web uni tv guide
Alles Malan – Slim
web uni tv guide

Alles Malan

144DramaPG13 L

Ouer bok en ’n jong blaar: Kan so ’n verhouding werk? – Alles Malan

Nuus
25 Januarie 2022
Skakel elke Dinsdagaand om 20:00 in vir Alles Malan op kykNET (DStv-kanaal 144).
Alles Malan – Episode 9

Elani (Greteli Fincham) en Wim (Ivan Botha) se verhouding het vinnig vlamgevat, tot groot skok en ongeloof van haar ouers. Die vraag is egter of hulle nie oorreageer nie? Kan ’n verhouding tussen ’n man wat minstens 15 jaar ouer is as die vrou werk, of nie?

Soos die liedjie gaan: 'Ou bokke like mos van jong blare'. Deur die eeue heen het dit al wenkbroue gelig en mense agter hulle hande laat skinder, maar tog is daar verskeie voorbeelde van sulke verhoudings wat werk. Catherine Zeta-Jones is 25 jaar jonger as Michael Douglas en hulle huwelik – hulle is in 2000 in New York getroud – staan nog sterk. George Clooney het al ’n rits beeldskone vroue aan sy sy gehad, maar dit was Amal Alamuddin, 17 jaar jonger as hy, wat hom uiteindelik voor die kansel gekry het. In Suid-Afrika was die tweede en derde huwelike van Prof. Chris Barnard opspraakwekkend toe dit gebeur het. Sy tweede vrou, Barbara, was 19 jaar oud toe sy in 1970 met die 47-jarige chirurg getroud het en ná hierdie huwelik in die skeihof beland het, is hy in 1988 met Karen getroud wat 40 jaar jonger as hy was.

Die mense praat
Jy gaan van die begin moet gewoond raak daaraan dat mense gaan praat. Sommige gaan sê dis verkeerd, ander gaan julle ondersteun. Mense gaan dalk sê die vrou doen dit net vir geld of die man doen dit omdat hy sy jeug probeer terugkry. As mense egter agterkom dat julle werklik lief vir mekaar is, sal die geskinder dalk minder raak. Maak gereed vir enige ongemaklike vrae of skewe opmerkings. Aan die einde van die dag is julle verhouding net dit: julle verhouding.

Punt A en punt B
Jy en jou ouer kêrel gaan sonder twyfel op verskillende plekke in julle lewens wees. Hy gaan heel moontlik al gevestig wees in sy beroep en jy gaan dalk nog jou voete vind. In Elani en Wim se geval is dit nog meer uitdagend aangesien sy ’n student is. Die enigste manier om hierdie probleem te oorkom, is om te kommunikeer. Wees eerlik met mekaar oor wat julle uit die verhouding wil hê. Sorteer probleme uit wanneer dit gebeur. Moenie wag vir die klein jakkalsies om die wingerd te verwoes nie.

Jou gunsteling-liedjie is wat?
Julle verwysingsraamwerk gaan verskil. Daarmee saam gaan julle belangstellings. Jy is dalk mal oor hedendaagse musiek, maar hy verkies musiek van die 90’s. Leer om aan te pas en mekaar in ag te neem. Dieselfde geld vir enige ander belangrike elemente in jou lewe. Is jy iemand wat tot laataand wil dans of is jy ‘n huishen? In die begin gaan julle so verlief wees dat dit opwindend is om alles te doen wat die ander een wil doen. Maar met tyd gaan jou eie voorkeure weer begin kop uitsteek en dit kan probleme veroorsaak.

Tussen die lakens
Navorsing het al getoon dat mans hulle seksuele piek vroeër as vroue bereik, maar deesdae is daar verskeie ander navorsing wat wys dat dit nie noodwendig so is nie. Wat egter nie weggepraat kan word nie, is dat seks vir enige persoon deur die jare verander en dat ouerdom beslis ’n rol speel. Ons woon gelukkig in ’n tyd waar seks nie meer 'n taboe onderwerp is nie en die hulp van ondermeer terapeute en boeke oor die onderwerp ingeroep kan word indien dinge nie meer klopdisselboom tussen die lakens gaan nie.

Joune, myne, ons s’n
Wanneer daar kinders betrokke is, soos in Elani en Wim se geval, kan dinge nog meer gekompliseerd raak. Meeste ouers stel die belange van hulle kinders eerste en die onderskeie partye in ’n verhouding moet dit aanvaar. Weereens is kommunikasie belangrik, nie net tussen die paartjie nie, maar ook tussen die ouers en hulle kinders en die onderskeie kinders. Indien net een van die paartjie kinders het, moet jy jouself vra of jy die kind of kinders gaan aanvaar en of jy gemaklik daarmee gaan wees om hulle deel van jou lewe te maak.

Ouer, beter, beste?
Wanneer ’n paartjie met ’n groot ouderdomsverskil bymekaar kom, sal daar altyd mense wees wat die somme gaan maak. Byvoorbeeld: “Ja, maar oor twintig jaar is hy 70 en jy 50 en dan wat?”. Dit is natuurlik ’n geldige aanmerking en ’n gesprek wat julle sal moet hê voor julle te ernstig raak. Maar soos hulle sê: Vandag se 70 is ’n dekade gelede se 50 en ouer bokke kan inderdaad nog ’n huppel in hulle stap hê.

Skakel elke Dinsdagaand om 20:00 in vir Alles Malan op kykNET (DStv-kanaal 144).