Logo
web uni tv guide

Bolhuis Beslis

144Realiteit13 L

In Julie begin Bolhuis beslis oor netelige sake op kykNET

Nuus
11 Junie 2024
Bolhuis beslis begin op 9 Julie 2024 op kykNET (DStv-kanaal 144) en sal ook op DStv Stream en Catch Up beskikbaar wees.
Bolhuis beslis

Dis die klein jakkalsies wat ’n wingerd kan verwoes. Wat begin as ’n ligte onderonsie, kan maklik ontaard in ’n volskaalse bakleiery. In Bolhuis beslis is dit juis hierdie sake wat aangespreek word. In die arbiter-stoel is die bekende privaat speurder Mike Bolhuis wat na al die kante van die storie gaan luister en dan besluit wie reg en wie verkeerd is. 

“Hierdie program is net weer eens ’n bewys dat klein gevegte tussen partye baie vinnig kan uitkring en vererger,” sê Mike. “En dis gewoonlik maklik oplosbaar. Jy sal nie glo hoeveel sake soos hierdie daar is nie.”



In een episode leer ons onder meer vir Alta ken, wat ’n spysenier gevra het om ’n koek vir haar seun se 21ste verjaardag te bak. Die spysenier het egter die versoek misverstaan, en wat ’n sogenaamde naked cake – ’n koek met min versiersuiker moes wees – word toe ’n koek in die vorm van ’n kaal vrou.

Dan is daar Yaella van Heidelberg wat op sosiale media uitgevaar het teen Heidi, die administreerder van die Facebook-groep die Heidelbergse Geselsgroepie, nadat Heidi ’n onvanpaste plasing van Yaella op haar groep verwyder het. ’n Lelike bekgeveg het toe tussen die twee ontstaan, en dit het die dorp aan die gons gehad.

In nog ’n episode ontmoet kykers vir Eben, wie se stokperdjie is om met resiesduiwe te vlieg. Sy vrou, Amber, voel egter dat dit ’n obsessie geraak het. Eben gee volgens haar te min aandag aan die gesin en te veel aan sy duiwe. Sy reken ook daar word te veel geld op die duiwe spandeer, en Eben sukkel om ’n balans te handhaaf. Amber was raadop en het besluit om Mike te nader en ’n ultimatum aan haar man te stel.

Die vervaardigers van die program is Provoco, Rian van Heerden se produksiemaatskappy, wat ook vir trefferprogramme soos Bolhuis, Laataand by Rian, Liefde sonder grense en Die siener verantwoordelik was.

“Om Mike in ’n heeltemal ander rol te sien – hierdie keer om geskille tussen partye op te los – is omtrent ’n wipwaentjierit,” sê Rian. “Mike gee ons ook ’n kykie in sy daaglikse lewe wat ons nog nie voorheen beleef het nie. Hierdie program is een om na uit sien.”

Bolhuis beslis begin op 9 Julie 2024 om 21:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) en sal ook op DStv Stream en Catch Up beskikbaar wees.