web uni tv guide
Diepe waters S3 Slim BB
web uni tv guide

Diepe Waters

144Telenovela13

Twee nuwe akteurs sluit by Diepe waters aan met die begin van seisoen drie

Nuus
27 September 2024
Seisoen drie van die gewilde kykNET-telenovela Diepe Waters begin op Maandag 30 September, en met die nuwe seisoen kom daar ook opwindende nuwe gesigte.
Diepe Waters

Sy is geen vreemdeling wanneer dit by TV-reekse kom nie, hy is ’n jong man met ’n inspirerende lewensverhaal en van Dinsdag 1 Oktober maak Marijke Coetser en Caleb Swanepoel hulle buiging as deel van Diepe waters se permanente rolverdeling as ma en seun.



Marijke is veral bekend vir haar rol as Maryke in Getroud met rugby en Caleb, wat in 2015 sy been in ’n haai-aanvaal verloor het, het al alles van Shakespeare op die verhoog tot romantiese flieks gedoen.



Marijke, vertel ons meer van René.

René is ’n enkelma en haar hele lewe draai om hom. Sy het baie seergekry toe sy in haar twintigs was en loop met ’n groot geheim rond. Sy is ’n sterk vrou, is fiks en lewe gesond en sy wy haar lewe aan haar seun, Lucas, se swemloopbaan. René wil net die beste vir hom hê. Sy is hardwerkend en het ’n sagte hart, maar sy laat nie sommer iemand te na aan haar toe nie.

Caleb, jy het al Shakespeare op die verhoog gedoen, in flieks gespeel en nou ’n telenovela. Wat geniet jy die meeste van hierdie nuwe hoofstuk in jou lewe?

Dis baie opwindend om deel te wees van hierdie rolverdeling en storielyn asook om vir die eerste keer deel te wees van ’n langformaat-reeks. Om in Johannesburg te woon is ook vir my ’n nuwe ondervinding aangesien ek nog altyd in die Wes-Kaap gewoon het.



Marijke, waarna het jy die meeste verlang om voor die kamera te wees?

Om in ’n nuwe, uitdagende karakter te klim en om deel te wees van ’n familie by die werk. Om amper elke dag te kan speel en my passie uit te leef, om te groei in ’n nuwe karakter en lewe daarin te blaas, is iets waarna ek gesmag het.

Caleb, jy is Engelssprekend. Wat het jy gedoen om voor te berei vir die rol van Lucas.

Ja, ek is Engelssprekend, maar ek het in Prins Albert grootgeword. Ek was in Afrikaanse skole en het heelwat Afrikaanse vriende. Om voor te berei, het ek baie met hulle in Afrikaans gepraat en ook baie Afrikaanse reekse en flieks gekyk. Die spelers en span agter die kameras, het my baie gehelp om my voete te vind. Nou praat ek elke dag Afrikaans en dis ’n baie goeie ervaring. Ek leer elke dag nuwe woorde.



Vertel ons meer van Lucas.

Hy is 21 jaar oud, is ’n talentvolle swemmer en kom van Durban, maar hy en sy ma trek Johannesburg toe sodat hy sy rehablitasie daar kan doen ná ’n traumatiese gebeurtenis. Sy pa is dood toe Lucas nog baie jonk was, of altans dit is wat sy ma vir hom vertel.

Caleb, jy het ’n baie inspirerende lewensverhaal. Wat is jou lewensleuse?

Bly nuuskierig. Dit maak jou vrae vra en vir antwoorde soek. Ook om dag vir dag te lewe. Dit is iets waarmee ek soms kan sukkel, maar ek probeer fokus op die nou en hier.



Marijke, wat geniet jy die meeste om saam met Caleb te werk?

Om daardie oomblikke saam met hom te vind; daardie oomblikke wat elke toneel lewe gee en spesiaal maak. Ons kom baie goed oor die weg en dis so lekker om saam met Caleb in ons karakters te groei en dit met so ’n fantastiese storielyn. Dis ongelooflik. Ons is gemaklik met mekaar en het ’n band gevorm wat ons help om teenoor mekaar te speel en die storie te vertel.

Diepe waters seisoen 3 begin op Maandag 30 September en is van Maandae tot Donderdae om 18:30 op kykNET (DStv-kanaal 144) en is ook op DStv Stream en Catch Up beskikbaar.