’n Jong man beland in ’n Kaapse tronk in die 1960’s. Hy gebruik sy talent as storieverteller om homself teen die bendes in die tronk te beskerm. Noem my Skollie, gebaseer op die ware verhaal van ’n jong storieverteller in die tronk in die 1960’s, word op 2 September 2016 in teaters uitgereik.
Dit vertel die verhaal van die draaiboekskrywer John W. Fredericks (hy word AB genoem in die film). Noem my Skollie speel af op die Kaapste Vlakte en in die Pollsmoor-tronk, en is Daryne Joshua se debuut as regisseur.
AB (Austin Rose) en sy drie beste vriende, Gimba (Ethan Patton), Gif (Joshua Vraagom) en Shorty (Valentino de Klerk), word groot op die Kaapse Vlakte – ’n armmoedige bendewêreld.
Afgesien van hulle omstandighede probeer die kinders die bendes vermy, maar wanneer AB ’n traumatiese voorval beleef, besluit hulle om ’n bende te stig om hulself te beskerm.
Die vier vriende, wat nou soos broers is, pleeg nie ernstige misdade nie, maar ten spyte daarvan hou die polisie hulle dop deur hul tienerjare en totdat hulle ’n groep gewilde jong mans word.
Die ouer AB (Dann-Jacques Mouton) en Gimba (Gantane Kusch) word gearresteer tydens ’n inbraak en tot twee jaar tronkstraf gevonnis.
AB besluit om sy talent vir storievertel te gebruik om die geharde misdadigers te vermaak en sy status te verhoog, terwyl Gimba ’n ander pad inslaan om sy veiligheid te waarborg.
Hy gaan voort met die verhouding met sy vriendin, Jenny (Tarryn Wyngaard), wanneer hy vrygelaat word en storieskryf word ’n manier om haar te beïndruk. Maar sy bendevriende oortuig hom om weer by hulle aan te sluit – ’n besluit wat skokkende gevolge vir hulle almal het.
Rolverdeling:
Sandi Schultz
Gantane Kusch
Dann Jaques Mouton
Austin Rose
Christian Bennett
Tarryn Wyngaard
Agter die skerms:
Regisseur: Daryne Joshua
Draaiboek: John Fredericks