web uni tv guide
web uni tv guide

Net Mens

144Dokumentêr13 L

Reynardt Hugo se "Net mens" keer terug met drie eksklusiewe, nuwe episodes

Nuus
31 Oktober 2023
Die aktrise Lindie Stander, sanger Appel en rugbylegende Breyton Paulse deel hul lewensverhale in dié reeks.
net mens tv show

Vanaf 26 November sal nog drie bekendes in splinternuwe episodes van Net mens oop kaarte met die gewilde akteur Reynardt Hugo speel.

Net mens is ’n dokumentêre reeks met ’n sensitiewe dog eerlike aanslag wat kykers insae gee in Suid-Afrikaanse kunstenaars se lewens – vanaf grootwordjare tot die kruin van ’n loopbaan; die moeilike tye, die goeie tye, suksesse asook die opspraakwekkende oomblikke wat voorblaaie gehaal het. Dié kunstenaars (sangers, akteurs, aanbieders en glanspersoonlikhede) maak in Net mens oop oor die komplekse uitdagings van ’n lewe in die openbare oog.

In die eerste seisoen van die reeks, wat vroeër vanjaar op kykNET uitgesaai is, het Kurt Darren, Kim Cloete, Dirk van der Westhuizen, Elandré, Cindy Swanepoel, Refentse, Hykie Berg en Early B hulle harte oopgemaak en kykers insae in hul lewens agter die skerms gegee.

Nou deel die aktrise Lindie Stander, sanger Appel en rugbylegende Breyton Paulse hul lewensverhale soos nog nooit tevore nie.

Die idee vir die reeks kom uit die kreatiewe kop van die Binnelanders-akteur Reynardt Hugo, Net mens se vervaardiger en regisseur. In die opkomende splinternuwe episodes sal kykers ook meer van Hugo as onderhoudvoerder op die skerm sien.

“Met elke episode het ek so baie geleer en gegroei. Ek het werklik deernis ontwikkel vir die mense met wie ek kon gesels. Ek bedank hulle vir die manier waarop hulle ons in hul huise en harte ingelaat en vertrou het met baie sensitiewe persoonlike sake. Kykers sal anders oor hulle dink ná die episodes,” sê Hugo.

Die eerste episode skop af met die geliefde Binnelanders-aktrise Lindie Stander wat oopmaak oor haar moeilike verlede. Terwyl sy binne haar twee dekade lange televisieloopbaan in kykers se harte gekruip het, het sy haar pyn agter ’n masker weggesteek. Die letsels van molestasie was vir ander onsigbaar, maar het haar jare lank agtervolg. Sy praat openlik oor die tye waar sy haar in ’n donker put van dwelm- en drankverslawing bevind het, maar ook oor hoe haar soeke na heling en betekenis nooit opgehou het nie.

Die Net mens-span het ook by die Helen Joseph-hospitaal besoek afgelê wat ’n belangrike rol in Lindi Stander se lewensverhaal gespeel het.

Die geliefde Afrikaanse sanger Appel se lewe het onverwagse draaie gemaak, maar die grootste uitdaging was sy stryd met epileptiese aanvalle wat hom telkemaal heeltemal ontwrig en sy loopbaan tot stilstand gedwing het. Hy moes weer van vooraf leer skryf, praat en kitaar speel. Met die hulp van sy ondersteunende vrou en sy liefde vir sy dogter, asook ’n Goddelike ingryping, het hy ’n tweede kans gekry. Sy storie getuig van die veerkragtigheid van die menslike gees en hoe belangrik dit is om jou geliefdes te koester.

Die filmspan het ook ’n draai by die Affie Wildsfees tydens een van Appel se optredes gemaak.

Breyton Paulse is nie net al dekades lank een van die aanbieders van die gewilde kykNET-sportprogram Toks & Tjops nie, maar ook ’n rugbyheld uit die Koue Bokkeveld. As speler het elke jongeling van sy streek hom bewonder en sy sukses nagestreef. Vanuit ’n klein plaasgemeenskap het Paulse internasionale roem met sy rugbyloopbaan behaal en respek afgedwing omdat hy met soveel hart gespeel het dat sy kort statuur hom nooit verhoed het om op die hoogste vlak uit te blink nie. Maar daar was ook struikelblokke te midde van sy oorwinnings, soos die dag wat sy ma en tannie tragies in die see verdrink het. Paulse beklemtoon egter steeds die belangrikheid van ’n positiewe uitkyk op die lewe en sy verbondenheid met die gemeenskap waaruit hy spruit – ’n band wat menige tye sy dryfkrag was om voluit te leef.

Die episode oor Paulse sluit ook eksklusiewe onderhoude met Jean de Villiers, Frans Steyn en Joel Stransky in wat hulle insigte en herinneringe deel.

Net mens begin Sondag 26 November om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144). Episodes sal ook op DStv Stream beskikbaar wees.