web uni tv guide
Boer soek 'n vrou S16 Slim BB
web uni tv guide

Boer Soek 'n Vrou

144RealiteitPG13

Marciel groet vanjaar "Boer soek 'n vrou"

Nuus
05 Julie 2024
Marciel is sedert 2020 die aanbieder van "Boer soek ’n vrou".
Marciel Hopkins groet article image

In ’n eksklusiewe onderhoud met Landbouweekblad het die Boer soek ’n vrou-aanbieder Marciel Hopkins onthul dat dit haar laaste seisoen gaan wees waar sy boere help om liefde te vind.   

Marciel is sedert 2020 die aanbieder van Boer soek ’n vrou en sy sê dat dit vir haar ’n “enorme voorreg” was om vir vier seisoene dié rol te kon vervul. Die sestiende seisoen van die maatsoekreeks begin op Donderdag 18 Julie.

“Om ’n pad met 40 boere te kon stap, het my lewe verryk, my opnuut in die liefde laat glo en ek is trotser as ooit om 'n Suid-Afrikaner te wees,” sê sy. 

“Die mooi herinneringe en fantastiese lewenservaringe sal ek altyd saam met my neem en koester." 

“Om totsiens te sê is vir my bittersoet in alle opsigte, maar ek groet met die wete en vrede dat ek my hele hart die afgelope paar jaar vir die program gegee het.”

kykNET sal Marciel se opvolger na afloop van vanjaar se seisoen aankondig. 

Buiten Marciel, is Boer soek ’n vrou al deur Elma Postma (2008-2010), Angelique Gerber (2011-2013), Nadia Beukes (2014-2015), Minki van der Westhuizen (2016-2017) en Leah van Niekerk (2018-2019) aangebied. 

 

Marciel praat openhartig oor haar Boer soek ’n vrou-reis in die 11-18 Julie-uitgawe van Landbouweekblad

Meer oor Boer soek ’n vrou 

Soos voorheen sal dié gewilde maatsoekreeks, wat uit 13 episodes bestaan, grootliks fokus op die vyf boere wat die meeste inskrywings ontvang het. Kykers sal dan dié hubare boere se opwindende liefdesreis volg. 

Boer soek ’n vrou het sedert 2008 ’n móét-kyk afspraak op die Suid-Afrikaanse TV-kalender geword en tientalle boere het al deur hierdie reeks hul lewensmaats ontmoet. Só het drie van die top-5 boere van 2023 se Boer soek ’n vrou, Francois, Hennie en Louis B, intussen met hul pasmaats getrou. 

Boer soek ’n vrou begin op Donderdag 18 Julie om 20:00 op kykNET (kanaal 144 op DStv) en sal op DStv Stream ook beskikbaar wees.