Logo

Antoinette Kellerman: “Ek leer nog elke dag”

Nuus
13 Mei 2023
Vind meer uit oor Antoinette Kellerman se rol in Ouma Olive!
Ouma Olive

Saterdagaand is die legendariese aktrise Antoinette Kellerman te sien in Ouma Olive die ongelooflike, ’n speelfilm wat spesiaal vir kykNET vir Moedersdag vervaardig is. Olive is ma van twee en ouma van een, maar sy is nukkerig en hou haar by haar eie sake. Dis nou tot haar vervreemde seun besef sy ma het ’n talent as komediant ...

Dis ’n mooi dag in Laaiplek, die klein kusdorpie aan die Weskus, sê Antoinette Kellerman. “Die afgelope tyd was besig en die res van die jaar net so. Dit is dus vir my lekker om my kelk te kom vol maak voor die werk weer begin.”

Op 71 is daar geen keer aan Antoinette nie. By die afgelope KKNK was sy in die eenvrou-stuk Teen wil en dank waar sy teruggekyk het na haar lewe en al die rolle wat sy gespeel het. Sy was ook in Woordmusiek saam met Coenie de Villiers, Vinette Ebrahim en Jana Cilliers wat onlangs ook op die Suidoosterfees te sien was. Dan was sy Berta in die dramareeks Mooiweer en warm en een van die dae val sy weer in om die rol van Soekie in Binnelanders te speel.

Tussendeur het sy haar stem en talent aan Olive gegee, die karakter wat deur Ludwig Binge geskep en geskryf is en wat die rol van haar seun Markus in Ouma Olive die ongelooflike speel.

“Die ontdekkingsreis van wat moontlik is,” sê Antoinette oor hoekom sy van Olive gehou het. “Dan ook die hele span wat so betrokke was dat ek die hele tyd veilig gevoel het. Ek het geweet ek het so baie om te leer. Iets soos stand-up komedie is totaal vreemd vir my en het soos die Drakensberge voor my gelê. Maar die span en my mede-spelers het dit ’n heerlike ervaring gemaak. Ek raak baie angstig voor ’n produksie, veral as dit voor die kamera is, maar Nina (Swart, die regisseur) se hand was baie sterk. Sy sien deur jou vrese en angste en los jou om te vlieg. Dit was vir my ’n heerlike reis van ontdekking.”

Vir haar is werk op die verhoog anders as dié voor die kamera. “Op die verhoog kan jy groter skep, maar vir TV moet jy binne die grense van realiteit bly. Ek het eers gedink Olive is ’n grommerige ou vrou, maar Nina en die teks het my gelei na wie sy werklik is.”

Dit pla haar geensins dat sy deesdae die rol van ’n ouma moet speel nie. “In my geval omdat ek in elk geval nooit die rol van die beauty queen gespeel het nie, maar eerder karakterrolle. Deur die jare het ek amper alles gespeel, van mans tot ma’s, die volgende rondte is die ouma. Vir my het dit mettertyd gebeur en dis aanvaarbaar. Ek het ook vinnig grys geword en vinnig by ouma uitgekom,” sê sy en lag in haar kenmerkende skor stem. “Maar ek is darem nog nie die oumagrootjie nie!”

Antoinette werk nie net as aktrise sedert sy haar studies aan die Universiteit van Stellenbosch voltooi het nie, sy het ook by haar alma mater klasgegee en dit gee haar groot plesier om te sien hoe haar studente sukses behaal.

“Ja! Ludwig se ouers (Joanie Combrink en wyle Herman Binge) is nie net tydgenote nie, hy was ook een van my studente. Hoe heerlik is dit nie om te sien hoe hy groot geword en hoe sy selfvertroue gegroei het nie. Ook Tinarie (wat die rol van Olive se dogter speel) en Nina en die ander wat onder ons hande deur is. Die entoesiasme en energie! Grote griet. Dit inspireer my en gee my energie,” sê Antoinette.

Sien sy haarself as ’n mentor?

“Nee. Dis dalk instiktief omdat ek klas gegee het en my ervaring met ander kon deel. Ek sien myself eerder as ’n dosent wat mense voorberei vir die lewe binne en buite die bedryf. Ja, ek gee raad en ek dink dis normaal, maar ek leer ook by hulle.”

Jare gelede was sy in New York en het sy gesien daar is tweejaar-kursus by Circle in the Square Theatre School. Terug by die huis het sy haar ouers daarvan vertel en haar pa het gesê hulle sal die geld bymekaar kry as dit is wat sy wil doen.

“Ons was werkersklas en al was dit nie daardie tyd derduisende rande nie, het ek nie die moed gehad nie,” sê Antoinette. “Ek het net nie gedink ek sal dit as ’n Suid-Afrikaanse meisie kon maak nie. Maar mens kan nie lewe in die ‘wat as?’ nie. Ek het ’n realiteit in hierdie land en om in my eie taal te werk is ’n geskenk en ’n plesier. Ja, ons het beperkinge, maar ek is nie spyt ek het gebly nie.”

Die een ding waaroor sy wel spyt is, is dat sy nie vroeër voor die kamera begin werk het nie.

“Ek het myself nooit gesien as iemand wat iemand anders op skerm wil sien nie en het daarom die verhoog verkies. Dit het alles te doen met my eie persepsies oor my voorkoms. Maar nou besef ek watter wonderlike medium dit is. Dit bly vir my angstig, maar dis opwindend. En ja, my plooie is daar om te bly. Hierdie is die gesig en ek het gewerk vir dit,” sê sy en lag weer.

Dit is nie skyn nederigheid nie, verseker sy, maar dit bly vir haar vreemd as sy hoor sy het ’n gehoor wat ’n kaartjie sal koop of ’n program sal kyk net omdat sy daarin is.

“Dit verbaas my elke keer en bly vir my onwerklik. TV is so toeganklik en dit sit jou in mense se huise en dan besef ek ook nou en dan watter impak ek as verhoogspeler het. Ek kyk na mense soos Tinarie en Paul (du Toit) en ek het beslis nie dieselfde gemak wat hulle het om tussen die mediums te beweeg nie. Op die verhoog sien ek myself nie as ’n kaartjieverkoper nie en op kamera is jy baie uitgelewer. Met elke produksie, of dit nou op die verhoog of voor die kamera is, leer ek. Elke liewe keer.”