kyknet channel logo

Nuwe seisoene van gewilde reekse is terug in Oktober

Nuus
27 September 2024
’n Rits nuwe seisoene van kykNET se gewildste programme is terug in Oktober – van die Glam Guru, Prontuit, Jan Braai, Koppieteefontein en meer op kykNET, asook Sê Jou Sê op kykNET&kie.
AFP



Vat jou goed en trek!

Maak gereed vir ’n splinternuwe seisoen van Suid-Afrika se mees geliefde opknappingsprogram, Vat Jou Goed en Trek! Seisoen 11 beloof om groter, dapper en meer hartroerend as ooit tevore te wees.

Die program word aangebied deur Henck Conrey en volg families wat sukkel om hulle eiendom te verkoop. Met die hulp van 'n span kundige opknappingspesialiste en eiendomspraktisyns ondergaan elke eiendom 'n verstommende transformasie, wat uiteindelik teen 'n aansienlik hoër prys verkoop word.

Vat jou goed en trek begin op 4 Oktober om 17:30 op kykNET, DStv-kanaal 144, en sal ook op DStv Stream en Catch Up beskikbaar wees.



Glam guru

Oktober gaan die mooiste maand op kykNET wees wanneer die gewilde voorkomstransformasie-reeks, Glam Guru, met die skoonheids- en modeghoeroe Hannon Bothma vir die 23ste keer terugkeer. Glam Guru, wat moontlik gemaak word deur GoBusiness en Sally Slimming Studio, beloof om soos weer eens kykers te inspireer soos ’n aspoestertjieverhaal voor hulle afspeel.

“Ons luister na ons kykers wat vir ons vertel wat hulle graag wil sien. En vir jare het ons al uitnodigings gekry van wonderlike kykers wat graag wil hê dat ons manlike kandidate moet transformeer,” sê Hannon Bothma. “In hierdie reeks het ons besluit dit is presies wat ons gaan doen. So, ons kyk na die uitdagings van mans.”

Glam Guru word van Donderdag 3 Oktober om 17:30 op kykNET (DSTV-kanaal 144) uitgesaai en sal ook op DStv Stream en Catch Up beskikbaar wees.



1 Spoor Avonture

Wees gewaarsku, as jy nog nie vantevore lus gehad het om die wêreld op twee wiele te takel nie, gaan hierdie reeks op kykNET jou beslis ander idees gee! Daar gaan by verafgeleë en onbekende plekke ingeloer word wat so deel is van die Suid-Afrikaanse landskap as ’n boer met ’n bakkie.

Vir die drie manne op hulle avontuurmotorfietse kan die grondpad nie gou genoeg kom nie. Of uitdagend genoeg wees nie. Hierdie reeks gaan jou motiveer, jou inspireer en jou met nuwe oë na motorfietsryers laat kyk. Kort voor lank mag jy dalk self een wees!



1 Spoor Avonture is die breinkind van André de Villiers, oftewel Andre4x4, die reisende onderwyser Franswa Smit en die man met die praktiese oplossings en planne, Hans Strydom.

1 Spoor Avonture word van 7 Oktober om 17:30 op kykNET (DStv-kanaal 144) uitgesaai en sal ook op DStv Stream en DStv Catch Up beskikbaar wees.



Die groot niks

In die tweede seisoen reis die span vanaf Swakopmund al die pad tot teen die Kunene-rivier wat die grens vorm tussen Namibië en Angola. ’n Paar hoogtepunte waarna kykers kan uitsien, is die grootste pelsrobkolonie in Namibie, en een van die grootstes ter wêreld by Kaap Kruis. ’n Ontmoeting met die digter Charles Zandberg, die honderde skeepswrakke langs die kus en ’n ou olieboor en diamantmyn wat met onder andere Elvis Presley en Alice Cooper se geld gebou is.

Dis baie meer as net ’n gewone reisprogram of dokumentêr. Neil Sandilands se vertoning is aangrypend en hy vat mens nie net op die fisiese reis nie, maar op ’n tog van sielsverdieping wat mens anders na die lewe en natuur laat kyk, terwyl die bekende en gesaghebbende stem van Ruda Landman die feite oordra en alles balanseer.

Die groot niks begin op 5 Oktober om 18:00 op kykNET, DStv-kanaal 144, en sal ook op DStv Stream en Catch Up beskikbaar wees.



La’t wiel

’n Splinternuwe seisoen propvol rygoed insluitende die kragtigste passasiersmotor wat Mercedes nog ooit gemaak het, sowel as die nuwe Prado wat kopers laat tou staan. ’n Mini was ‘n klein motor, maar die Countryman is groot en kom met ‘n ewe groot pryskaartjie. Ons reis ook Wallis toe vir ‘n onvergeetlike ervaring in die tweede episode.

Die derde episode kyk Hannes Visser en Waldo van der Waal na ’n Mercedes GLS – die S-Klas van sportnutse. Kia se Sonet maak naam en die vliegtuie in Wallis gee steeds hoendervleis.

