Logo
Diepe waters
web uni tv guide

Diepe Waters

144Telenovela13 VL

Nadia Beukes se karakter is regtig stille waters, diepe grond

Nuus
10 Junie 2024
Nadia Beukes gesels oor haar rol as Michelle in "Diepe waters", haar vertolking as Die Barones in "The Sound of Music" en nog meer.
Nadia Beukes

Die veelsydige en talentvolle Nadia Beukes maak vanaf Dinsdag 11 Junie haar verskyning in Diepe waters as Michelle, ’n verteenwoordiger van ’n swemvereniging wat haar oog op Charity het. Maar sy het beslis ook ’n verskuilde agenda.

Michelle is moontlik nie alles wat sy voorgee om te wees nie. Hoe het jy onder die karakter se vel geklim?
Michelle is beslis nie wat sy voorgee om te wees nie, en dit was vir my baie lekker om, vir ’n verandering, hierdie tipe rol te kon vertolk. Soos met enige karakter, was dit vir my belangrik om nie terug te hou nie en my beste vir Michelle te gee. Ek voel ook omdat ek op ’n plek in my eie lewe is waar ek al hoe meer gemaklik in my eie vel voel, dit vir my meer ruimte skep om die karakters wat ek speel beter te leer ken, gemaklik in hulle wêreld te wees en myself dan in samewerking met die regisseurs, skrywers en mede-akteurs, sowel as almal agter die skerms, oor te gee sodat ons uiteindelik stories kan vertel wat mense vermaak, inlig en inspireer.

Wat het jy geniet van die rol?
O, die kar en die klere tesame met die rooi naels, hoë hakskoene en bowenal Michelle se selfvertroue was vir my lekker om in te deel. Dit was ook ’n absolute plesier om so baie bekende gesigte voor en agter die kameras te sien en veral om vir Johnny Potsanyane, wat my seun in Getroud met rugby gespeel het, in aksie te sien. Die Diepe waters-span is wonderlik, en almal het my baie veilig laat voel. Dané de Waal, wat die rol van Charity vertolk, het my onder haar vlerk geneem. Hoewel ons koppe stamp op skerm, kon ons lekker kuier tussen tonele, wat my baie welkom laat voel het. Daarmee saam was dit vir my ’n hoogtepunt om teenoor Sandi Schultz te speel en om vir die eerste keer ’n karakter te vertolk wat ’n handlanger het wat deur die lieflike Lewellyn Cordier gespeel word. Die hele storielyn en ervaring was groot pret.

Het jy al Michelle’s in jou lewe teëgekom?
Michelle kan in een woord as ’n boelie beskryf word en ja, ek het beslis al boelies teëgekom. Ek moet byvoeg dat as mens, en veral as ma, het ek ’n baie lae toleransie vir boelies. Ek maak ’n punt daarvan om my kinders te leer dat boelies eintlik mense is wat hulself nie kan liefhê nie. Daarom is boelies mense vir wie ons jammer moet voel, want hulle harte is so seer dat hulle ander seer maak om beter te voel oor hulself. Hopelik is Michelle een van die tipe karakters wat kykers sal love to hate.

Musiek was nog altyd deel van jou loopbaan, en jou vertolking van Die Barones in die onlangse produksie van The Sound of Music het groot lof gekry. Wat geniet jy die meeste van musiekteater? Is daar ’n droomrol waarvoor jy hoop?
Baie dankie vir die kompliment. The Sound of Music, en daarmee saam die rol van Die Barones, was ’n hoogtepunt in my loopbaan en lewe. Die samewerking tussen Cape Town Opera en Pieter Toerien-produksies het hierdie weergawe van Sound of Music ’n spesiale ervaring vir ons as geselskap en ook vir die gehoor gemaak. In terme van droomrolle, het ek ’n lys wat strek oor verskeie genres en produksies, en vir my ouderdom en stem is daar regtig baie om oor opgewonde te raak as dit kom by musiekteater. Maar selfs meer as dit, is my droom om aan te hou doen wat ek doen en die geleenthede wat oor my pad kom (en binne my kapasiteit as vrou en ma val), met ope arms aan te gryp en soos met Sound of Music my beste te gee, aan te hou groei en voluit te lewe.

Waarmee is jy anders besig die res van die jaar?
Ek is baie dankbaar om reeds ’n hele paar vooruitsigte vir die res van hierdie jaar te hê wat heelwat stemwerk insluit. Onder andere vertolk ek twee rolle in twee oorgeklankte reekse wat op M-Net uitgesaai gaan word, waarvan een in Engels en die ander een in Afrikaans is. Ek sing later vanjaar by die Afri-Duetfees en is betrokke by die Pronk Podium-platform. Ek is ook baie opgewonde oor my betrokkenheid by ’n nuwe oorspronklike plaaslike musiekblyspel wat later vanjaar op die planke gaan wees by die AfriForum Teater. #watchthisspace

Verder doen ek graag oudisies soos wat daar geleenthede kom, en ek glo die regte rol sal op die regte tyd in plek val. Ek het ook heelwat projekte, soos byvoorbeeld die kindermusiekgroep Die Rakkers, wat my aandag vereis. Dit is regtig ’n voorreg om lekker besig te wees, en ek is baie dankbaar daarvoor.

Dis 16 Junie Vadersdag. Wat is die waardevolste les wat jy by jou pa geleer het?
Ek het baie liefde en respek vir my pa, Rouel Beukes, en ek het al baie lesse by hom geleer. Maar ek dink veral in terme van my loopbaan, het hy my geleer dat ’n goeie gesindheid en harde werk nooit onderskat moet word nie en om altyd met ’n dankbare hart God se goedheid en guns in jou lewe te erken.

  • Diepe waters is van Maandae tot Donderdae om 18:30 op kykNET (DStv-kanaal 144) en is ook beskikbaar op DStv Stream en Catch Up.