Logo
Plaasjapie

Die laaste vyf – Plaasjapie

Nuus
01 Julie 2024
Dié stadsjapies het gewerk, gekonkel en baklei om dit te maak tot episode 12, maar wie gaan hulle sout werd wees en dié jaar se groot wenner wees?
Plaasjapie

Michelle de Waal

Michelle het keer op keer gewys dat sy ’n “fighter” is. Michelle het hard gespeel sonder om op tone te trap en dit reggekry om nooit in gevaar te wees as dit tyd is om iemand uit te stem nie. Dié stadsjapie het ook met tyd meer en meer begin bydra in uitdagings, baie aandag gegee aan die plaas en die regte alliansies gevorm om haar tot in die top-vyf te kry. Gaan Michelle veilig bly tot die einde en die wen vir Namibië bring?



Liovian Anderson

Liovian het nie gejaag om planne te maak en te konkel nie. Dié stadsjapie het besluit om haar deel te bring en eers te sien hoe die spel verloop, maar het tog begin om alliansies te vorm en seker te maak dat daar nie ’n teiken op haar rug sal wees nie. Liovian het egter begin wys dat sy gereed is om te baklei vir die wen, veral nadat haar bondgenoot André die plaas verlaat het. Haar “beef” met Blue wys dat dié ma vir niemand terugstaan nie en gereed is om haar hande vuil te kry vir die wen.



Anelda Price

Anelda erken dat dit lank geneem het vir haar om haar voete te vind op die plaas en in die spel. In dié proses het Anelda geen vyande gemaak nie en seker gemaak dat sy nie enige iemand ’n rede gee om haar uit te stem nie. Dié stadsjapie het gewys dat dit soms beter is om op te let as om te praat en het stilletjies gevorder in die kompetisie. Met geen vyande het Anelda haarself in ’n posisie gesit om moontlik groot te wen!



Blue Kester

Van almal in die top-vyf het Blue sonder twyfel op die meeste tone getrap op die plaas en ’n groot teiken op sy eie rug geplaas. Blue speel egter al van die begin af hard en tot dusver het dié strategie hom nie in die steek gelaat nie. Elke keer wat Blue in die moeilikheid was het hy ’n manier gekry om minstens nog ’n dag op die plaas te bly met sy planne of met voordele wat hy ontvang het deur die loop van die reeks. Blue het dalk ’n paar vyande gemaak, maar hy het gedoen wat nodig was om homself veilig te hou en dié strategie kan hom moontlik tot die laaste dag op die plaas vat.



Zanie van Rensburg

Die “ystervrou” van die seisoen het van dag een af haar mede-deelnemers bang gemaak met hoe sy die uitdagings aanpak! Zanie het baie bygedra tot die uitdagings en meer as een wen vir haar span gekry; wat natuurlik ook haar eie veiligheid verseker het. Zanie het ook hard gewerk en net genoeg gekonkel om in die kompetisie te bly sonder om vyande te maak in die proses. Gaan Zanie nóg ’n groot wen kry om haar tot die laaste dag te kry?



Skakel hierdie Donderdag om 20:00 in vir die nuutste episode van Plaasjapie om te sien wie nie hulle sout werd gaan wees nie.