web uni tv guide
Kwarantyn 1600x160 Slim Homepage (2)

Die Le Roux-familie wen eerste seisoen van Kwarantyn

Nuus
29 Julie 2020
Op Woensdag 29 Julie, in die naelbytfinaal van kykNET se realiteitsprogram, Kwarantyn, is die Le Roux-familie as die wenners aangewys van die eerste seisoen.
Untitled design (1)

Die Le Roux-familie, wat bestaan uit Braam, Manie, Lisa, Adriaan en Heinrich, was oorstelp toe Die Opsigter, Ferdinand Rabie, aankondig dat hulle gekroon word as die wenners van Kwarantyn. Hulle stap weg met ‘n kontantprys van R250 000.

Kykers het weekliks die geleentheid gehad om vir hul gunsteling familie te stem. Al die stemme oor die afgelope paar weke is bymekaar getel en sò is dit bepaal dat die Le Roux-familie die meeste stemme gekry het.

Die afgelope twee maande het die Le Roux- en Scheepers-families kykers 24 uur ‘n dag, sewe dae van die week op die opwipkanaal vir Kwarantyn, DStv-kanaal 148 vermaak. Van kosuitdagings, kunsprojekte en vroegoggend oefensessies tot karaoke, saamkuier en besoeke deur bekende persoonlikhede – daar was nie ‘n vervelige oomblik op Kwarantyn nie.

“Vir ons was daar verskeie hoogtepunte – Lisa se verjaarsdag wat ons met ballonne en koek gevier het, Francois van Coke wat gebel het, die aande se saamkuier en die speletjies. Ons gaan Kwarantyn baie mis,” vertel die Le Roux-familie. Vir die Scheepers-familie was dit ‘n groot hoogtepunt om bekende persoonlikhede, soos Cindy Swanepoel en Stephanie Baartman, te ontmoet.

Die honde van Kwarantyn het ook diep in kykers se harte ingekruip. Vlooi, wat deel van die Le Roux-familie is, het al die manewales van die bank aanskou en Max het vir ‘n ruk by die Scheepers-familie kom kuier. “Max het die Kwarantyn­-huis soos ‘n tuiste laat voel – dit was so lekker om hom by ons te hê,” sê Caryn.

Beide families stem saam dat Kwarantyn al hul verwagtinge oortref het – dit was ‘n groter uitdaging as wat hulle ooit sou dink het. “Ons het nie besef dit gaan so emosioneel wees nie,” vertel Jade. “Ek het nie gedink dit sal so stresvol wees nie – dit was meer werk as vakansie,” meen Manie. “Daar was meer kameras as wat ek verwag het!” voeg Lisa by.

Alhoewel die Scheepers-familie nie gewen het nie, stap hulle nie met leë hande weg nie – Caryn wen die prys vir die deelnemer wat die eerlikste en opregste was en ontvang R10 000 kontant. Dié prys word toegeken deur die Kwarantyn-span wat die twee families die afgelope twee maande 24/7 dopgehou het. Die Le Roux-familie en Scheepers-familie het deur die loop van die reeks onderskeidelik R41 000 en R40 000 in geskenkbewyse ontvang.

Dan wag daar ook ‘n verrassing op die Scheepers-familie – die kunswerke wat die afgelope week deur die twee families gemaak is, is op veiling geplaas en R115 000 is op dié manier bymekaar gemaak. Die geld word aan die Scheepers-familie geskenk.

Emo Adams het ook aangebied om Austin te help om sy eerste aanlynoptrede te vervaardig en sal hom ook verder met ‘n moontlike sangloopbaan ondersteun. Kyk hier toe Emo vir Austin gebel het.

Albei die families het baie geleer in hul tyd op Kwarantyn. Die Le Roux-familie het meer oor mekaar en hoe om as ‘n span saam te werk geleer. “Ek het geleer om myself nie te onderskat nie,” meen Avril. “Van die uitdagings het onmoontlik gelyk, maar as ek dit eers aangepak het, het ek besef ek kan dit doen!” “Ek het agter gekom ek het ‘n passie vir bak,” meen Caryn. “En ek is trots daarop dat ek my eerste pastei gebak het en geleer het hoe om eend en afval te bak,” vertel Pamela.

Die twee families wil graag dankie sê aan die kykers. “Dankie vir al jul ondersteuning en stemme – ons love julle!,” is die Le Roux-familie se boodskap. En die Scheepers: “Ons is dankbaar vir jul ondersteuning en dat julle ons gemotiveer en ondersteun het.”

Karen Meiring, M-Net Direkteur: Afrikaans kanale: “Kwarantyn het ons geneem deur ‘n spektrum van ervarings: van skadukante tot uitgelate vreugdes soos dit net in Afrikaans moontlik is. Die program was meer as ‘n sosiale eksperiment.  Dit het vermaak, ‘n spieël opgehou en kulture nader aan mekaar gebring.  Dankie aan Span Scheepers en Le Roux dat ons deel kon wees van julle lief en leed.  Geniet julle welverdiende buite lewe.”

Die kameras is nou afgeskakel en dis tyd vir die families om uit te rus voor hulle voortgaan met hul lewens. Kwarantyn is ‘n ervaring wat hulle, en die kykers, altyd sal bybly. Soos die familielede sê: “Emosioneel, stresvol, insane, bevange, uitdagend, opwindend en pret” – dit was ‘n wipwarit van dag 1 tot die einde. Van Braam se ‘Tjom’, Caryn se ‘Hectic’ en Heinrich, oftewel ‘Mnr Bene', ons gaan julle mis!