kyknet channel logo

Bekendes maak hul harte oop teenoor Lee-Ann van Rooi in nuwe geselsprogram

Nuus
12 September 2024
Sy is ’n bekroonde aktrise en teatermaker en vir menige ’n mentor in die TV-, rolprent- en teaterbedryf. Nou kan Lee-Ann van Rooi ook aanbieder van ’n geselsprogram by haar indrukwekkende CV voeg.
Waar daar 'n wil is

In Waar daar ’n wil is gaan Lee-Ann in-diepte gesprekke met bekendes voer wat wissel van persone in die vermaakwêreld tot politici, aktiviste en baanbrekers. Elkeen van die gaste gaan vertel hoe hulle hul weg gevind het tot waar hulle vandag is. Dit gaan dus oor mense wat gewys het dat daar inderdaad ’n weg is waar daar ’n wil is.



“Eerlike gesprekke met Suid-Afrikaners wat regtig ’n verskil gemaak het en die kern verteenwoordig van dit wat ons óns maak,” sê Lee-Ann oor wat kykers van die program kan verwag. “Ons gaste het drie dinge gemeen: Hulle is uiteenlopend, hulle het ’n verskil gemaak en in hulle hart wil hulle hande vat met mense van wie hulle dalk verskil, maar saam met wie hulle dalk tog die wêreld ’n beter plek kan maak.”

Sy sê ’n omgewing is geskep waarin gaste gemaklik voel om hulle stories te vertel. “Ons gaste se komvandaan verskil, maar ons voel ons is nou reg om die verskille te vier. Dit is juis ons verskille wat ons ons so sterk as ’n nasie maak. Die tekste is deur Ricardo Arendse en Francois Nolte geskryf, maar op die ou end moes ek ook luister en deel wat in my eie hart lê. Ek hoop almal gaan die program geniet, want my senuwees is gedaan oor hierdie eerste in my loopbaan.”

In elke program van 30 minute is daar ook ’n insetsel wat fokus op die ander fasette en mense in die gas se lewens.

Van die gaste waarmee Lee-Ann kopstukke gaan gesels, sluit in die voormalige krieketspeler Fanie de Villiers, die vroueregte-aktivis Lucinda Evans, die rocksanger en liedjieskrywer Francois van Coke, die nuwe Mej. Suid-Afrika Mia le Roux, en die voormalige Springbok en adjunk-burgermeester van Kaapstad Eddie Andrews.  

Lee-Ann sê om voor te berei vir Waar daar ’n wil is, is baie anders as om vir ’n rol voor te berei.

“Dis ’n nuwe genre vir my en om nuwe vaardighede in hierdie stadium van my loopbaan te leer, is ’n eer. Ek skuil baie keer agter ’n karakter en ’n storielyn. Hier is ek gevra om ook bietjie van myself bloot te stel. Dis ’n groot uitdaging vir my om buite my gemaksone te speel, maar as dit jou nie bang maak nie, maak dit jou vet!”

Waar daar ’n wil is begin op 4 Oktober om 18:30 op kykNET (DStv-kanaal 144). Dit sal ook op DStv Stream en Catch Up beskikbaar wees.