Logo
web uni tv guide

Plan B

144Drama13 VL

Tussen tonele met Tim Theron

Nuus
22 Mei 2024
Ons het net té lekker gekuier met die akteur en vervaardiger, Tim Theron.
Tussen tonele met Tim Theron

Dit is nie ‘n maklike taak om Tim Theron vas te trek vir ‘n onderhoud tussendeur sy verskeie rolle as akteur en vervaardiger nie, maar kykNET Digitaal het vinnig met hom gesels. Lees hier verder vir die volledige onderhoud.

Watter items gaan ten alle tye saam met jou stel toe?
Die een ding wat ek amper altyd in my sak het, is breath mints van een of ander aard. Ek het een keer, lank terug teenoor iemand gespeel wie se asem nie great geruik het nie, en van toe af is ek amper neuroties dat dit nooit ek moet wees nie. Ek kou die goed soos vitamines.

Indien jy kan, watter een van die karakters wat jy al vertolk het was jou gunsteling en hoekom?
Sjoe, dis amper soos om te vra watter een van my kinders is my gunsteling!

Frans (Klein Karoo), Ivan (Plan B) en Tiger (Heart of the Hunter) sou my drie gunstelinge wees as ek MOET kies. “Frans” was my heel eerste hoofrol in ’n film, en baie mense onthou my nog van Klein Karoo, “Ivan” is ’n tipe karakter wat ek nog altyd wou speel en ontsaglik baie geniet het, en “Tiger” oor al die fantastiese stunts en aksie-tonele wat ek kon aanpak.



Watter rol het jou al die meeste uitgedaag in jou loopbaan en hoekom?
Die rolle in Projek Dina en Griekwastad was definitief ontsaglik uitdagend op ’n emosionele vlak – beide karakters moes in redelik donker situasies inbeweeg, maar onlangs sou die rol van Tiger in Heart of the Hunter definitief bo-aan die lys wees, net omdat dit ’n hele ander, en nuwe, element na die proses gebring het. Dit het nie net oor die emosies, storie en karakter gegaan nie, maar ook die fisiese voorbereiding wat nodig was om die karakter geloofwaardig te kan vertolk, en ook voorbereid te wees op fisiese eise van die aksie-tonele. 

Het jy onlangs iets geleer by ’n ander akteur of persoon op stel wat jou geïnspireer het?
Ek leer elke keer wat ek op ’n stel gaan. Dis een van die beste dele van wat ek doen. Ek het die voorreg gehad om nou onlangs op Plan B saam met Arnold Vosloo, Amalia Uys en Armand Aucamp te werk, en as mens hulle sien werk, sien lewe gee aan hulle karakters, kan jy nie anders as om geïnspireer te wees nie!

Dieselfde met Bonko Khoza, Sisanda Henna, Connie Ferguson en Masasa Mbangeni op Heart of the Hunter. Al hierdie akteurs het elke dag soveel na die stel toe gebring, so voorbereid daar aangekom, maar was ook reg om te sien en te beleef wat in die oomblik in elke toneel gebeur, en daarby aan te pas sodat ons by die beste moontlike vertelling van die storie kan uitkom.

Saam met watter persoon in die industrie sal jy nog mee wil werk eendag?
Ek is so ontsaglik bevoorreg en bederf met die mense saam met wie ek al die geleentheid gehad het om mee saam te werk – van die absolute beste mense in ons Suid-Afrikaanse industrie – dat dit amper ondankbaar voel om daardie lysie nog langer te wil maak, MAAR, ek is nog altyd ’n aanhanger van beide Jacques Bessenger en Erica Wessels se werk, en het nog nie die geleentheid gehad om teenoor hulle te speel nie (ons was al in dieselfde projekte, maar het nie enige tonele saam gehad nie), so hulle sal beide hoog op die lys wees!

As mens die net wyer gooi na die internasionale industrie toe, is daar natuurlik ook ’n hele swetterjoel akteurs waarmee ek ontsaglik graag sou wou werk. 

Is daar ’n fliek of reeks op kykNET of Showmax wat jy onlangs gesien het waar jy gedink het jy sal nogal graag daarin wil speel?
Definitief Donkerbos!



Hoe motiveer jy jouself nadat jy ’n moeilike dag agter die rug het?
Ek gaan oefen gewoonlik, net om die stres en frustrasie uit te kry, en dan spandeer ek tyd saam met my familie. As jy weet hoekom jy iets doen, en vir wie, dan is dit makliker om oor die moeilike tye te kom.
 
Wat is jou motto in die lewe?
Ek dink die naaste wat ek het aan ’n motto is om myself konstant te herinner om nie geluk na te streef nie, want dit is net ’n vlietende emosie. Eerder, ’n lewe van betekenis, want in die betekenis vind mens ook die geluk.

As jy enige ander celebrity moet speel, plaaslik of internasionaal, wie sal dit wees en hoekom?
Definitief een van ons Springbok-rugbyspelers, want dis die enigste manier wat ek my klein seuntjie drome om eendag professioneel rugby te kan speel sal kan uitleef! Ek is nou al dalk bietjie te oud daarvoor, so ek sal moet mik om Rassie te speel.

Plan B is nou beskikbaar op DStv Stream om te binge watch. Griekwastad, Projek Dina en die Klein Karoo- films is almal beskikbaar op Showmax.