web uni tv guide
Fraksie Slim BB
web uni tv guide

Fraksie

144Drama13 VL

“My pa se stories het met Schalk gehelp” – Fraksie

Nuus
13 September 2022
Edwin van der Walt gesels oor dinge agter die skerms van die dramareeks Fraksie, sy planne vir die jaar en nog meer.
Edwin van der Walt Fraksie

Edwin van der Walt is te sien as Schalk Smit in Fraksie, die opwindende nuwe dramareeks wat tot die einde van die jaar Dinsdae om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal) te sien is. Dis ook op Catch Up beskikbaar.

Edwin is ewe bekend vir sy werk op TV, film en in die teater, en met Schalk het hy weer ’n karakter geskep wat kykers gaan wonder of hy ’n held is of nie...

Hoe het jy vir Schalk geskep? Het jy enigiemand as inspirasie gebruik? 

Toe ek die oudisiemateriaal gekry het, het ’n vreemde ding gebeur – dit het nog net een keer voorheen met my gebeur – en dit was dat wanneer jy die teks lees, iets binne in jou dadelik gesnap het wie die persoon is, hoe hy praat, hoe hy homself dra, hoe hy sekere sinne sal sê. Daar het ’n natuurlike iets binne my geskuif; ’n dadelike verstaan van die karakter. Dan begin die werk om met die teks te sit en die karakter te vorm, maar omdat Louis (Pretorius) en Albert (Snyman) sulke wonderlike tekste skryf, is alles daar. Ek hou daarvan om lank in my kamer met ’n teks te sit en dit deur te gaan en opsies te speel. Dit is hoekom toneelspeel vir my so lekker is. Dit is soos ’n portret wat jy maak met skakerings. 

Ek gaan drink elke Vrydagoggend koffie saam met my pa en dan gesels ons oor alles – van ligte onderwerpe tot die uitdagings van die lewe en die resepte wat ons die naweek gaan maak. My pa het deur die jare stories met my gedeel van mense wat hy in die korporatiewe wêreld teëgekom het en ek kon elemente daarvan vir Schalk gebruik. 

Jy speel die pa van twee tieners. Was dit ’n uitdaging? 

Ja, toe ek die teks gelees het, het dit uitgespring. Ek glo jy moet jou huiswerk doen wanneer jy ’n karakter speel wat ’n lewenservaring het wat jy nie het nie. Wat dit vir my makliker gemaak het, was Roeline (Daneel) wat my vrou speel, wel ’n ma is. Sy het baie gehelp om daardie omgewing natuurlik te skep. Ek het ook tussendeur soveel moontlik tyd saam met Alex (van Dyk) en Jana (Malan), wat my kinders speel, deurgebring en baie met hulle gesels oor die lewe. Ons het dinge met mekaar gedeel en so vertroue in mekaar gekry. 

Fraksie het ’n groot en baie sterk rolverdeling. Maak dit spelers se werk makliker? 

Die werk is altyd ’n uitdaging en dit is wat dit so lekker maak. ’n Rolverdeling soos hierdie maak dit wel meer kreatief en dit skep ’n omgewing waar mens veiliger voel. Dis soos wanneer die Springbokke teen die All Blacks speel of wanneer hulle teen Georgië speel. Dit lig jou spelpatroon wanneer jy teen ’n sterker span speel. Net so wanneer jy teen sterk spelers toneelspeel. Dit lig jou want almal bring alles wat hulle het. Dan is dit ook ongelooflike mense wat in hierdie reeks speel. Ons het so ge-bond as ’n groep mense. Alle eer aan Louis en Albert vir die mense wat hulle bymekaar gesit het. 

Jy moes aan die einde van jou skoolloopbaan kies tussen ’n rugbyloopbaan en drama. Is jy nog tevrede met jou besluit? 

Een honderd persent. As ek kyk na hoe groot manne soos Duane Vermeulen is, is ek baie bly ek het die pad gekies wat ek gekies het. Ek mis dit om te speel, maar hierdie wat ek gekies het, kan ek doen tot ek my laaste asem uitblaas. 

Wat hoop jy kry kykers uit Fraksie

Ek hoop eerstens hulle geniet dit. Ons maak TV sodat mense dit geniet. Maar ook dat hulle nuuskierig bly oor mense en dit interessant vind hoe sekere mense dink en doen in die lewe. Ek hou altyd van die morele kwessies en ek hoop mense kan sien daar is mense soos Schalk en Tim (Marlo Minnaar) en Jana (Trix Vivier). En dan hopelik om anders te dink oor mense of hulle anders te hanteer. Verhoudings te verbeter of selfs verhoudings te knip. Vir my is dit lekker om te weet dat ons ’n spieël ophou waarmee ons iets van onsself of van ander mense kan raaksien en dat dit jou op ’n goeie manier kan beïnvloed. 

As jy saam met enige internasionale regisseur kan werk, wie sal dit wees en hoekom? 

Ek is ’n groot aanhanger van Martin Scorsese. Hy het ’n element in sy films wat ’n goeie middeweg vind tussen egtheid, die alledaagse lewe en vermaak. Ook hoe hy met akteurs werk wat ek dink dieselfde is as wat Marthinus Basson met akteurs werk. Marthinus is die persoon in Suid-Afrika saam met wie ek altyd sal wil werk. 

Ek hou van Scorsese se manier waarmee hy met akteurs werk en die vertroue wat hy in hulle sit. Maar ook sy mensekennis en siening van verhoudings. Vir hom is dit belangrik hoe akteurs reageer en dat dit eg is. 

Wat is jou planne vir die res van die jaar? 

Ons gaan ook Aardklop toe met Terminaal 3, ek doen regie van ’n fliek vir die Silwerskermfees en dan is dit Woordfees. Ek en Izél (Van der Merwe) – sy is deel van die redigeringspan op Fraksie - trou op 27 Oktober en sien natuurlik uit na ons wittebrood en bietjie rus. My produksiemaatskappy het ook ’n paar planne vir November en Desember. Ons fokus is op kursusse en meestersklasse vir die film- en teaterindustrie.

Jy kan sewe mense vir ete nooi. Wie is hulle en wat eet julle? 

Ek sal self wil kook en sal vars pasta met Springbok-bolognaise maak. Aan die tafel sal wees my verloofde, Izél, Beer (Adriaanse), Bennie (Fourie), Marlo, Heath Ledger as dit kon, Marthinus met sy stories en dalk Scorsese. Is ek al by sewe? Ook Joost van der Westhuizen en die aktrise Michelle Williams. 

Jou gunsteling-fliek van alle tye? En toneelstuk? 

Daar is baie, maar as ek een moet uitsonder is dit Blue Valentine. Wanneer dit by toneelstukke kom, is dit enigiets wat Marthinus doen. 

Wat is die beste raad wat jy vir Schalk kan gee? 

Dit is nie jou skuld nie. Dis nie nodig om so hard te baklei om jou pa verkeerd te bewys nie. Glo in jouself. Jy is goed genoeg. 

Fraksie word Dinsdae om 20:00 vanaf 13 September op kykNET (DStv-kanaal 144) uitgesaai. Dit sal ook op Catch Up beskikbaar wees.