Logo
Kokkedoor Vuur & Vlam
web uni tv guide

Kokkedoor: Vuur en Vlam

144Realiteit13 L

‘Kokkedoor Vuur & Vlam’: Die gesogte goue haan kry twee nuwe tuistes!

Nuus
19 Oktober 2023
Vandeesweek was die laaste keer dat twee spanne mekaar die stryd aangesê het in dié boeiende koswerkliheidsreeks van 13 episodes wat deur kykNET aangebied word.
Kokkedoor Vuur & Vlam

Die reeks was tot boordens gevul met fenomenale uitdagings, waardevolle kos- én lewenslesse, nuwe vriendskappe, trane en ook wel ’n blaps of twee – maar die positiewe gees waarin die kompetisie plaasgevind het, het deurentyd hoogty gevier.

Beoordelaars Bertus Basson en Kobus Botha het die moeilike taak gehad om die aanvanklike 20 deelnemers (10 onthoubraaiers en 10 kinkelbraaiers) se kennis van kos en hul vuur-vernuf oor die afgelope 13 episodes op die proef te stel en te beoordeel.

In vandeesweek se finale episode was dit ’n emosionele wipwarit vir almal betrokke – die onsekerheid oor die uitdaging, die onsekerheid of daar genoeg gedoen is vir ’n wen en die wete dat dit die laaste keer in die Kokkedoor-stoor sou wees.

Die uitdaging

Kinkelbraaier Kevin en onthoubraaier Nataan het teen onthoubraaier Karen en kinkelbraaier Gert te staan gekom vir die laaste uitdaging wat oor vyf ure gestrek het.

Soos gewoonlik was daar baie kinkels en dit was duidelik dat hierdie geen gewone uitdaging sou wees nie – nie met sewe disse op die spyskaart nie.

  1. ’n Peuselhappie, oftewel oepsie soos Bertus dit noem, wat deur duiwelruiters geïnspireer is. (Duiwelruiters is ’n pruimedant met ’n stukkie spek om dit gedraai)
  2. ’n Wildspastei
  3. ’n Groot beessnit + enige ander vleisgereg van hul keuse. Een gereg moet op ’n kruispunt gedoen word en een op ’n Sweedse fakkelvuur (oftewel stomp-gat soos dit plaaslik bekend staan)
  4. Surt & Turf met ’n implement wat in Spanje gebruik word – so het paella op die spyskaart beland
  5. ’n Brood wat gebak of gebraai is
  6. Bykosse van elke span se eie keuse
  7. ’n Vlammende verjaarsdaggebak moet bedien word – en iets móét brand . . .
  8. Elke span moet vir 30 gaste voorberei


Die viertal kon kwalik asemhaal terwyl hul take net al hoe meer geword het. Maar daar was baie goeie nuus, gevolg deur nog beter nuus.

Eerstens het hulle die res van die dag tot hul beskikking gehad om te beplan vir die eintlike werk die volgende dag.

En dan die beste nuus: die spanne moes mekaar die stryd aansê met ’n speletjie om te bepaal wie eerste kan kies uit die vorige Kokkedoor Vuur & Vlam-deelnemers om hulle te help met die uitdaging!

Skielik het die reuse Jenga-houtblokke wat in die stoor was, sin gemaak.

Ongelukkig het onthoubraaier Nataan en kinkelbraaier Kevin tydens ’n spannende kompetisie die konstruksie inmekaar laat tuimel. Hul opposisie het dus eerste keuse gehad om te kies.

Onthoubraaier Karen en kinkelbraaier Gert se span

  1. Onthoubraaier Joubert & kinkelbraaier Cindy
  2. Onthoubraaier Anel & kinkelbraaier Ashley
  3. Onthoubraaier Jan & kinkelbraaier Tjaart
  4. Onthoubraaier Francois & kinkelbraaier Braam

Onthoubraaier Nataan en kinkelbraaier Kevin se span

  1. Onthoubraaier Bertus & kinkelbraaier Natalie
  2. Onthoubraaier Nicole & kinkelbraaier Lara van Heerden
  3. Onthoubraaier Lara van der Merwe & kinkelbraaier Borries
  4. Onthoubraaier Rodney & kinkelbraaier Mandre

Dit het omtrent woelig gegaan met 20 pare hande en voete eensklaps weer woelig in die kombuis en buite voor die vure. Die onus het swaar op die twee spanne in die finaal se skouers gerus om ook seker te maak hul spanne volg hul instruksies en resepte.

Dit het by tye warm geraak onder die boordjie, en ander kere is daar weer heerlik gelag. Die sweet het getap, die honger vuur is gevoed en die disse het een na die ander lieflik gestalte aangeneem.

Kinkelbraaier Gert het gesê hulle span kook voorwaar asof hulle sélf in die finaal is en dit het hom verheug.

Geen einde aan kinkels nie

Dit was ’n moeë maar gelukkige groep Kokkedore wat onder begeleiding van ’n orkes, en gevolg deur hul gaste die koue trotseer het om vanaf die kaai te loop tot by die restaurant waar hulle disse gewag het om beoordeel te word.

