In die finale episode moes Blue teen Anelda Price (24) en Michelle de Waal (42) meeding in ’n uitdaging wat verskeie van die take van vorige uitdagings gekombineer het. Trappe moes met hooibale gebou word, balanseerbalke en wipplanke moes trotseer word en ’n emmer moes met die kleinste moontlike emmertjie opgevul word.
Blue het die meeste van die tyd die voortou geneem en ten spyte van moedige pogings deur Anelda en Michelle, was hy die eerste om sy soutsilo oop te sluit wat hom die prysgeld besorg het.
Reeds met die stadsjapies se aankoms op die twee plase, Groenkloof en Oranjezicht, was dit duidelik dat Blue met ’n eiesoortige plan speel. Waar sy hande nie altyd so besig was as wat sommige deelnemers dit wou sien nie, het hy met slim kopspeletjies bondgenootskappe gesluit wat tot aan die einde in sy guns getel het.
“Daai was 100% Game Blue. Ek het vroeg vir myself gesê ek gaan met my mind speel en nie met my hart nie. Ek moes die game strategies hard speel omdat ek geweet het ek is nie ’n fisiese threat nie,” sê hy.
Een van sy grootste strategiese skuiwe het hom so byna-byna uitgeskakel. Dit was toe hy ’n bladsy uit Riaan Snyder (30) se boek geleen het om homself die teiken te maak om uitgestem te word. Riaan wou werklik huiswaarts keer, maar Blue nie – hy het immers ’n bonus-pekelpennie in sy sak gehad.
Hy wou seker maak sy bondgenoot, Monique Hobkirk (42) bly deel van die reeks ten koste van Liovian Anderson (40) of André Mouton (44).
“Baie mag dalk nie saamstem met hoe ek die game gespeel het nie, maar dit het my veilig gehou Koöperasie-kuier ná Koöperasie-kuier en het my gevat tot in die top-3 wat dit moontlik gemaak het om te wen. En daarvoor is ek dankbaar,” kom dit van vanjaar se Plaasjapie.
Hy hoop ook dat daar geen kwade gevoelens van die ander deelnemers jeens hom is nie.
Dit was nie net bloed, sweet en strategie nie. Daar is ook gesels en gebraai. En natuurlik ’n paar verrassings wat opgeduik het.
“My snaaksste oomblik was om die shocked gesigte te sien toe ek veilig is gedurende die kook-uitdaging. Niemand het verwag dat ’n slaai die beste gereg van die dag gaan wees nie. Wel, niemand seker behalwe ek nie, want daai slaai was amazing!” sê Blue.
Wat hou die toekoms in vir Blue?
“Natuurlik is dit my groot droom om miskien eendag vir Survivor in te skryf.”
Maar eers gaan daardie prysgeld ingespan word vir die hoofrede hoekom hy ingeskryf het vir Plaasjapie en dis om onder meer die lewe vir sy ma en ouma gemakliker te maak.
Hou die spasie dop, die kans is goed dat Blue weer een of ander tyd sy strategie teen ander deelnemers op die kassie gaan inspan.