4x4 Dubbelkajuit-bakkies is van die gewildste rygoed in SA, maar watter een is die beste? Ons geniet die veelsydigheid van ‘n Jimny loer in by die wêreld van veldrenne in die vierde episode van die nuwe seisoen.

La’t Wiel begin 1 Oktober om 17:30 op kykNET, DStv-kanaal 144, en sal ook op DStv Stream en Catch Up beskikbaar wees.



Koppieteefontein

Die sesde seisoen van Jak de Priester se gewilde geselsprogram is terug. Bekendes geniet ‘n koppie tee, en maak hul harte oop teenoor hom. 

Die seisoen skop af met die Suidooster aktrise, Anelisa Weiland. En die gewilde musikant en digter, Danie du Toit, van die Afrikaanse rockgroep Spoegwolf kuier heerlik saam met Jak.

Koppieteefontein begin op 1 Oktober om 21:30 op kykNET, DStv-kanaal 144, en sal ook op DStv Stream en Catch Up beskikbaar wees.



Jan Braai

Kom toer, lag en leer saam van Suid-Afrika, ons mense en ons eeue ou gemeenskaplikke erfenis – braai.

Jan Braai is terug vir ’n splinternuwe seisoen en skop af met sy 20 vure en 20 braaie vir 20-jaar van Nasionale Braaidag. Hy deel van sy beste resepte en braaivaardighede saam met kykers en gesels ook oor sy splinternuwe boek, Atmosvuur.

Jan Braai begin op 5 Oktober om 19:30 op kykNET, DStv-kanaal 144, en sal ook op DStv Stream en Catch Up beskikbaar wees.



Prontuit

Die nuwe Prontuit-seisoen is verfrissend.

Aanbieder Kabous Meiring vat oudergewoonte die pad en gesels met rolspelers wat die land verbeter, maar dit wil-wil voorkom of daar ’n atmosfeer van hoop in Suid-Afrika is en ’n pad van ware herstel wat begin.

Ons top klas kenners, entrepreneurs, landbouers, onderwysers, handelaars en geesteswetenskaplikes is presies dit – top klas. Bekende Suid-Afrikaners op die nuwe seisoen sluit in die burgermeester van Kaapstad, Geordin Hill-Lewis en sosiale media ster, Jaidan Reyneke.

Die eerste episode sal regstreeks wees en handel oor Damprook en in episode twee bekyk die span kinderbesighede.

Prontuit begin 23 Oktober om 21:00 op kykNET, DStv-kanaal 144, en sal ook op DStv Stream en Catch Up beskikbaar wees.



Lottoland help ’n dorp

Lottoland help ’n dorp keer terug vir ‘n derde seisoen en doen gestand aan hierdie “help ‘n dorp”- belofte aan 13 dorpe waar daar bepaalde behoeftes is. Net soos die 25 dorpe in die eerste twee seisoene, gaan gewone mense ook hier sonder huiwering moue oprol om ’n merkwaardige verskil in hul gemeenskappe teweeg te bring.

Leah en haar span gaan die land deurkruis – van Munster in KwaZulu-Natal tot Calvinia in die Noord-Kaap. In die Oos-Kaap is dit Burgersdorp se beurt en in die Vrystaat gaan dinge roer daar by Fauresmith.

Natuurlik word daar nie van die Noordwes-provinsie vergeet nie, en daar wag ’n lieflike verrassing vir die inwoners van een van die dorpe waar daar gewoonlik maklik verbygery word.



Geen dorp is té groot of té klein om baat te vind by Lottoland help ’n dorp nie. Die sleutel tot sukses in elke dorp wat vir hierdie merkwaardige projek ingeskryf het, lê in die sterkte van die gemeenskap en inwoners se bereidwilligheid om saam hand aan die ploeg te slaan tot voordeel van hul dorp.

Lottoland help ’n dorp begin op 9 Oktober om 21:30 op kykNET, DStv-kanaal 144, en is ook op DStv Stream en Catch Up beskikbaar.



Sê jou sê

Die nuwe seisoen is hier! Sê jou sê is die saampraat-program waar daar nie doekies omgedraai word oor al die alledaagse probleme nie en JY jou sê kan sê.

Twee vroue sluit by aanbieder Aden Thomas aan om hul ervarings met 'n rokjagter te deel. ‘n Groep afgetrede onderwysers het in die strik getrap van 'n reisbedrogspul na Thailand en ons hoor alles in die tweede episode.

In episode drie deel vier mense van die LGBTQI+-gemeenskap stories van diskriminasie in verskeie plekke. En dan bekyk die span hoe veilig is dit om ‘n e-taxidiens te gebruik – twee vroue deel hul gru-verhale.

Sê Jou Sê begin 13 Oktober om 19:00 op kykNET&kie, DStv-kanaal 145, en is ook op DStv Stream en Catch Up beskikbaar wees.