kyknet channel logo

Drie splinternuwe dokumentêre op kykNET in Oktober

Nuus
27 September 2024
Dokumentêre films en -reekse word plaaslik en wêreldwyd al hoe gewilder omdat kykers ’n steeds groeiende belangstelling in die storie agter die storie het.
Eden se beskermengele

In Oktober is daar drie splinternuwe dokumentêre op kykNET (DStv-kanaal 144).



Eden se beskermengele 

In hierdie dokumentêr uit Namibië word daar gekyk na die buitengewone trajek van wildkrisis tot bewaringsoorwinning. Op ’n kontinent wat sukkel met die verwoestende gevolge van stropery en die konflik tussen die behoeftes van mense en die natuur, staan Namibië uit as ’n baken van hoop. Dit is ook ’n inspirerende voorbeeld van die onskatbare bydrae wat gemeenskapsgeleide bewaring kan maak.

Hierdie meesleurende film bekyk Namibië se baanbrekende bewaringspogings van nader en stel die kyker voor aan toegewyde voogde van drie bewaarareas regoor hierdie uitgestrekte en ongerepte land. Deur hulle oë sien ons die dringende lot van die wêreld se mees verhandelde soogdier, die ietermagô, en die laaste oorblywende, vrylopende, swartrenosters, waarvan die getalle steeds krimp.

Eden se beskermengele vier nie net die merkwaardige herlewing van sekere wildsoorte nie, maar vertel ook ’n hartroerende verhaal van plaaslike gemeenskappe wat hul rol as rentmeesters van die land ernstig opneem. Kykers beleef hulle onvermoeide pogings om bedreigde spesies te beskerm en die natuurlike erfenis vir toekomstige geslagte te bewaar. Die dokumentêr gee intieme insae in die uitdagings en oorwinnings in die stryd om harmonie tussen mens en natuur te bewerkstellig. Dit vier ook Namibië se unieke sukses as ’n model van bewaring en wys wat die wêreld hier van bewaring kan leer.

Eden se beskermengele word op 5 Oktober om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) uitgesaai.



Onthul – Wilgenhof: Trauma of tradisie?

Wat gaan aan by Wilgenhof? Die legendariese manskoshuis van die Universiteit Stellenbosch is sedert Februarie in die nuus ná daar foto’s van twee kamers in die koshuis versprei het. Die kamers was gevul met ontstellende artefakte en gerugte het begin loop oor verdagte aktiwiteite wat oor dekades daar gebeur het.

In die volgende ondersoekende program in die Onthul-reeks word daar gepoog om uit te vind wat werklik in Wilgenhof gebeur het. Daar gaan onder meer gekyk word na kwessies soos tradisie, die sogenaamde “woke”-kultuur wat alles aan die groot klok wil hang, toksiese manlikheid en of die US se strewe na ’n totaal inklusiewe omgewing nie uiteindelik ’n strewe na identiteitsloosheid is nie. Dit is ook duidelik dat die twee kampe beide rigied en onwrikbaar is en nie die ander se saak wil insien nie.



Van die deelnemers aan die program is die joernaliste Adriaan Basson en Jo Prins, die grondwetkenner prof. Pierre de Vos, die sielkundige Anton Böhmer, prof. Vasti Roodt, asook voormalige Wilgenhoffers soos Neels van Jaarsveld, Samore Menze en Louis van der Riet.

Onthul – Wilgenhof: Trauma of tradisie? is deur Idea Candy vervaardig. Die ondersoekende joernalis Pieter-Louis Myburgh, die regisseur Nina Swart en die vervaardiger Wynette Theart het agter die skerms gewerk.

Onthul – Wilgenhof: Trauma of tradisie? word op 6 Oktober om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) uitgesaai en sal ook op DStv Stream en Catch Up beskikbaar wees.



Koud: Anika Smit

Die 17-jarige Anika Smit se halfnaakte lyk is op 10 Maart 2010 deur haar pa in haar kamer by hulle huis in Pretoria-Noord aangetref. Sy is verwurg en het verskeie steekwonde aan haar nek gehad. Sy is ook seksueel aangerand en haar hande is by die polse afgesny en verwyder.

Tot vandag toe is haar moordenaar of moordenaars steeds op vrye voet en ’n geregtelike ondersoek is reeds vir jare in die Pretoria-Noord-landdroshof aan die gang om te probeer vasstel wie verantwoordelik vir Anika se dood is en wat presies op daardie noodlottige dag gebeur het.

Die skokgolwe van die gebeure van 10 Maart 2010 word steeds gevoel. Niemand wat direk daardeur geraak is, kon al aanbeweeg met hulle lewens nie.

In hierdie reeks van twee episodes ondersoek ons weer die moord van Anika Smit in ’n poging om te probeer vasstel hoekom daar steeds nie vir haar geregtigheid is nie.

Koud: Anika Smit word op 13 en 20 Oktober om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) uitgesaai.