Logo
Koortjies 970x90
web uni tv guide

Koortjies Met Jonathan Rubain

145GeselsprogramPG

En ‘Koortjies’ se nuwe aanbieder is...

Nuus
17 Mei 2024
Die bekende Pinkstersanger en 'Idols'-deelnemer Elwira Standili is die nuwe aanbieder van 'Koortjies'.
Die bekende Pinkstersanger en Idols-deelnemer Elwira Standili is die nuwe aanbieder van Koortjies.

Sy vervang vir Jonathan Rubain wat in April aangekondig het dat hy dié kykNET & kie-gospelprogram, wat hy sedert 2020 aangebied het, groet. 

Elwira is ’n boorling van Worcester en sy het ook al as ’n gaskunstenaar op Koortjies opgetree.   

Sy sê sy was nog altyd ’n groot Koortjies-aanhanger en dat sy dit gereeld Sondae saam met haar familie kyk. 

“Dit is ’n understatement dat ek opgewonde is oor hierdie ongelooflike geleentheid wat oor my pad gekom het,” sê sy.  

“Ek is soos letterlik uit my vel uit excited vir die nuwe journey en is so dankbaar vir die geleentheid, dankbaar vir die Here en dankbaar vir die mense wat my gekies het.

“Ek weet die journey gaan vir my baie challenge, maar ek staan nie terug vir ’n challenge nie.” 

Volgens Elwira kan sy met sekerheid sê dat sy reg is om die leisels by Jonathan oor te neem.

“Ek dink die blueprint van Koortjies is klaar daar: ons deel reeds inspirerende stories, en mense kom lewer getuienis.

Maar sy vertel dat sy gereed is om iets nuuts na die program te bring. 

“Mense het al vir my gevra wat bedoel ek met ‘iets nuuts’ en dan is my antwoord ‘myself’, want my persoonlikheid sal ’n ander dimensie aan Koortjies gee.

“Die feit dat ek ’n vroulike aanbieder is, is immers reeds ’n verandering,” sê Elwira. 

Elwira beskryf Koortjies as ’n “baanbrekerprogram”, want toe die reeks in 2020 aan die begin van die Covid-19-pandemie afgeskop het, was dit in ’n tyd wat talle mense “hopeloos” gevoel het. 

“Mense kon nie kerk toe gaan nie, maar met kykNET & kie se Koortjies kon ons steeds die kerk ervaar het – veral soos wat ons bruinmense kerk leer ken het en hoe ons kerk geleef het.

“Dit het ook die Pinkster community bymekaar gebring en ons het eerlikwaar gesien hoe groot dit eintlik in Suid-Afrika, en in Namibië, is.”

Sy verduidelik ook dat Koortjies daarin slaag om ’n verskil in mense se lewens te maak met getuienisse van bekendes en Jan Alleman. 

“Koortjies vertel soveel inspirerende en lewensveranderende stories.”

’n Ander belangrike bestanddeel van die Koortjies-wenresep volgens Elwira is die musiek op die program.

“Ek kan onthou toe ek die eerste keer Sy Hand, my eerste gospel-enkelsnit, op Koortjies gesing het, het dit “ge-trend”, maar nie oor dit ‘kwaai’ was nie, maar omdat mense regtigwaar in daai tyd nodig gehad het dit om te hoor.  

“Dié liedjie het berusting gegee dat Sy hand red ons. Sy hand verlos ons, Sy hand bevry ons.”

  • ‘Koortjies’ met Elwira Standili begin op Sondag 14 Julie op kykNET & Kie, kanaal 145 op DStv uitsaai.