Bertus het aangekondig dat kykNET en Lion (die vervaardiger van vuurhoutjies en -aanstekers) het bekend gemaak dat hulle R200 000 aan die naaswenners gaan skenk. Dit het al vier deelnemers se oë dadelik laat blink, want dit het beteken niemand gaan met leë hande huis toe na dié uitmergelende weke van hul lewe nie.

Proetyd

Onthoubraaier Karen en kinkelbraaier Gert se duiwelruiters was wonderlik terwyl hulle riboogsteak perfek gaargemaak is. Die wildspastei het pragtig gelyk maar ’n bietjie sous binne-in gekort. Die koek is as fabelagtig beskryf.

Onthoubraaier Nataan en kinkelbraaier Kevin se duiwelsruiters was uitsteken en hul rib uitmuntend. Hul Thor’s hammer was ’n goeie idee en alhoewel dit sappig aan die buitekant was, was dit taai teen die been. Verder was hul kaaskoek en pampoenspons ’n show-stopper aldus Bertus.

En die goue hane gaan aan . . .

“Die span wat ons weggevoer het met die mees manjifieke vuur-vertoning – Gert en Karen,” was Bertus se woorde.

Dit was ’n kakofonie van klank en vuur toe die twee luid deur hul mede-braaiers toegejuig is. En natuurlik is daar weer ’n traan of twintig gestort, want hierdie onthoubraaiers en kinkelbraaiers het deurentyd bewys hulle is ook omgeebraaiers.

Onthoubraaier Karen

“Kokkedoor het my lewe verander! Dit het my wildste verwagtinge oortref. Ek het die wonderlikste mense ontmoet, my keerpunt in my lewe gevind en myself herontdek. Dit beteken alles vir my!” het ’n jubelende Karen laat hoor. Sy sê sy het weer eens besef hoe veerkragtig sy werklik is.

Vir haar was die rugby-episode (Episode 6) een van die lekkerste episodes.

“Ons het almal vet pret gehad en ons het soos ’n enigheid gevoel wat daardie dag saam gebraai het.”

Laagtepunte was daar nie juis vir haar nie.

“Ek het myself só geniet met elke episode en was dankbaar vir elke dag in die Kokkedoor-stoor. Die moeilikste ding was om aan die program deel te neem terwyl ek deur ’n egskeiding moes gaan. Maar die Here is ongelooflik goed vir my.”

Haar gedeelte van die wengeld gaan help dat sy ’n kar kan koop, haar kinders se studiegeld kan betaal en haar nuwe verantwoordelikhede as enkelouer die hoof kan bied.

“Alles is nog vir my só onwerklik. Ek is baie dankbaar vir die nuwe begin.”

Kinkelbraaier Gert

Sy vrou het hom ingeskryf en dit het baie gemengde gevoelens by hom ontlok. Tot waar hy uitgevind het hy het die oudisies geslaag.

“Dit was soos ’n bom van geluk wat ontplof het,” het die sagte reus laat hoor.

“Die wen gaan om veel meer as finansiële stabiliteit. Dit het my weer my selfvertroue as ’n sjef teruggegee en my geleer daar is nog iets oor in my sjef-loopbaan.”

Hy vertel ook dat hy baie geleer het en dat dit moontlik is om jouself nog te kan verras. Sy spanmaat Karen het vir hom geleer dat alles wat jy op die stoof en in die oond kan doen, ewe goed op vuur gedoen kan word.

Sy lekkerste uitdaging in die vorige episodes was die vark-episode (Episode 10) waar dit maar sukkel-sukkel met hom en sy destydse nuwe spanmaat, onthoubraaier Joubert, gegaan het. Maar toe vind hulle hul voete en wen daardie uitdaging.

Die oervuur het sy vertroue geknak toe hy die wors verkeerd gebraai het. Onthoubraaier Anel het haar vertroue in hom verloor en dit was nie vir hom lekker nie.

“Net omdat ’n mens een fout gemaak het, was dit die einde van vertroue en spanwerk.”

Hy en sy vrou gaan met sy gedeelte van die wengeld hul restaurant-skuld delg. Daarna beoog hulle om hul seuntjie op ’n vakansie te neem en die res spaar vir hul trek Kaap toe.

Gaan Kokkedoor Vuur & Vlam ook soos ’n kampioen-haan koning kraai?

Kokkedoor Vuur & Vlam is as ’n finalis benoem in die kategorie vir Werklikheidsprogram van die jaar in die TBI Content Innovation Awards 2023. Groot kanonne in die bedryf, waaronder YouTube, Cineflix Rights en BBC Studios, was onder verlede jaar se wenners.

Vanjaar se wenners word 18 Oktober in Cannes, Frankryk by ’n handelskou vir die televisiebedryf, International Market of Communications Programmes, aangekondig.

Kokkedoor Vuur & Vlam’ wys Donderdagaande om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) of kyk dit op DStv Stream.