Logo
In die sop
web uni tv guide

In Die Sop

144RealiteitPG13 L

Misi Overturf bieg oor wat haar hartsnare roer tydens “In die sop”-transformasies

Nuus
30 Mei 2024
Misi Overturf gesels oor haar inspirasies, wat nie onderhandelbaar vir haar is nie en nog vele meer.
Misi Overturf

Talle kykers is weekliks opgewonde om te sien hoe Misi Overturf, dekorkenner, haar towerstaffie swaai en groot transformasie bring aan  restaurante – regoor die land – wat in die sop is.

Die laaste episode van In die sop het op Woensdag 29 Mei 2024 op kykNET verskyn, waar Misi en Bertus Basson, die bekende sjef en aanbieder van die program, ‘n restaurant in Linden in Johannesburg getransformeer het.

Misi het onder meer vertel wat haar hoogtepunte was in die seisoen.

Vertel vir ons van die aangrypende oomblikke wat nie vasgevang was deur die kamera nie.

Elke episode het waarlik unieke ervaringe agter-die-skerms: Van die begin af toe ek by Suzie’s (Huisrestaurant) opgedaag het, was daar hierdie heerlike warm en gesellige gevoel wat ek ervaar het. Hierdie is twee ouer mense wat baie hard werk, saam met hulle seun, om nie net kop bo water te hou nie, maar waarlik ‘n verskil te maak in hulle gemeenskap. Hulle skep ‘n veilige omgewing. Dis iets wat my altyd sal bybly.

Café Lemur is gevestig by Exotic Animal World. Dis geen geheim dat ek ‘n groot liefde vir diere het nie, maar daardie diertjies het regtig my hart gesteel en ek kon myself nie inhou om gereeld met hulle te gaan “gesels” nie. Dis ‘n plek waarheen mense hulle kinders moet neem! Henno (Smit) is ‘n alleen-besigheidseienaar en ek voel vir hom: Ek weet hoe uitdagend dit is om die regte besigheid-besuite te moet neem en soms te voel jy staan alleen. Mens moet nooit bang wees om vir hulp te vra nie.

Ferdi (Joubert) van Pearly Beach Klub se storie is aangrypend. Hy is eintlik siek en broos, maar sy positiwiteit en sy kosbare vriendskap met Kosie (van der Merwe) en die lede van die hengelklub is weereens ‘n bewys dat jy altyd ‘n goeie vriend kan wees; altyd kan groot droom en ‘n verskil kan maak. Mind over matter!

Die Swartberg Hotel in Prince Albert is baie na aan my hart. Ek het ‘n ding vir ou geboue, bewaring en ouwêreldse sjarme. Ek kon myself behoorlik nie inhou om met al daardie mooi te werk en die omvattende ervaring wat ons daar geskep het nie.

Die lys gaan aan en aan, maar sekerlik die hartsnaar-ervaring van hoe stories bymekaarkom hierdie seisoen, is hoe my eie ma se versorgings-kamer in haar laaste weke, die Durbanville kinderhuis se episode laat realiseer het. Ek het ‘n groot passie vir versorgings-eenhede, hospitale en ouetehuise en dat ons ervarings met sulke ruimte mooi moet wees.

Wat is jou gunsteling ding om te doen of om te ervaar agter-die-skerms?

Om met ‘n konsep op te kom is nie sommer iets wat net gebeur nie – ek is letterlik ure in my kop en hart besig daarmee omdat ek ‘n intense aanvoeling het vir spasies en wat ek glo daarin moet gebeur, maar ook om eerlik te wees ten opsigte van wat die eienaars se gevoel is om na die tafel te bring.

Die gesprekke met my span, Bertus Basson en die verskaffers is ‘n kreatiewe proses wat ek nie net geniet nie, maar geweldige respek voor het.

Wat is jou gunsteling doen-dit-jouself (DIY) gereedskap?

Daar is baie tools wat my gunstelinge is – die regte tool moet die job at hand doen! Ek kan nie sonder my maatband, my notaboek of iPad leef nie en ons is baie lief vir High Tack om mee te plak!

Is daar 'n DIY tool wat jy altyd op jou dra? 

‘n Potlood, ‘n maatband en ek het ‘n lekker outydse gereedskapsak wat meestal deurmekaar is en ‘n oulike battery boor-stel.

Watter tendense sien jy deesdae, veral as dit kom by kleure en patrone vir dekor by restaurante? 

Ek kry my inspirasie uit ‘n omgewing en ook van die plekke wat ek besoek as ek reis. Daar is nogal ‘n neiging na aardse kleure, erdeware, rottang en linne, maar ek is persoonlik nogal lief vir kleure en teksture wat bietjie vintage is.

Watter kleure dink jy moet restaurant-eienaars van wegbly? 

Persoonlik dink ek kleur kan deel van ‘n identiteit wees en as jy ‘n identiteit goed vasgevang het, kan kleure baie opwindend wees in ‘n spasie en die ervaring wat dit bied. Dit gaan meer oor hoe die visuele storie saam geweef word.

In die program "In die sop" sien ons hoe jy baie kere tydens 'n transformasie 'n spasie goed belig. Hoekom is goeie beligting in 'n eetplek belangrik? 

Beligting het ‘n geweldige invloed op atmosfeer, maar dit is ook ‘n manier om noodsaaklike elemente in die kollig te plaas. Daarmee saam: Mens moet kan sien wat op ‘n spyskaart staan.

Kan jy vir ons 'n paar wenke gee van hoe iemand 'n plek kan ophelder? 

Dit hang regtig af van spasie tot spasie, maar ek glo daaraan dat mens met verskillende teksture moet werk en altyd seker maak die verfkleur is reg.

Ons het in een episode gesien dat jy ’n gekraakte wasbak gekry het toe dit afgelewer word. Vertel ons van ander DIY-oomblikke wat jy gehad het.

By Kruis Koffie moes ons in plaas van muurpapier eerder met die opsie van verf gaan. Dit was ‘n enorme proses, en ek wens ek’t getel deur hoeveel penne ons op die ou einde is. Ons het die winkels se penne opgekoop, maar dit was so absoluut die moeite werd.

By Café Lemur was die latte in die dak nie genoeg nie en moes ons eerder “screens” bou. Dit het baie mooi uitgewerk, maar het die tydlyn taamlik beïnvloed.

By Suzie’s het die kragonderbrekings en die droog van pleisterwerk taamlik teen ons gewerk. Ek is geweldig trots op hoe die span met hierdie spanning saamwerk.

Laastens, watter les of lesse het hierdie seisoen van In die sop vir jou geleer? 

Moet nooit sonder ‘n span werk wat nie jou visie deel nie. Ek kies my verskaffers baie selektief vir projekte soos In Die Sop. Om seker te maak die visie kom tot sy reg, moet daar 200% commitment wees van almal saam met wie jy werk om te verseker jy lewer ‘n praktiese en kwaliteit produk, binne tyd.

Ek onderhandel oor baie dinge, maar nie my verskaffers nie, want as mense die restaurante gaan besoek gaan hulle my werk oordeel. Dis maar ‘n Overturf-ding – my ouers het my geleer om met trots jou naam aan ‘n projek te koppel en as mense met jou begin arm druk oor kwaliteit moet jy eerder nie betrokke raak nie of verduidelik dat als teen ‘n prys kom, ook jou naam.

In die sop: Restaurant-evolusie is beskikbaar op DStv Stream.