kyknet channel logo

'My naam is Farah' – nuwe Turkse telenovela vir kykNET&kie

Nuus
20 September 2024
’n Splinternuwe oorgeklankte Turkse telenovela begin op 14 Oktober op kykNET&kie (DStv-kanaal 145), en daar gaan oorgenoeg drama én romanse wees.
My Naam is Farah

SINOPSIS: MY NAAM IS FARAH

Farah Ersadi is ’n 28-jarige Iranese dokter wat onwettig as ’n skoonmaker in Istanbul werk. Sy is ma van ’n sesjarige seun, Kerimsah, wat aan ’n outo-immuunsiekte ly en as gevolg daarvan geen weerstand teen siektes het nie. Die mediese hulp wat hy nodig het, is peperduur, en Farah kan ondanks haar kwalifikasie nie as dokter in Turkye praktiseer nie. Sy werk dus as skoonmaker om genoeg geld vir sy mediese sorg te verdien. 

Farah se wêreld word verder op sy kop gekeer wanneer sy die ooggetuie van ’n moord deur die plaaslike mafia word. Die mafiabaas kry vir Tahir Lekesiz om haar te vermoor, maar sal hy die opdrag kan deurvoer? Waar lê sy lojaliteit: by die mafiabaas wat sy lewe gered het toe hy ’n kind was, of by die mooi dokter en haar seun? 

My naam is Farah se oorspronklike Turkse titel is Adim Farah. Dit is ’n verwerking van die Argentynse reeks La chica que limpia, wat ook ’n Amerikaanse weergawe het, The Cleaning Lady, wat op Showmax te sien is. 

DIE HOOFSPELERS

Demet Özdemir speel Farah Ersadi. Sy is op 26 Februarie 1992 in Izmit gebore, maar het ná haar ouers se egskeiding saam met haar ma en twee ouer sibbe Istanbul toe getrek. Demet was ’n professionele danser voor sy ’n aktrise geword het. Volg haar hier op Instagram. Mandi Baard is vir Farah se stem in Afrikaans verantwoordelik. 

Engin Akyürek is Tahir Lekesiz. Engin, wat op 12 Oktober 1981 gebore is, is ’n Turkse akteur en draaiboekskrywer, en hoewel hy geen formele drama-opleiding het nie, is dit sy eerste liefde. Hy het taalgeskiedenis en geografie aan die Universiteit van Ankara studeer voor hy aan Turkey’s Stars, ’n TV-talentsoekprogram, deelgeneem het. Kort daarna het hy sy eerste rol losgeslaan en nog nie weer teruggekyk nie. Volg hom hier op Instagram. Die stem van Tahir word deur Reynard Slabbert gedoen. 

Firat Taniş is ’n Turkse akteur en musikant en het al in meer as dertig rolprente verskyn. Hy is op 5 Mei 1975 gebore. Firat speel die rol van die mafiabaas Mehmet Kosaner, en Charl van Heyningen is sy Afrikaanse stem. Volg hom hier op Instagram.

Ander karakters in die telenovela en hulle Afrikaanse stemme is Perihan (Karin Retief), Kaan (Markus Haywood), Kerimsah (Juwan van der Westhuizen), Gönül (Carmen Pretorius), Ilyas (Pierre-Thomas Retief), Orhan (Mortimer Williams) en Bade (Mari Molefe). 

  • My naam is Farah begin 14 Oktober om 20:00 op kykNET&kie (DStv-kanaal 145).