Logo
Diepe waters
web uni tv guide

Diepe Waters

144Telenovela13

Amor delf diep vir karakter in “Diepe waters”

Nuus
15 Julie 2024
Amor Vittone is weer voor die kameras as Leticia, ’n eensame vrou wat Sanet en Ben se lewe deurmekaar kom krap.
Diepe Waters

Vertel ons meer van Leticia, jou karakter in Diepe waters.

Leticia is ma van twee dogters, maar hulle is op universiteit, en sy het ’n leemte in haar lewe. Sy het twee mans verloor en voel of sy iewers soek om te behoort. Sy het Johannesburg toe getrek en by die kerk aangesluit, en dit is hoe sy vir Sanet ontmoet het. Al wat Leticia in haar lewe soek, is liefde. Sy is broos en soek nie aandag nie, maar wanneer sy dit kry, is sy oorweldigend. Sy wys haar emosies en huil wanneer sy wil. Leticia het nie ’n lelike kant aan haar nie en sal vinnig jammer sê wanneer sy iets in ander mense se oë verkeerd gedoen het. Sy is sag en vriendelik, maar kan soms die lyn oorskry en té vriendelik wees.



Wat het jy die meeste van die karakter geniet?

Die feit dat sy baie anders is as die Zelda wat ek in 7de Laan gespeel het. Leticia is broos, en ek het geniet om dieper te delf om by die karakter uit te kom. Dit is ook ’n plesier om teenoor mense te speel wat hulle ding ken. Nadia Valvekens (Sanet) en Eric Bouwer (Ben) is briljant, en dis lekker om daardie energie te kry wanneer jy voor die kamera is. Ek het ook die telenovela-formaat geniet omdat alles nie die hele tyd in ’n ateljee afspeel nie.



Wat dink jy maak ’n goeie flirt? Het jy jou eie geheime wanneer dit by flirtasie kom?

Flirt is een van daardie woorde wat maklik verkeerd gebruik kan word. Hierdie tipe flirt wat Leticia doen, is nie oorweldigend nie. Sy weet sy is mooi, al is sy in haar vyftigs met ’n paar plooitjies, en sy weet sy het mooi borste wat sy graag wys, maar sy doen dit smaakvol.

Ek het nie eintlik geheime oor flirt nie. As die skoenlappers in jou maag of jou hart wakker word, is dit asof mens bietjie meer selfvertroue het om dinge te sê en doen wat jy dalk nie onder normale omstandighede sou sê of doen nie. Dalk het ek geflirt toe ek jonger was. Deesdae is ek meer spontaan.



Leticia sukkel met eensaamheid. Wat is jou raad aan enigeen wat ook daarmee sukkel?

Dis belangrik om oor jou gevoelens te praat. Wanneer ek oor iets praat wat my pla, gewoonlik met my ma, susters of vriendinne, help dit beslis. Vra hulp as jy dit nodig het. En met eensaamheid is dit soms dat jy nie genoeg vir jouself doen nie. Gaan eet middagete saam met vriendinne, gaan stap, laat jou naels doen. Ek dink dit is ook belangrik om jou omgewing te verander – iets eenvoudigs soos om ’n plant te koop of jou meubels te skuif. Sluit by ’n klub aan soos Leticia, wat by Nuwe Nes aangesluit het, en ontmoet nuwe mense.



Wat is die grootste lewensles wat jy geleer het?

Moenie reageer op iets in die oomblik wanneer jy dalk iets gaan sê wat verkeerd opgeneem kan word of waaroor jy jammer sal voel nie. Dink eers daaroor en reageer dan. Soms is dit selfs nodig om net stil te bly. Dan ook: moenie jouself te veel kritiseer nie. Die lewe gaan in ’n blits verby. Waardeer elke oomblik van elke dag. Lag as jy moet lag en huil as jy moet huil.



Wat is jou planne vir die res van die jaar?

Ek wil nog werk as aktrise doen. Ek wil graag weer nuwe musiek uitbring. En dan hou my AV-juwele my besig, en ek geniet elke oomblik. Maar al my planne gaan om my kinders en dit wat hulle wil doen. Al is hulle 18 en 20, is hulle steeds my eerste prioriteit.

Jy kan vyf mense vir ete nooi. Wie is hulle?

Ek wil my naastes hê. As my pa nog hier was, my ma, my susters. Maar iemand wat ek graag wil ontmoet omdat sy in die musiekbedryf is en ’n briljante sakevrou is, is Taylor Swift. Dink dit sal lekker wees om saam met haar te kuier. Ook Jennifer Aniston, the girl next door, wat mooi na haarself kyk. Ek sal haar graag wil ontmoet.