web uni tv guide
web uni tv guide

Banana Air

144Komedie13

'Banana Air' se Lara Lourens: ‘Koekie is ’n karakter baie na aan my hart’

Nuus
22 Oktober 2024
Die aktrise Lara Lourens vertolk die rol van Koekie Koekemoer in die kykNET-komedie Banana Air, wat elke Maandagaand op die kassie is.
Banana Air

Die aktrise Lara Lourens vertolk die rol van Koekie Koekemoer in die kykNET-komedie Banana Air, wat elke Maandagaand op die kassie is. Koekie is die energieke lugwaardin in Banana Air se sakeklas en ’n belly dancer in haar vrye tyd. 

“Koekie Koekemoer is ’n karakter so na aan my hart. Kyk, sy is nou regtig nie boekslim nie, maar mens moet haar nie onderskat nie. Ten spyte van al die drama onder die personeel by Banana Air, is Koekie eintlik maar net te dankbaar om ’n werkie te hê en deel van die span te wees,” vertel Lara. 

Koekie is nie iemand wat vooruit beplan of goed oordink nie, sy is impulsief en lewe in die oomblik – wat natuurlik lei tot ’n paar onverwagse romanses en taai situasies.

Volgens Lara was dit ’n proses om haar karakter te ontwikkel. 

“Koekie is redelik ver verwyderd van wie ek is as mens. Jy begin maar altyd by die teks, die hele teks vir elke episode, en deur jouself vertroud te maak met die dinamiek van die karakters en die storiewêreld, en dan kyk jy hoe jou karakter daarin pas. Karakteranalise is net so belangrik soos teksanalise. So, ek moes seker maak ek verstaan wat Koekie se gedagteproses is, want dit is nie noodwendig hoe ek as Lara sou dink of redeneer nie.” 

Maar al verskil Koekie en Lara hemelsbreed, wens sy soms sy kan so spontaan en impulsief soos Koekie wees. “Ek oordink gereeld en is altyd besig om te analiseer,” voeg Lara by. 

“Ek kan nie vir ander mense praat nie, maar ek hou van Koekie, want sy neem nie haarself te ernstig op nie en veroorsaak soms groot drama met geen benul dat sy in die middel van alles sit nie. Ek het regtig myself gate uit geniet deur die rol te vertolk. Koekie is ’n geval van ‘wat jy sien is wat jy kry’. Sy is wie sy is, en sy is heel oukei daarmee.” 

Lara speel teenoor haar kêrel, Kaz McFadden, wat die rol van Brand vertolk. “Dit was lekker om weer teenoor my kêrel, Kaz, te kon speel. Ons het soveel oomblikke op stel gehad wat my nou nog laat giggel.”

“Tydens een toneel moes ek van ’n stoel af spring en saam met Danielle Retief (Barbie) oor ’n houtdek loop, maar iewers in die proses het my hakskoen van my voet af geskiet en in die dakbalke beland. Die kamera was besig om te rol, en ek wou nie karakter breek of lag nie. So, toe storm Koekie doelgerig op Hester (Liane Heyl) af, hinkepink in een skoen,” vertel sy laggend.

Wanneer Lara nie kykers op die kassie vermaak nie, is sy besig agter die skerms. Sy het saam met Kaz en Zack Mtombeni ’n produksiemaatskappy, The Third Law, begin. Hulle is tans in na-produksie met ’n film wat hulle vir Showmax vervaardig het. Hulle was ook onlangs by Aardklop met Kaz se eenmanvertoning Stuur groete vir die Moot. Lara het die toneelstuk geskryf én die regie behartig. En dan gee sy ook deeltyds klas vir eerste- en tweedejaarstudente. 

⁠”Ek speel binnekort ook in ’n teaterproduksie by Teksmark. Dit sal die eerste keer sedert Covid-19 wees wat ek self die teaterplanke aandurf. Dit is beide opwindend en angswekkend!” sê sy. 

Banana Air word vervaardig deur Westel Produksies, wat vir reekse soos ,Molly & Wors, Hester en Ester Bester, Poena en Huis Lelieveld verantwoordelik was. 

  • Banana Air is elke Maandagaand om 20:00 net op kykNET (DStv-kanaal 144). Dit sal ook op DStv Catch Up en DStv Stream beskikbaar wees.