Vanjaar is die gesogte Silwerskermbeeldjies weer uitgedeel aan akteurs, aanbieders en persoonlikhede wat tussen 1 April 2023 en 31 Maart 2024 vir uitmuntende vermaak op die kykNET-kanale gesorg het.
Daar is ook erkenning gegee aan legendes in die vermaaklikheidswêreld. Hans Strydom, wat al van 1973 af diep spore in veral Afrikaanse flieks getrap het en die patriarg At Koster in Binnelanders speel, en die veelsydige Denise Newman, deesdae veral bekend vir haar ikoniese rol as Bridgette in Suidooster, is beide vir hul lewensbydraes vereer. Die TV-vervaardiger Roberta Durrant is ook vir haar lewenslange toewyding aan die bedryf gehuldig.
“Film en TV is soos twee kamers van kykNET se hart,” sê Waldimar Pelser, M-Net-kanaaldirekteur: Premium-kanale. “Die een kan nie gesond wees sonder die ander nie. Om hierdie twee kommersiële kunsvorms te verenig by ’n toekenningsaand is nie net heerlik nie, maar ook noodsaaklik.
“Dit is ook baie bevredigend om te sien hoeveel skeppers van Afrikaanse inhoud hul hand aan albei waag – filmmakers wat TV maak en andersom. Die sukses daarvan neem ons bedryf vorentoe. Dit is belangrik om erkenning te gee aan almal wat met min hulpbronne wonderwerke op skerm verrig.”
Boonop vier kykNET vanjaar ’n kwarteeu van vermaak, hoofsaaklik gemik op die Afrikaanse mark. In die kanaal se bestaan van 25 jaar het dit so deel van huishoudings geword soos biltong en beskuit.
Waldimar beskou TV by uitstek as ’n spanpoging en het groot lof vir kykNET se vennote wie hy as meesters van storie, kinematografie, sakeplanne, ondersoekwerk, vermaak en van oplossings soek en vind, beskryf. “Op 25 sê ons uit die hart dankie vir die ure, die idees, die aandag aan detail, en die liefde wat ons deel met ons kykers. Dankie dat julle kykNET saam gebou het.”
Die toekenningsaand was ’n glansryke affêre soos min, iets wat selde op so ’n groot skaal op eie bodem ervaar word. Op 1 September om 20:00 kan kykNET-intekenare sien wie almal gewen het, watter uitrustings die sterre nog meer laat skitter het, en hulle kan deel in die dramatiese oomblikke van onverbloemde vreugde.
DIE WENNERS IN DIE TV-KATEGORIE IS:
Beste byspeler in ’n komedie
- Taktiek - Mandri Sutherland
Beste aanbieder in ’n vermaaklikheidsprogram
- Wie word ’n miljoenêr? - Rian van Heerden
Beste aanbieder in ’n leefstylprogram
- Ommighellie - Frazer Barry
Beste nuweling in ’n telenovela of sepie
- Wyfie - Mienke Ehlers
Beste akteur in ’n komedie
- Taktiek - Bennie Fourie
Beste aktrise in ’n komedie
- Magda Louw - Desiré Gardner
Beste aanbieder in ’n realiteitsprogram
- In die sop - Bertus Basson
Beste ensemble-aanbiederspan
- Toks en Tjops - Breyton Paulse, Hamilton Wessels, Rika Nieuwoudt, Rikus de Beer, Janina Oberholzer, Jean de Villiers, Jonathan Mokuena, Jannie du Plessis, Tommy Dickson (Chef Vaatjie)
Beste byspeler in ’n telenovela of sepie
- Wyfie - Marguerite van Eeden
Beste manlike byspeler in ’n drama
- Koek - Dawid Minnaar
Beste vroulike byspeler in ’n drama
- Koek - Sandra Prinsloo
Beste aanbieder in ’n joernaalprogram
- Prontuit - Kabous Meiring
Beste aanbieder in ’n dokumentêre realiteitsprogram
- Grondpad geloof - Dana Snyman
Beste aanbieder in ’n geselsprogram
- Hannes aan huis - Hannes van Wyk
Beste aanbieder in ’n aktuele program
- In gesprek - Lourensa Eckard
Beste akteur in ’n drama
- Koek - Jacques Bessenger
Beste aktrise in ’n drama
- Koek - Cindy Swanepoel
Beste aktrise in ’n telenovela of sepie
- Suidooster - Jill Levenberg
Beste akteur in ’n telenovela of sepie
- Arendsvlei - Jody Abrahams
Persoonlikheid van die Jaar
- Rachelle Fourie
DIE WENNERS IN DIE SPEELFILM-KATEGORIE IS:
Beste draaiboek van ’n speelfilm
- Som van twee - Simoné Pretorius
Beste oorspronklike klankbaan in ’n speelfilm
- Som van twee - Snoozefest, Hunter Kennedy
Beste klankontwerp in ’n speelfilm
- Die Kwiksilwers - Sound Surgeon Studios, Morné Marais
Beste kinematografie in ’n speelfilm
- Hier.Na - Ebrahim Hajee
Beste redigering in ’n speelfilm
- Som van twee - Dries Scholtz
Beste grimering en haarstilering in ’n speelfilm
- Die Kwiksilwers - Hanri Neethling
Beste kostuums in ’n speelfilm
- Hier.Na - Ayesha Khatieb
Beste manlike byspeler in ’n speelfilm
- Som van twee - Pierre Breytenbach
Beste vroulike byspeler in ’n speelfilm
- Hier.Na - Trudy van Rooy
Beste regie in ’n speelfilm
- Som van twee - Simoné Pretorius
Beste akteur in ’n speelfilm
- Som van twee - James Borthwick
Beste aktrise in ’n speelfilm
- Hier.Na - June van Merch
Beste speelfilm
- Som van twee
DIE WENNERS IN DIE KORTFILMS-KATEGORIE IS:
Beste draaiboek van ’n kortfilm deur ’n opkomende filmmaker
- Marie se laaste dag - Mercy Kannemeyer en Lourensa Eckard
Beste regie van ’n kortfilm deur ’n opkomende filmmaker
- Die Skynwerper - Dewet van Rooyen
Beste kortfilm deur ’n opkomende filmmaker
- Marie se laaste dag
Beste kinematografie in ’n kortfilm
- Marie se laaste dag - Tom Marais
Beste redigering in ’n kortfilm
- Baas se honne - Leon Visser
Beste akteur in ’n kortfilm
- Die Skynwerper - Ben Albertyn
Beste aktrise in ’n kortfilm
- Selah - Erica Wessels
Beste Shotgun-kortfilm
- Baas se honne
DIE WENNERS IN DIE DOKUMENTÊR-KATEGORIE IS:
Beste kort dokumentêr
- Maak stil die geblaf
Beste regie in ’n kort dokumentêr
- Maak stil die geblaf - Marisa van Tonder
Beste redigering in ’n kort dokumentêr
- Vergeet van my - Pierre-Arnold Theron
TOEKENNINGS VIR LEWENSBYDRAE:
- Denise Newman (aktrise)
- Hans Strydom (akteur)
- Roberta Durrant (TV-vervaardiger)
FEESGUNSTELING
- Die Kwiksilwers
- Die 12de kykNET Silwerskermfees is moontlik gemaak deur Openserve en die Stad Kaapstad. Die Silwerskermtoekennings vir Film en TV word op Sondag 1 September om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) uitgesaai.