web uni tv guide
web uni tv guide

Nêrens, Noord-Kaap

144Drama13 L

Vyf redes om 'Nêrens, Noord-Kaap Deel II' te kyk

Nuus
16 September 2024
Nêrens, Noord-Kaap is ’n geskenk wat in lae papier toegedraai is en stadig oopgemaak en waardeer moet word. Die M-Net-kanaaldirekteur vir Premium-kanale, Waldimar Pelser, het die reeks by die pas afgelope Silwerskermfees beskryf as ’n kunsrolprent wat in episodes verdeel is.
Nêrens, Noord-Kaap Deel II

’n Reeks dus soos geen ander nie; een waar jy nie vir ’n oomblik jou oë van die skerm af kan hou nie – nie net vir die uitstekende vertolkings nie, maar ook vir die visuele en musikale meesterstuk wat dit is. Dis ’n verhaal met sy wortels stewig in Suid-Afrika geplant, maar ook so universeel in sy temas van familiebande, hartseer, rou, merke wat die verlede laat, vreugde, die soeke na ’n plek waar jy behóórt en bowenal die liefde wat vergewe en nie boekhou van die kwaad nie. 

Toe die dramareeks Nêrens, Noord-Kaap in 2021 op kykNET debuteer het, was kykers van die begin af geboei en geroer deur die lief en leed van die Adendorffs en die mense in hulle lewe. Nou, drie jaar later wat gevoel het na ’n ewigheid, is dit tyd vir die tweede deel van hierdie meesleurende verhaal. 

Hier is vyf uitstekende redes om uit te sien na Deel II:

1. Elkeen van die hoofkarakters en die akteurs en aktrises wat hulle speel, is terug vir Nêrens, Noord-Kaap Deel II. Frank Opperman is Pa Lourens, Geon Nel is Frans, Albert Pretorius is Ronnie en De Klerk Oelofse is Andries. Jong Pa Lourens word gespeel deur Gideon Lombard; jong Frans deur Thommi Swanepoel; jong Ronnie deur Lehan Swanepoel en jong Andries deur Johannes Jordaan.

Klein Lourens, Ronnie se seun, word deur Arnold Swart vertolk. Ilse Klink, Dean Balie en Bianca Flanders is terug as Maggie, Jan-Jan en Chrissie. Marion Holm is Ans, Pa Lourens se suster, en die drie vroue in die Adendorff-broers se lewens is Lorrie (Shana Mans), Suzette (Daneel van der Walt) en Fleur (Melissa Willering). Tinarie van Wyk Loots is Katja, die broers se ma wat in ’n motorongeluk gesterf het toe hulle nog kinders was.

2. Die skrywer en regisseur is die veelbekroonde Nico Scheepers. Die reeks is gegrond op sy toneelstuk Nêrens, Noord-Kaap, wat in 2017 by die Vrystaatfees in Bloemfontein debuteer het met Geon, Albert en De Klerk in die rolverdeling. Toe Nico deur kykNET genader is om dit in ’n dramareeks te verwerk, het hy gesê op een voorwaarde: Die rolle van die broers moet deur Geon, Albert en De Klerk gespeel word. Dit was toe ook só.

3. Die wenspan agter die skerms is dieselfde een wat vir die eerste reeks verantwoordelik was. Nagvlug Films is die vervaardigers, en Chris Lotz is die kinematograaf. Franco Prinsloo se meesleurende oorspronklike musiek is weer te hoor met Tim Pringle wat vir die klankontwerp gesorg het. Die reeks is in die Nieuwoudtville-omgewing verfilm, asook in Melkbosstrand en in en om Kaapstad. 

4. In die eerste episode word Frans 40, en daar word partytjie op Lorrie en haar ma se plaas gehou. Ronnie, Suzette en klein Lourens kom van die Kaap af plaas toe, en Andries en Fleur vlieg van Nederland om daar te wees. Pa Lourens, Maggie, Jan-Jan en Chrissie en hulle kinders is ook deel van die feesvieringe. Daar is potjiekos op die spyskaart, en dit neem veral vir Frans terug na hulle kinderdae. 

5. Nêrens, Noord-Kaap Deel II gaan die laaste seisoen van hierdie uitsonderlike reeks wees. “Dit is die konklusie van die storie,” sê Nico oor die besluit om dit Deel II in plaas van seisoen 2 te noem. “Dis soos ’n boek met 26 hoofstukke. Deel I was die eerste dertien, en Deel II is die laaste dertien. Episode 13 van Deel II is asof jy die laaste hoofstuk van ’n storieboek toemaak.”
 

  • Die plek: kykNET (DStv-kanaal 144) 
  • Die tyd: 20:00 
  • Die datum: 17 September 2024 
  • Die dagboekinskrywing: Die eerste episode van Nêrens, Noord-Kaap Deel II
  • Nêrens, Noord-Kaap Deel II sal ook op DStv Stream en Catch Up beskikbaar wees.