Logo
Diepe waters
web uni tv guide

Diepe Waters

144Telenovela13 VL

Die twee kante van Luan in "Diepe waters"

Nuus
21 Mei 2024
Die akteur vertel dat sy karakter "Damian" is ’n "bitter aangename knaap wat almal se drome op sy hart dra". Lees meer.
Luan Jacobs

Die talentvolle Luan Jacobs, wat ’n rits films, TV-reekse en verhoogproduksies agter sy naam het, maak op 21 Mei sy eerste verskyning in Diepe waters. Maar sy karakter is nie wie kykers dink hy is nie.

Vertel ons meer van die karakter.

Ek vertolk die rol van Damian. Hy is ’n bitter aangename knaap wat almal se drome op sy hart dra. Hy werk vir ’n maatskappy wat swemmers Amerika toe stuur om hulle gereed te maak vir die Olimpiese Spele. Damian is agtermekaar en baie noukeurig met sy voorbereiding, maar hy dra wel geweldig swaar aan ’n wond wat hy vir almal wegsteek. Meer mag ek nog nie sê nie.

Wat het jy die meeste geniet van die rol? 

’n Goeie teks en storielyn is baie yl gesaai. Die feit dat hierdie rol al twee bevat, is iets wat my aangetrek het. Ek het ook die geselskap agter en voor die kameras geweldig geniet. Ons het vinnig vriende geword. Diepe waters het my op die hande gedra, en dit was aangenaam om weer teenoor ou vriende soos Neels, Reze-Tiana, Werner en Eloïse die silwerkassie te geniet.

Verhoog, TV, films … Jy het al oral jou slag gewys. Het jy ’n gunsteling? 

Die omstrede vraag! Akteurs vra gereeld vir ander akteurs die vraag en dan word oordeel oor jou uitgespreek as jy nie teater kies nie. Vir my is dit al drie. As die werk interessant is en die teks goed is, is ek daar. Iets waaraan ek nog altyd baie hard werk, is om konsekwent te bly in alles wat oor my pad kom. Daar is elemente in elke medium wat sy eie aantrekkingskrag het en waarby ek baie baat. Maar as mens my sou dreig om te kies, is dit op hierdie stadium TV en films. Dié mediums is aantreklik as gevolg van die pas en die plek-spesifieke natuur wat daarin opgesluit is. Mens moet bo-op ’n trein se dak skiet as dit só geskryf is, soos in Ballade vir ’n enkeling, of twee maande in die Karoo gaan ronddraf, soos in Jagveld, of in die Kaap gaan skiet as die storie in die Kaap afspeel, soos in Fynskrif. Die lys gaan aan, maar die reis-opsies en die genot van die spel spreek tot my.

Wat is jou planne vir die res van die jaar? 

Ek sê altyd: “Ek slaap min, maar wanneer ek slaap, slaap ek lekker.” Ek hardloop op die oomblik rond met ’n hele paar projekte. Ek het so pas drie teaterproduksies vervaardig wat deur sewe provinsies toer. By RSG is ek ’n regisseur wat in pre-poduksie is met ’n nuwe projek wat in Julie begin, en ek werk aan my eerste eenmanvertoning – Ballade van ’n blikbrein – wat by Innibos te sien gaan wees. Ek skryf ook aan ’n fantasiefliek, wat later die jaar verfilm gaan word, en ek is ’n senior lektor vir teater en radio by PALI (The Performing Arts Lifestyle Institute). My eerste boek, Om teen treine te skree, verskyn eersdaags by NB-Uitgewers. Ek doen stemwerk vir drie verskillende oorklankingsreekse wat oor ’n paar kanale strek, en dan gaan ek weer een van die beoordelaars van die jaarlikse Pronk Podium-kompetisie wees. Ek skryf ook aan twee romans wat ek hoop in November by die uitgewers sal wees.

As jy minister van kuns en kultuur kan wees, wat is die eerste ding wat jy sal doen? 

Daar lê baie genesing opgesluit in die krag van die kunste. Ek sou ’n vorm van streeksrade terugbring wat strek oor al ons land se tale. Dit sal die mensdom nader aan mekaar trek en nie toelaat dat mense mekaar verstoot nie. Ek dink dis ’n tyd vir genesing, meer as ’n tyd vir verwyt. Die kunste het die krag om mense die vermoë te gee om mekaar te verstaan. Ek sou ook seker maak dat my planne in plek is om president van ons land te word en ’n paar strawwe teen korrupsie uit te deel. 

Watter Suid-Afrikaanse storie sal jy graag ’n fliek van wil maak? 

Basies alles wat ek al ooit geskryf het en vervaardig het in ander mediums. Film is ’n medium wat sy tyd vasvang in terme van beskikbare tegnologiese hulpbronne en die temas waaraan die mense kou. Daar is ’n ewigheidswaarde betrokke by die maak van ’n film. Ek glo daar is ook soveel stories wat nie vertel word nie in ons geskiedenis, soos Wolraad Woltemade en Daisy de Melker, en dalk is daar plek vir ’n Suid-Afrikaanse superheld. Ek dink daar is ’n herlewing in die vermaaklikheidswêreld tans met dié dat mense nie meer bang is om oor kontroversiële temas te praat nie en die platforms gegun word. Solank dit smaakvol gedoen word, is ek baie gelukkig.

Teenoor wie sal jy nog graag wil speel? 

Wyle Robin Williams, Tom Hardy, Benedict Cumberbatch, Margot Robbie, Leonardo DiCaprio, Lee Pace, Tom Hanks, Angelina Jolie, die lys gaan aan en aan.

Nasionaal beslis enige tyd weer saam met Neels van Jaarsveld, Wessel Pretorius, Edwin van der Walt, Je-ani Swiegelaar, Germandt Geldenhuys en Cindy Swanepoel. Eintlik almal wat lekker mense is en baie respek het vir wat ons doen.

Diepe Waters is elke Maandag tot Donderdag om 18:30 op kykNET (DStv-kanaal 144), asook op DStv Stream.