web uni tv guide
web uni tv guide

Klein paradys

144Realiteit

Mikro-wonings, massiewe uitdagings – kykNET se "Klein paradys"

Nuus
19 September 2024
Die eerste episode van "Klein paradys" word op 24 Oktober 2024 om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) uitgesaai.
Klein Paradys S1 Article Image

Ses pare gaan 25 dae lank eet, slaap, bou en herhaal om mikro-wonings van 21 m² in die Elgin-vallei in luukse wegbreekhutte te omskep, met R1 miljoen op die spel in Klein paradys, wat op 24 Oktober om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) begin.

Klein paradys – aangebied deur Robbie Kruse – is nie jou gewone huisopknapprogram nie. Die taak om ’n klein “apodment” in ’n boswegbreekplek te omskep, met ’n slaap-area, leefruimte, kombuisie en badkamer, mag eenvoudig klink, maar om hul kreatiewe visie te verwesenlik gaan die ontwerpduo’s uitdagende balanseertoertjies die hoof moet bied. Die spanne moet hul eie begrotings bestuur; hul eie boumateriaal bestel; doelwitte binne spesifieke tydsraamwerke haal; die meeste van die fisiese arbeid self verrig en daarmee saam die onverwagte struikelblokke van dinge wat skeefloop, hanteer.

Mikro-wonings – kompakte, minimalistiese eenhede wat tussen 20 m² en 60 m² groot is – se gewildheid neem toe omdat mense ander maniere van leef en interaksie met die omgewing soek. Die slim gebruik van ruimte en volhoubare boumateriaal en toebehore beteken hierdie soort eenhede het ’n kleiner koolstofvoetspoor.

In Klein paradys moet pare langs hul wonings kampeer terwyl die bouwerk plaasvind. Hierdie situasie saam met al die beproewings van projekbestuur, die impak van harde fisiese arbeid en interpersoonlike friksie sorg vir hope interessante drama. Die program is egter ook opvoedkundig en gee kykers insig in moderne leeftendense en wys hoe om die meeste uit ’n klein ruimte te haal. En dan is daar die bykomende uitdaging om ’n woning te vestig wat klante sal lok na wat uiteindelik ’n mikro-oord sal word onder die bestuur van die aangrensende Old Mac Daddy, wat beskryf word as ’n kombinasie van karavaanpark en ontwerpersplaas-lodge.

Klein paradys is ’n ander soort realiteitsprogram,” verduidelik Waldimar Pelser, die kanaaldirekteur van Premium-kanale by die MultiChoice-groep. “Dit gaan oor die skep van ’n pragtige ruimte met ’n spesifieke doel, maar met die beperkinge van ’n mikro-woning en binne die beskikbare tyd en begroting. En dít terwyl die werksverhouding binne spanne en die verhoudings tussen al ses pare deelnemers bestuur moet word. Die Elgin-vallei is byna ’n 13de deelnemer aan die reeks. Die ontsaglike skoonheid van die omgewing staan voortdurend in kontras met die uitdagings wat die ligging veroorsaak.”

Die volledige rolverdeling, insluitend die beoordelaars en die projekbestuurder, sal vroeg in Oktober onthul word.

Die eerste episode van Klein paradys word op 24 Oktober 2024 om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) uitgesaai. Besoek kykNET.tv vir al die jongste inligting en insiggewende kyke agter die skerms.