Logo
Diepe waters
web uni tv guide

Diepe Waters

144Telenovela13 VL

Mandi du Plooy-Baard terug in "Diepe waters"

Nuus
07 Junie 2024
Die akteur belowe dat kykers gaan hierdie keer die ware Theresa ontmoet.
Mandi du Plooy-Baard

Mandi du Plooy-Baard was voorheen in Diepe Waters te sien as Theresa. Sy en Jacques (Werner Coetzer) was jare gelede kortstondig saam en sy het swanger geraak. Jacques se pa, Gys, was woedend en hulle moes die swangerskap wegsteek. Dit het uiteindelik uitgekom dat Johan, wat Sanet en Rossouw as hulle eie die kind groot gemaak het, die baba is wat weggesteek moes word.

Nou is Theresa terug... Mandi vertel meer oor haar terugkeer vanaf Maandag 10 Junie.

Kykers het al vir Theresa leer ken, maar vertel ons meer van wat ons hierdie keer kan verwag?
Hierdie keer ontmoet hulle ’n nuwe Theresa. Oftewel, die ware Theresa. Dit beteken nie alles verloop maklik en vlot nie, maar haar hart is ligter en sy is vasbeslote om haarself weer te vind en haar lewe terug te wen.

Wat geniet jy van die rol?
Ek is mal oor die diepte van my karakter. Die seer in haar donkerste tyd, haar vrese, maar ook haar egte menswees. Dit is ’n karakter wat vir mens die geleentheid bied om wonderlike storielyne aan te pak en belangrike stories te vertel wat gehoor moet word.



Glo jy geheime het altyd ’n manier om uit te kom?
Sjoe, dis moeilik. Ek dink so ja, want ek kan nie dink hoe mense eerstens so opgekrop kan loop nie. En ek weet nie hoé mense al die leuens kan onthou nie.

Wat is die geheim of onopgeloste saak waaroor jy die nuuskierigste is?
Madeleine McCann, die meisie wat in Brittanje weggeraak het en Inge Lotz se moordsaak. Ná al hierdie jare spook die sake nog by my. Ek kan my nie indink dat hulle arme ouers steeds nie “closure” kan kry nie.

Waarmee is jy anders besig die res van die jaar?
Ek doen gereeld oorklankingswerk en motiveringspraatjies en is ook tans besig om aan Leon van Nierop se nuutste radiovervolgverhaal te werk. Radioteater is beslis ’n hoogtepunt vir my en iets wat ek elke dag sal kan doen. Verder is ek mamma, so dit hou my baaaaie besig!

Teenoor wie sal jy wil speel?
Ek het al die voorreg gehad om teenoor ongelooflike Suid-Afrikaanse akteurs te speel en by hulle te leer. Dit bly ’n lekkerte om vir die eerste keer saam met iemand te werk, nuwe talent of ouer ervare akteurs. Maar ek dink tog ek neig na ’n Hollywood akteur of twee. Sandra Bullock - ek is mal oor haar as aktrise – en Gerard Butler waaroor ek sekerlik nie nodig het om oor uit te brei nie.

Dis 16 Junie Vadersdag. Wat is die waardevolste les wat jy by jou pa geleer het?
Ek het baie beslis die beste pa in die wêreld (behalwe vir my kinders wat net so ’n fantastiese pa het) en ek ken nie nog iemand wat altyd so ’n positiewe uitkyk kan behou nie. My pa laat altyd ’n mens beter voel wanneer hy daar wegloop, want hy straal hoop! En selfs wanneer hy self al struikelblokke in die pad gehad het, het hy steeds die vermoë gehad om die positiewe daarin raak te sien.

  • Diepe waters is van Maandae tot Donderdae om 18:30 op kykNET (DStv-kanaal 144) en is ook beskikbaar op DStv Stream.