kyknet channel logo

Onthul: Wat gaan werklik in Wilgenhof aan?

Nuus
20 September 2024
Wat gaan aan by Wilgenhof? Die legendariese manskoshuis van die Universiteit van Stellenbosch is sedert Februarie in die nuus ná daar foto’s van twee kamers in die koshuis versprei het. Die kamers was gevul met ontstellende artefakte en gerugte het begin loop oor verdagte aktiwiteite waar oor dekades gebeur het.
Onthul

In die volgende ondersoekende program in die Onthul-reeks word daar gepoog om uit te vind wat werklik in Wilgenhof gebeur het. Onthul – Wilgenhof: trauma of tradisie? word op 6 Oktober om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) uitgesaai.



Ná die ontdekking van die kamers en al die publisiteit daarna, het die universiteit dadelik die kamers gesluit, leeggemaak en oorgeverf. ’n Onafhanklike paneel is aangestel om verder ondersoek in te stel en aanbevelings te maak oor wat die volgende stap moet wees. Hulle raad was dat die koshuis gesluit moet word, maar dit het onmin tussen twee kampe gebring. Aan die een kant was daar die oud-inwoners en ondersteuners van Wilgenhof wat voel die koshuis dien as kulturele en historiese baken, asook dat die US al dekades lank ’n vendetta teen Wilgenhof bedryf en hierdie verslag gaan gebruik om hul sin te kry.  Aan die ander kant is daar diegene wat van mening is dat Wilgenhof reeds dekades lank met verdagte aktiwiteite besig is, en dat die koshuis ’n euwel is.

In die program, wat ’n uur lank is, gaan daar onder meer gekyk word na kwessies soos tradisie, die sogenaamde “woke”-kultuur wat alles aan die groot klok wil hang, toksiese manlikheid en of die US se strewe na ’n totaal inklusiewe omgewing nie uiteindelik ’n strewe na identiteitsloosheid is nie. Dit is ook duidelik dat die twee kampe beide rigied en onwrikbaar is en nie die ander se saak wil insien nie.

Van die deelnemers aan die program is die joernaliste Adriaan Basson en Jo Prins, die grondwetkenner Prof. Pierre de Vos, die sielkundige Anton Böhmer, Prof. Vasti Roodt asook voormalige Wilgenhoffers soos Neels van Jaarsveld, Samore Menze en Louis van der Riet.

Onthul – Wilgenhof: trauma of tradisie? is deur Idea Candy vervaardig en die ondersoekende joernalis Pieter-Louis Myburgh, die regisseur Nina Swart en die vervaardiger Wynette Theart het agter die skerms gewerk.

Onthul – Wilgenhof: trauma of tradisie? word op 6 Oktober om 20:00 op kykNET, DStv-kanaal 144, uitgesaai en sal ook op DStv Stream en Catch Up beskikbaar wees.