web uni tv guide
Diepe waters
web uni tv guide

Diepe Waters

144Telenovela13

Neels van Jaarsveld groet Diepe Waters op ’n dramatiese wyse

Nuus
24 September 2024
Neels van Jaarsveld was sedert die begin van Diepe waters as Wim te sien, maar in ’n dramatiese einde is Wim oorlede en het hy ’n paar gebreekte harte agtergelaat.
Diepe Waters

Toe Rose (Eloise Cupido) Kaap toe is vir werk, het Wim (Neels van Jaarsveld) in Johannesburg gebly om die huis op te pak en te verkoop. Hy het egter gesukkel om ’n koper te vind, en hy en Rose het uitmekaargedryf. Terselfdertyd het Ben (Eric Bouwer) vir Sanet (Nadia Valvekens) laat weet dat hy gevra het om na ’n gemeente in Klerksdorp verplaas te word om nader aan sy dogter, Mari (Diandra Slabbert), te wees. Sanet wou nie saam Klerksdorp toe trek nie en het begin twyfel oor haar besluit om met Ben te trou. Intussen het Sanet en Wim saam AA-vergaderings begin bywoon, en die een ding het tot die ander gelei. Sanet het haar verlowing verbreek, en Wim het besluit om Kaap toe te gaan en Rose vir ’n egskeiding te vra, maar toe verongeluk hy op pad na die lughawe.



Neels vertel meer oor dié dramatiese storielyn en sy toekomsplanne.

Wim se laaste storielyn in Diepe waters het ’n hele paar kinkels gehad. Hoe het jy die tonele benader?

Ek geniet ’n karakterkinkel. Dit maak dit uitdagend vir die speler en hou dit stimulerend vir die kyker. Dit was belangrik om die tonele so opreg, eerlik en weerloos as moontlik te benader.



Wat het jy die meeste van jou tyd in Diepe waters geniet?

Die jonger akteurs se energie en die ouer akteurs se stamina. Die mense agter die skerms werk ongelooflik hard, en dis belangrik om ook vir hulle krediet te gee.

Wat is jou toekomsplanne?

My produksiemaatskappy, Met Eish (www.meteish.com), woeker voort, en daar is ’n paar interessante projekte wat voorlê.

Wat sal jy graag nog in die volgende paar jaar wil bereik?

Ek sal graag ’n bundel van my skryfwerk wil uitgee en ’n opwindende filmprojek wil finaliseer waaraan ek tans as vervaardiger, skrywer en protagonis werk.



Is dit vir eers vaarwel aan Johannesburg?

Eers vaarwel aan Johannesburg, ja. Twee jaar is nogal ’n lang tyd om weg van die huis te wees. Maar as daar ’n interessante projek opduik, sal ek weer my tassies pak. Hoe sê hulle: aanhou beweeg en geraas maak.

Neels se finale episode is op 24 September uitgesaai. Diepe waters is van Maandae tot Donderdae om 18:30 op kykNET (DStv-kanaal 144) en is ook op DStv Stream en Catch Up beskikbaar.