web uni tv guide
web uni tv guide

Banana Air

144Komedie13 L

Vyf feite wat jy oor Banana Air moet weet

Nuus
01 Oktober 2024
kykNET se spliternuwe komediereeks, Banana Air, begin op 30 September, en met Westel Produksies agter die stuur, kan kykers verwag om lekker te lag. Hier is vyf interessante feite oor die reeks.
banana air

1. Liane Heyl, wat die rol van die lugwaardin Hester speel, is ’n gunsteling wanneer dit by Willie en Pieter Esterhuizen van Westel kom. Sy het in 1996 haar buiging in Vetkoekpaleis as die kelnerin Boeboe gemaak en was daarna in van hulle ander reekse, soos Molly & Wors, Ouboet & Wors en Poena, te sien. Liane se tweelingsuster is die eNuus-nuusleser Genée Heyl. 

2. Danielle Retief, wat die rol van Barbie Benadie speel, is die derde geslag in haar familie wat naam in die vermaakwêreld gemaak net. Haar ouers is die aktrise Karen Retief en die regisseur André Retief en haar oupa aan vaderskant was die regisseur en skrywer Betrand Retief. Betrand was, onder meer, die regisseur van Seun van die wildtemmer (1973), Mirage Eskader (1975) en Pretoria, o, Pretoria! (1979). Een van die hoofspelers in Pretoria, o, Pretoria was Zack du Plessis, wat in 1989 tot 1992 in die Esterhuizens se trefferreeks Orkney Snork Nie gespeel het.

3. Marcus Muller, die vlieënier Piston, se loopbaan voor die kameras het begin toe hy in 2006 as Mnr. Suid-Afrika aangewys is en hy die rol van Liam de Lange in Egoli: Plek van goud losgeslaan het. Hy was daarna ook in 7de Laan en Villa Rosa te sien. 

4. Jai’prakash Sewram, wat te sien is as Rodney Reddy, die baas van Banana Air, is nie net ’n talentvolle akteur nie, maar ook ’n danser wat enigiets van ballroom tot Bollywood kan doen. Hierdie is nie die eerste keer wat hy saam met die Esterhuizens werk nie – hy was Neville Naidoo in die 2013-fliekweergawe van Molly & Wors.

5. Matt Stern het in 2004 sy groot deurbraak gehad in die reeks Plek van die vleisvreters. Hy was in flieks soos Invictus, Racing Stripes en District 9 te sien en in die twee seisoene van Huis Lelieveld as Dominee Dou Droel. Matt, wat musiekteater studeer het, is ’n talentvolle sanger wat al in verskeie musiekblyspele op die planke was. 

  • Banana Air begin op 30 September om 20:00 net op kykNET (DStv-kanaal 144). Dit sal ook op DStv Stream en Catch Up beskikbaar wees.