying to make sense of this thing called life.
Wat is die grootste les wat jy op die produksie geleer het?
Ek sal sê daar is twee groot lesse wat ek geleer het. Die eerste is een wat altyd ná ’n projek by my hang en dit is dat die dag wat ek ophou speel, is die dag wat ek ophou leef. Ek het al my tone in die waters van ’n paar verskillende beroepe gesit, maar niks laat my so lewendig, gelukkig en bevoorregd voel soos om op stel magic te kan maak nie. Die tweede les is dat mense jou regtig anders behandel as jy ’n mullet dra.
Werk jy net as akteur of is daar iets anders wat jou ook besig hou?
Ek is hoofsaaklik ’n akteur, maar niemand kan regtig bekostig om nét ’n akteur te wees nie. So ek doen ook oorklankings en regie en het onlangs begin skryf. Anders as dit gee ek dramaklasse vir internationale studente en in my vrye tyd spandeer ek aan my tweede passie: gesonheid en fiksheid. Ek doen professionele bodybuilding en het verlede jaar eerste plek gewen in drie afdelings by IBFF se Spring Classics.
’n Interessante feit – die kompetisie was vier dae voor my eerste dag op Mooiweer en warm en ek moet agt kilogram in vier dae optel sodat ek ’n konstante gewig vir Doons kon behou. Ek wil net dankie sê vir my ma se bakbesigheid, Stella’s Gebak, vir die donasie van verskeie koeke en terte wat my primêre eetplan was. (Dit was nie gesond nie en ek beweel dit nie aan nie.)
Ek is ook die afgelope paar jaar besig om ’n besigheid, FilmPhysiqueFitness, te ontwikkel en dit word later vanjaar bekendgestel. Die idee is om kliënte ’n platform te gee om fiksheidafrigting saam met hulle gunsteling-akteurs, -dansers en -modelle te kry. Volg gerus FilmPhysiqueFitness op Instagram by @filmphysique.
Hoe lyk die res van die jaar?
Mooiweer en warm!
Wat is jou eie lewensleuse, daardie woorde waarby jy lewe?
“Yes, and?”. Dit is ’n improv speletjie wat seker die fondasie van alle uitvoerende kunste is. Dit leer jou om ja te sê vir jou medespeler, maar meer as dit leer dit jou om ja te sê vir emosies, vir ondervindinge, vir lewe! Ons sê so baie nee vir dinge en sodoende sluit ons die deure van moontlike wonderlike ervarings. Daar is ’n quote wat ek nou al in ’n paar films gehoor het wat sê dat die lewe pragtig is juis omdat dit gaan eindig. Dinge het waarde omdat dit nie vir ewig is nie. En wanneer ’n mens ja sê vir lewe, gee jy jouself die geleentheid om die wêreld in al sy prag te beleef. Jy voel al die mooi, en al die seer, en hopelik voor die Liewe Vader jou kom haal, kan jy met ’n gevulde hart sê: Ek het geleef!
Skakel Dinsdae om 20:00 in vir Mooiweer en warm en gesels saam op sosiale media met #MooiweerEnWarm.