Net mens: Jan Bloukaas
Op 4 Desember om 20:00 kry kykNET-kykers ’n intieme kykie op hoe dit nou met Jan Bloukaas en sy stryd teen kanker gaan in ’n spesiale aflewering van Net mens, die program waar bekendes dikwels ’n ander, meer weerlose en feilbare sy van hulself wys. Daar word met van Jan se vriende en kollegas in die musiekbedryf gepraat en ook met sy ouers, Daan en Ronelle du Plessis, wat hulle seun deurentyd met soveel liefde ondersteun. Sy broers, Johan en Stephan, gesels ook oor hulle kleinboet. Moenie hierdie eksklusiewe en sielvolle program misloop nie.
Net mens: Jan Bloukaas word op 4 Desember om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) uitgesaai en sal ook op DStv Stream en Catch Up beskikbaar wees.
Nuwe noord: Live by die Atterbury
Danie 'Reënwolf' du Toit van die gewilde groep Spoegwolf betree die verhoog om songs te sing, stories te vertel en gedigte te lees. Alles gebeur op die magiese verhoog van die Atterbury Teater in Pretoria waar sy nuwe bundel bekendgestel is. Nuwe noord is ’n storie van soek. Dis songs oor ’n plek waar jy nog nie is nie. Dis gedigte oor verdwaal en uiteindelik 'n oomblik van sing en dans in die ligte vind.
Nuwe noord: Live by die Attebury word op 11 Desember om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) uitgesaai en sal ook op DStv Stream en Catch Up beskikbaar wees.
Daai keer toe Robbie Wessels en drie vriende probeer het om as straatmusikante in Europa te oorleef
Stel jou voor: Een van Afrikaanse musiek se gewildste sangers gaan Europa toe saam met ’n paar vriende, en hulle probeer dan daar as straatmusikante oorleef. Dit is presies wat Robbie Wessels en drie van sy vriende – Leza Liversage, Daniël Rademeyer en Jannes Erasmus – gedoen het.
In dié reeks van ses episodes reis die vier vriende na Nederland en België met ’n kamera en ’n kitaar, vol moed dat hulle hulself op straat sal kan onderhou. Hulle ontpop gou in wafferse straatmusikante, of “buskers” soos dit in Engels genoem word.
Van die plekke waar die vier “busketeers” aandoen, is Amsterdam in Nederland, Antwerp, Gent, Brugge en Turnhout in België.
Robbie Wessels en die oorsese busketeers begin op 13 Desember om 20:30 op kykNET (DStv-kanaal 144) en sal ook op DStv Stream en Catch Up beskikbaar wees.
Die shackbouer
Hierdie merkwaardige dokumentêre program gaan oor die lewensveranderende werk van Quinton Adams, ’n voormalige sielkundige van Kaapstad wat ’n kampvegter vir maatskaplike en sosiale geregtigheid geword het. Dit speel af teen die beeldskone agtergrond van Namakwaland en sy sout-van-die-aarde, dikwels vergete mense wat daagliks alles in die stryd werp om ’n waardige bestaan te voer.
Quinton het Shackbuilder, ’n nie-winsgewende organisasie, op die been gebring om mense te probeer help wat met behuisings- en ander maatskaplike en sosiale krisisse sukkel. Só het hy en sy hoogs bekwame projekleier, Jessica Lottering, saam met ’n span jong bouers uit agtergeblewe gemeenskappe (wat deur sy Backyard Varsity opgelei word) talle Suid-Afrikaanse behoeftiges se lewens handomkeer verander.
Kort voor Kersfees laasjaar het hulle besluit om nog drie hulpbehoewende gesinne uit dié gemeenskap met splinternuwe gemeubileerde strukture te verras. Dis een van die roerende stories wat in dié dokkie vertel word.
Die shackbouer is nie net ’n viering van die mensdom se onblusbare veggees en deursettingsvermoë in die moeilikste omstandighede nie, maar ook ’n bewys van wat kan gebeur wanneer medemenslikheid en samewerking ingespan word om lewens te verander.
Die shackbouer word op 18 Desember om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) uitgesaai en sal ook op DStv Stream en Catch Up beskikbaar wees.
Kersfees Skouspel 2023
Kersfees Skouspel 2023 spog met die room van Suid-Afrikaanse sangers. Anna Davel, André Schwartz, Arina de Witt, Bobby van Jaarsveld, Cindy Alter van Clout-faam, Corlea Botha, Granville Michaels, Jak de Priester, Karin Hougaard, Louis Loock, Ruhan du Toit en Ernie Bates deel almal ’n verhoog in die feestelike konsert. Die musikale regisseur is Jaconell Mouton.
Kersfees Skouspel 2023 word op 25 Desember om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) uitgesaai en sal ook op DStv Stream en Catch Up beskikbaar wees.
Gé sing: Hoor my lied
Gé Korsten was een van die grootste vroeë suksesverhale in Afrikaanse musiek. Hy het in sy loopbaan van meer as 40 jaar ’n allemintige 58 albums opgeneem en het verskeie toekennings gewen en eerbewyse ontvang. In die dokumentêr Gé sing: Hoor my lied kry kykers deur oudiovisuele argiefmateriaal ’n oorsig oor sy werk en insigte oor hom as kunstenaar, mens en vader. Sy musikale nalatenskap word op ’n vars manier herinterpreteer deur vier van die land se voorste kunstenaars: André Schwartz, Arina de Witt, Louis Loock en Stephanie Baartman. ’n Volle orkes, onder leiding van Chanie Jonker, begelei die sangers. Die regie en teks is deur Frans Swart.
Gé sing: Hoor my lied word op 30 Desember om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) uitgesaai en sal ook op DStv Stream en Catch Up beskikbaar wees.
Krone 2024
Dit was ’n moewiese jol toe van die grootste name in Afrikaanse musiek vanjaar weer Loftus met die immergewilde Krone-konsert laat dreun het. Met ’n 360-grade-verhoog en lirieke op groot skerms om saam te sing, het Appel, Barto, Bernice West, Brendan Peyper, Droomsindroom, Early B, Elandré, Eloff, Irene-Louise van Wyk, Jan Jan Jan, Juanita du Plessis, Kurt Darren, Leah, Liezel Pieters, Refentse, Ricus Nel en Snotkop die skare op hulle voete gehad. Die konsert is opgeneem en nou kan jy die Oujaar op ’n hoë noot afsluit deur deel te wees van hierdie plesier op note.
Krone 2024 word op 31 Desember om 21:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) uitgesaai en sal ook op DStv Stream en Catch Up beskikbaar wees.