Logo

Nuwe seisoene van trefferreekse in Julie op lug

Nuus
26 Junie 2024
Die winter is in volle swang, maar gelukkig is daar genoeg kykgenot om jou lekker warm te hou. Verskeie gewilde reekse maak in Julie hulle terugkeer op kykNET (DStv-kanaal 144), met ’n goeie skeut leefstyl asook aktualiteit daarby om jou op hoogte van sake te hou.
Julie hoogtepunte



Anzél in die Boland se vierde seisoen skop op 5 Julie 2024 af, en kykers kan gereed maak vir die mees uiteenlopende seisoen nog. Anzél gaan sorg vir spesiale wyn, skilderagtige landskappe, avontuurlustige aktiwiteite – en hartroerende stories.

“Ek is so bly om terug op die lug te wees. Ek het dit vreeslik gemis om die area se stories vas te vang en al die mooi plekke met ons kykers te deel. Ek moes weer gewoond raak aan al die kameras, maar ek het vinnig weer my ritme gevind,” vertel Anzél.

In dié seisoen maak Anzél, onder meer, ’n draai by Fuselage Wines waar sy ’n vliegtuig loods saam met die Protea-vlieënier Alewyn Burger. “Dit was rêrig ’n uitsonderlike geleentheid. Die kameraspan het hierdie spesiale ondervinding ongelooflik mooi vasgevang, en ons het sommer besluit om die seisoen met dié episode af te skop,” sê sy opgewonde.

Sy gesels ook met Karen Zoid op Doolhof buite Wellington waar Karen se wyn, “Sy Raas”, gemaak word. Van die ander mooi plekke wat Anzél besoek, is Groote Post langs die Weskus, Benguela Cove buite Hermanus, Meerlust buite Stellenbosch, en GlenWood Vineyards in Franschhoek.

Anzél in die Boland word geborg deur Paarl Valleij Lifestyle Estate & Farm.

Anzél in die Boland begin op 5 Julie 2024 om 18:30 net op kykNET (DStv-kanaal 144). Die reeks sal ook op DStv Stream en Catch Up beskikbaar wees.



Wie’s nuus met Netwerk24 is terug om kykers op hoogte te hou van aktuele sake in Suid-Afrika en die res van die wêreld. Die nuwe seisoen begin op Woensdag 17 July om 21:00.

“Daar het baie water in die see geloop sedert die laaste seisoen van Wie’s nuus met Netwerk24 wat beteken dat daar ’n hele klomp nuwe nuusmakers is wat ons aandag trek,” sê die aanbieder, Mia Spies. “Ons het ’n rits nuwe ministers en parlementslede ná die algemene verkiesing, nuwe sporthelde wat ons harte trots laat klop, en dan is daar ongelukkig ook ’n hele klomp omstrede figure wat ons warm onder die kraag het. Ek sien uit daarna om elke Woensdagaand in jou leefkamer te kom kuier en meer te deel oor die mense wat die land en die wêreld aan die praat het.”

Henriëtte Loubser, hoofredakteur van Netwerk24 en Media24 se Afrikaanse nuusafdeling, sê: “Ons is pas oor die halfpadmerk van 2024 en reeds is dit duidelik dat dit ’n geskiedkundige jaar vir ons land is. Met die pas afgelope verkiesing het daar soveel nuwe mense na vore gekom wat die publiek se nuuskierigheid prikkel, en die tweede helfte van die jaar gaan beslis nie vervelig wees nie. Die Olimpiese Spele en die Amerikaanse presidentsverkiesing is maar net twee gebeurtenisse wat mense se oë vasgenael op hulle skerms gaan hou. Ons by Netwerk24 sien uit daarna om vir ’n vierde keer ons joernaliste en redakteurs met die kykNET-kykers te deel sodat hulle die nuusmakers beter kan leer ken en sodoende ook sin van nuusgebeure kan maak.”

Wie’s nuus met Netwerk24 begin op 17 Julie 2024 om 21:00 op kykNET (DStv-kanaal 144). Die reeks sal ook op DStv Stream en Catch Up beskikbaar wees.



Ysters op die landgoed, ’n reeks wat fokus op Suid-Afrika en Mauritius se voorste gholflandgoedere, keer terug vir ’n tweede seisoen op 6 Julie. Die aanbieders is Johnny Davids, Alwyn Hollenbach, Herman Watney en Ricky Schroeder, en in dié seisoen gaan hulle 13 eksklusiewe landgoedere verken, die inwoners leer ken, gholf speel en ’n paar bekendes ontmoet.

Van die landgoedere wat besoek word, is Zimbali Estate in KwaZulu-Natal, St. Francis Links in St. Francisbaai in die Oos-Kaap, en Tamarin in Mauritius.

Ysters op die landgoed begin op 6 Julie 2024 om 18:30 op kykNET (DStv-kanaal 144). Die reeks sal ook op DStv Stream en Catch Up beskikbaar wees.



In die nuwe, derde seisoen van 4x4 met André gaan die aanbieder, André de Villiers, die Ai-Ais-Richtersveld verken, duine langs die Namibiese kuslyn aandurf en binnelandse plaashindernisse ry waar hy vindingryke boere leer ken.

4x4 met André begin op 6 Julie 2024 om 19:30 op kykNET (DStv-kanaal 144). Die reeks sal ook op DStv Stream en Catch Up beskikbaar wees.



Jak de Priester is terug vir ’n vyfde seisoen van Koppieteefontein, wat op 2 Julie om 21:30 begin.

“Ek is verheug dat ons weer saam met bekendes kan kuier om ’n koppie tee, in hulle huis of ateljee, waar hulle hul stories met my deel,” sê Jak. “Met hierdie reeks het ek net weer besef watter wonderlike, inspirerende mense ons in Suid-Afrika het en hoe uniek ons land, taal en kultuur is.”

Soos met die vorige reekse, word die nuwe seisoen deur Toyota geborg met Neil Joubert-wyne wat gaste met ’n bottel van hulle spesiale wyn gaan verras.

Koppieteefontein begin op 2 Julie 2024 om 21:30 op kykNET (DStv-kanaal 144). Die reeks sal ook op DStv Stream en Catch Up beskikbaar wees.



Met ’n huppel in die stap wys nou al sestien seisoene lank dat oudword nie beteken jy moet agteroor sit nie. In die nuwe seisoen, wat op 3 Julie begin, is daar, onder meer, insetsels oor ’n familie wat besluit het die gras is nie groener aan die ander kant nie en van Nieu-Seeland terug na Suid-Afrika gekom het. Daar word na projekte in belang van Suid-Afrika gekyk wat dr. Mathews Phosa en sy kollegas aanpak, en daar is ’n kuier saam met ’n groep afgetrede vlieëniers. Skoolhoofde deel hulle herinneringe, en seniors word gewaarsku teen kubermisdaad.

Met ’n huppel in die stap  begin op 3 Julie 2024 om 17:30 op kykNET (DStv-kanaal 144). Die reeks sal ook op DStv Stream en Catch Up beskikbaar wees.