web uni tv guide
Klein Paradys S1 Slim BB Duos
web uni tv guide

Klein Paradys

144DramaPG13

Tussen tonele met Wicus Pretorius

Nuus
17 November 2024
Ons het gaan inloer by Wicus Pretorius, die redakteur van Tuis- tydskrif, TV-aanbieder en beoordelaar van "Klein paradys".
kykNET_Tussen_Tonele_Wicus_Pretorius_Social_Sharing_Image_1600x800

Ons vind meer uit oor die redakteur, TV-aanbieder en tuiste-spesialis. 

Kykers het onlangs vir Wicus Pretorius leer ken as ’n beoordelaar op Klein paradys met baie kennis en die vermoë om vinnig probleme raak te sien in die duo’s se mikro-wonings.

Watter items gaan ten alle tye saam met jou stel toe? 

Ek het die meeste van die tyd my selfoon by my, maar vir die duur van Klein paradys was die nie die geval nie, want daar was geen sien in die vallei nie, so die selfoon was net in die pad. Dit was nogal ’n lekker verandering om ‘n slag nie die heeltyd ‘n foon in die hand te hê, of te wonder waar ek hom laas neergesit het nie. Gewoonlik het ek ook sonskerm byderhand, maar hierdie keer was die grimeer-span daar om te help.

Het jy onlangs iets geleer by ’n ander aanbieder of persoon op stel wat jou geïnspireer het?

 Ek kyk maar altyd wat ander aanbieders doen, en of daar iets is wat mens kan leer, veral wat gesigsuitdrukkings en hande betref! Robbie het die kuns van die “gedrae stilte” vervolmaak. Ek hou daarvan, ek moet sy voorbeeld volg, en nie altyd begin babbel nie.

Is daar ’n fliek of reeks op kykNET of Showmax wat jy onlangs gesien het waar jy gedink het jy sal nogal graag daarin wil speel?

Nie speel nie, my dae van amateur-akteur wees het op universiteit sy voleinding bereik! Maar, ek wil nog baie graag ‘n drama skryf vir kykNET, en het met groot belangstelling Een keer om die son gekyk. Eendag gaan ek dit nog doen!

Hoe motiveer jy jouself nadat jy ’n moeilike dag agter die rug het?

‘n Vriendin het nou eendag gesê mens moenie lysies maak van als wat jy nog op ‘n sekere dag MOES doen nie, maar eerder kyk na alles wat jy gedoen gekry het. Want mens vergeet soms van als wat afgehandel is, en die rede is waarom ander goed nie klaargekom het nie! Maar, vir my, na ‘n lang dag, is ‘n glas goeie rooiwyn altyd welkom en die nodige “pleister” om te plak op die “wonde” van ‘n moeilike dag.

Wat is jou motto in die lewe?

 Wees deel van die oplossing, nie deel van die probleem nie. Sê ja, en help waar jy kan.

Het jy ’n geheime talent waarvan ons nie weet nie? 

Ek weet nie of ek dit ‘n talent sal noem nie, maar ek is baie lief vir kosmaak, en eksperimenteer graag in die kombuis. Kosmaak is vir my ontlading na ‘n lang dag, veral as ek stres. Die ritueel van groente sny, of uie kap, of vleis stadig in ‘n pan braai as jy met ‘n kerrie of bredie begin. Dit maak my rustig. Hoe meer ek stres, hoe meer kook ek. Ek kook baie.

Skakel elke Donderdag om 20:00 in vir #KleinParadys en gesels saam op Facebook, X, Instagram en TikTok.