kyknet channel logo

Wilhelm trek Boekklub se Tom se skoene aan

Nuus
01 April 2016
Armand Aucamp, wat tot dusver die rol van Tom vertolk het, sal in die laaste episode van Die Boekklub deur die akteur Wilhelm van der Walt vervang word.
Wilhelm van der Walt 7de Laan

Wilhelm van der Walt. Foto: www.sewendelaan.co.za

Op Dinsdag 5 April neem ons afskeid van die karakters van Die Boekklub wat ons die afgelope paar weke leer ken en liefgekry het.

In die laaste episode word ou liefde ontdek, nuwe verhoudings begin en Tom moet die grootste besluit van sy lewe neem.

Die akteur Armand Aucamp, wat tot dusver die rol van Tom vertolk het, sal egter in die laaste episode deur die akteur Wilhelm van der Walt vervang word, aangesien Armand nie beskikbaar was vir die verfilming van die laaste episode nie.

“Dit was uiteraard hartseer om van Armand afskeid te neem vir die laaste episode, maar Wilhelm het ’n wonderlike karakter geskep,” sê die skrywer en vervaardiger van die reeks, Louis Pretorius.

Wilhelm is opgewonde om ’n verskyning in die reeks te maak in só ’n groot rol. “Dit was baie moeilik om so laat in die proses oor te neem, maar dit was ’n wonderlike ervaring,” sê hy. “Ek hoop die kykers geniet my vertolking van Tom.”

Armand is spyt dat hy nie deel van die laaste episode kon wees nie. “Baie dankie vir al die kykers se lojale ondersteuning die afgelope 12 weke,” sê hy. “Ek glo dat Wilhelm die kern van Tom se karakter vasgevang het in episode 13 en waardeer dat hy kon uithelp! Ek is seker dat kykers die laaste episode baie gaan geniet.”

Hierdie artikel was ’n April-grap! Armand Aucamp gaan wel in die laaste episode van van Die Boekklub, 5 April om 20:30, te sien wees.