Logo
web uni tv guide

In Gesprek

144AktueelPG13

Verkiesing 2024: Vyf redes hoekom jy 'In gesprek' moet kyk

Nuus
27 Mei 2024
’n Allemintige 52 politieke partye op die nasionale stembrief. Die meeste kiesers ooit wat geregistreer is – 27,7 miljoen. Drie stembriewe en die groot vraag: Hoe gaan Suid-Afrika lyk ná die land se sewende demokratiese verkiesing op 29 Mei?
In gesprek sal vir drie agtereenvolgende dae om 21:00 op kykNET uitgesaai word. Dit is benewens die gewone uitsending op Maandag, 27 Mei om 21:00.

In gesprek gaan die vinger op die pols hê en vir drie agtereenvolgende dae – die dag voor die verkiesing, verkiesingsdag en die dag ná die verkiesing – om 21:00 op kykNET uitsaai om kykers op hoogte van sake te hou. Dit is nou bo en behalwe die gewone uitsending van In gesprek op Maandagaand 27 Mei om 21:00. 

Hier is vyf redes hoekom jy nie hierdie uitsendings moet misloop nie: 

  1. Lourensa Eckard is die aanbieder, en van die ateljeegaste sluit in Dawie Boonzaaier (Rapport), Pieter du Toit (News24), dr. Piet Croucamp (NWU), prof. Theo Venter (UJ) en Ebrahim Fakir (Auwal Sosio-ekonomiese Navorsingsinstituut). 
  2. Dinsdag 28 Mei gaan politieke kenners in die ateljee die verkiesing bespreek, en ’n span sal by die OVK (Onafhanklike Verkiesingskommissie) se uitslagsentrum wees om daar uit te vind hoe gereed hulle vir die verkiesing is. 
  3. Woensdag 29 Mei sal daar spanne in die veld in verskeie provinsies wees waar kiesers hulle mening kan gee. Gaste in die ateljee sal hulle insette lewer oor hoe die verkiesing verloop, en daar sal weer ’n span by die OVK se uitslagsentrum met die jongste nuus wees.
  4. Donderdag 30 Mei sal gaste in die ateljee die uitslae ontleed, en daar sal weer na die OVK se uitslagsentrum oorgeskakel word.
  5. “kykNET wil seker maak ons kykers kry die beste analise in die aanloop tot die verkiesing, op stemdag self, en wanneer die eerste uitslae land,” sê Waldimar Pelser, M-Net-direkteur: Premium-kanale. “Die uitslae van die 2024-verkiesings sal bepaal watter partye in ’n posisie gaan wees om ná 29 Mei in die nege provinsies en nasionaal regerings te vorm. Vir die eerste keer sedert 1994 lyk dit of koalisies in meer as net dorpe en stede aan bewind kan kom. Dié keer wink samewerkingsooreenkomste in minstens twee groot provinsies. Die moontlikheid bestaan ook dat geen enkele party op nasionale vlak bo 50% sal presteer nie. Dit is waarom In gesprek met Lourensa Eckard vir die eerste keer op vier agtereenvolgende aande op die lug sal wees in verkiesingsweek.”
  • In gesprek word op 27, 28, 29 en 30 Mei om 21:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) uitgesaai. Die uitsendings op 28 en 29 Mei is elk 24 minute lank; die uitsending op 30 Mei is 48 minute lank.
  • Episodes van programme wat op hierdie datums om 21:00 uitgesaai sou word, hervat weer die daaropvolgende week. Hannes aan huis (S10: Ep. 9) skuif na Dinsdag 4 Junie; Prontuit (S10: Ep. 21) na Woensdag 5 Junie, en Bravo! (S14: Ep. 5) asook Vrystaatbewoners (S01: Ep. 9) na Donderdag 6 Junie.