Dit het tyd geword om die karakters van Verbode liefde, kykNET&kie se gewilde oorgeklankte Turkse telenovela, te groet, maar die goeie nuus is dat daar ’n splinternuwe een op pad is. Verbode liefde se laaste episode word op 28 November uitgesaai en Skerpioen, die boeiende nuwe telenovella, begin op 29 November om 20:00 op kykNET&kie.
Meer oor Skerpioen
Perihan Emgen woon onder een dak saam met haar dogter en skoonseun, Berna en Fikret, en hulle kinders. Perihan, ’n vrou met matelose ambisie, het egter ’n geheim wat sy lank probeer wegsteek het – sy is ook die ma van Ferda, die kind wat sy op eenjarige ouderdom verlaat het.
Ferda en haar dogter, Merve, het ’n haarkappersalon en is geliefd deur almal in die buurt. Ferda blameer egter vir Perihan vir al haar probleme en in ’n poging om haar straf, het Ferda ’n buite-egtelike verhouding met Fikret. Perihan probeer alles in haar vermoë om die verhouding te stop, maar slaag nie daarin nie. Ferda aan die ander kant is vasbeslote om te veg vir die lewe wat sy glo sy moes gekry het.
’n Tragiese gebeurtenis verander almal se lewens en almal weet nou wat Perihan se groot geheim is. ’n Vete breek uit tussen Ferda en Perihan en dit het ook ’n invloed op Ferda se bure, Ipek en Aras. Kort voor lank word almal in hierdie oorlog oor liefde en haat ingesleep.
Die karakters
Perihan Emgen (Demet Akbağ) het op 6-jarige ouderdom ’n aardbewing oorleef waarin haar ma en twee sibbe dood is. Sy het toe saam met haar pa by familie gaan woon en is op 16 getroud met Ferda se pa, Idris. Sy het hom en klein Ferda egter verlaat omdat sy geglo het sy verdien ’n beter lewe. Perihan is later met Nurullah Emgen getroud en het nog ‘n dogter, Ferda gehad. Nurullah is vroeg oorlede en Perihan het die eienaar van die besigheid Gevher İlaç geword.
Ferda Kendirci (Evrim Alasya) is Perihan se dogter wat sy by Idris, haar eerste man, gehad het. Idris het haat in Ferda gekweek en vir Perihan vir alles blameer. Ferda het op ’n jong ouderdom in ’n haarsalon begin werk en ná haar pa se dood, is sy met die eienaar van ’n koffiewinkel getroud wat haar mishandel het. Sy was jonk toe sy haar dogter, Merve, gehad het en is later van haar man geskei en het haar eie salon oopgemaak.
Fikret Gürsoy (Bekir Aksoy) is Perihan se skoonseun en die pa van haar drie kleinkinders. Hy is ’n finansiële bestuurder vir Perihan en dit is waar hy Perihan se dogter Berna ontmoet het. Perihan weet van Fikret se buite-egtelike verhoudings, maar op die oog af lyk dit of Berna salig onbewus is van haar man se liefde vir ander vroue.
Aras Sağlam (Yusuf Çim) is Ferda se buurman en woon saam met sy suster, Ipek. Sy grootste droom vir Ipek, wat ’n hartkwaal het, gesond te sien.
Duru Gürsoy (Aslı Melisa Uzun) is Perihan se oudste kleinkind. Sy het ekonomie in Amerika studeer, maar is terug by die huis ná ’n tragiese gebeurtenis haar familie tref.
Şahin Gürsoy (Taha Baran Özbek) is Perihan se kleinseun en Duru se jonger broer. Hy is agressief, sarkasties en arrogant en het nie ’n goeie verhouding met sy pa nie.
İpek Sağlam (Esila Umut) is Aras se jonger suster wat Ferda grootgemaak het ná haar ouers se dood. Ipek het ’n hartkwaal en het hartoorplanting nodig.
Merve (Müge Su Şahin) is Ferda se dogter. Sy het in haar ma se haarsalon begin werk ná skool en het meer as genoeg selfvertroue en ’n ontspanne persoonlikheid.
Ece Gürsoy (Ahsen Türkyılmaz) is Perihan se jongste kleinkind. Sy en Şahin is baie na aan mekaar.
Hacer Aldemir (Demet Gül) is die huishoudster van die Emgen-huishoudig. Sy het as kind saam met haar familie in Duitsland gewoon en is later met iemand 15 jaar ouer as sy getroud. Hy het egter van haar geskei sonder haar medewete en het volle toesig oor hulle seun, Furkan, gekry. Hacer se grootste droom is om eendag weer vir Furkan te sien.
Ayşem Güngör (Beril Pozam) is Ferda se prokureur en dis net ’n kwessie van tyd voor sy haar merk kom maak.
Wie is die stemkunstenaars?
Die Afrikaanse stemkunstenaars wie se stemme gebruik word, is Bernice de Wet (Ferda), André Scholtz (Fikret), DeWaal Stemmet (Aras), Mari Molefe van Heerden (Berna), Stephanie Baartman (Duru), Claudia Jones (Aysen), Stephren Saayman (Sahin) en Alida Theron (Perihan).
Skerpioen se oorspronklike Turkse titel is Akrep en dit is die eerste keer tussen 2020 en 2021 uitgesaai. Dit bestaan uit 91 episodes.
Skerpioen begin op 29 November om 20:00 op kykNET&kie (DStv-kanaal 145) en word Maandae tot Donderdae uitgesaai. Alle episodes sal op DStv Stream beskikbaar wees.