web uni tv guide
Diepe waters S3 Slim BB
web uni tv guide

Diepe Waters

144Telenovela13

Christia Visser keer terug na Diepe Waters

Nuus
21 November 2024
Vanaf Donderdag, 21 November, maak Christia Visser weer haar opwagting in Diepe Waters – en kykers kan hulself gereed maak vir drama!
Diepe waters

Toe haar karakter, Candy, ’n paar maande gelede op die toneel verskyn het, het sy saam met haar kêrel, Bert, vir Rossouw (Altus Theart) ontvoer en vir losprys aangehou. Rossouw dra steeds die letsels van daardie traumatiese ervaring.

Nou, as Alisa – haar regte naam – maak sy onverwags weer haar opwagting in Diepe Waters. Sy steek egter haar verlede weg en begin ’n vriendskap met Sanet (Nadia Valvekens). Die twee vroue raak vinnig goeie vriendinne, maar Sanet het geen idee van Alisa se betrokkenheid by Rossouw se traumatiese verlede nie.



Christia deel dat Alisa nou ’n nuwe koers inslaan: “Ja, sy keer terug, maar wat haar aanbetref tree sy vorentoe. Sy raak ontslae van al die gimmicks en is op ’n herontdekkingsreis.”

Hoe gaan kykers op hierdie nuwe kant van Candy reageer? “Ek hoop dat hulle sien hoe hard sy probeer... ek dink daar gaan baie onsekerheid wees.”



Vir Christia was dit ’n heerlike ervaring om weer op stel te wees:  “Lieflik soos altyd. Dis ’n lekker span en die storielyn beweeg vinnig, so dit hou mens op jou tone.”

Wat kan kykers verwag van die nuwe storielyn? “Hulle kan uitsien na ’n eerlike, steeds foutiewe Candy en al die drama wat daarmee saamgaan.”



Maar hoe gaan Rossouw reageer wanneer hy die vrou sien wat verantwoordelik was vir sy grootste trauma? Skakel in vanaf Donderdag, 21 November, om uit te vind wat gebeur wanneer hul paaie weer kruis.

Diepe Waters word Maandae tot Donderdae 18:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) uitgesaai. Dis ook op DStv Stream en Catch Up beskikbaar.