Deur Ilza Roggeband
Dit was ’n mondeling op laerskool. Hy het voor dit aan verskeie sangkompetisies in Volksrust en omstreke deelgeneem en die verhoog was dus nie vir hom vreemd nie, maar toe kom die onvoorbereide mondeling – in Engels – en die vraag: Wat wil jy word as jy eendag groot is?
“Ek was toe al so lief vir konsert hou, maar was nog nie seker wat ek wou doen nie. Toe sê ek ek wil ’n akteur word want dan kan ek alles word – van ’n polisieman tot ’n boer,” sê Albert Pretorius, Nêrens, Noord-Kaap se Ronnie, per video-oproep uit Mauritius waar hy op die oomblik aan ’n nuwe reeks vir Showmax werk.
Wanneer dit by die uitvoerende kunste kom, is daar ’n paar eerstes wat hy onthou. “Op kleuterskool het ons Jock of the Bushveld gekyk en ek het so gehuil, dat my ma my moes kom haal. Toe ek amper 13 was, het ons Newcastle toe gery om Titanic te gaan kyk. My ma-hulle het my ingeglip en gesê hulle sal my oë toemaak as daar iets is wat ek nie moet sien nie. Om een of ander rede het iemand die fliekteater se lugreëling baie koud gestel en dit was bibberkoud, maar die fliek het my weggeblaas. Ek was ook dadelik verlief op Kate Winslet.”
Die Pretorius-gesin het later Pretoria toe verhuis en daar het hy op hoërskool by Shareen Swart dramaklasse geneem. “Op ’n dag het Henry Mylne ons kom beoordeel en hy het gesê ek moet aansoek doen om drama by die Universiteit van Kaapstad te gaan studeer. Hy het geglo ek moet onder Sandra Temmingh se hande deurgaan. Ek moet eerlik wees - nie net het ek op daardie stadium nie geweet Kaapstad het ’n universiteit nie, ek het ook nie geweet hulle het ’n dramadepartement nie. Ek het toe besluit as ek ’n oudisie kry, sal ek dit doen. Hulle neem elke jaar min studente en net om plek te kry was al ’n eer.”
Hy hét plek gekry en in 2008 wen hy die Moira Lister-toekenning as beste opkomende akteur. Sedertdien het Albert veral in die teater reuse-spore getrap in produksies soos Buite blaf die honde swart, Katvoet, Bloed en bodem, Wild, Dogma en Die Seemeeu (wat ook later ’n speelfilm geword het). Hy was te sien in die flieks Johnny is nie dood nie, Kanarie en Modder en bloed om net ‘n paar te noem asook die TV-reekse Buurtwag, Dwaalster en Slot en vele ander. In sy loopbaan het hy reeds sewe toekennings vir sy spel gewen en verskeie benoemings gekry en word hy sonder twyfel as een van die grotes van sy generasie gesien.
Is daar ’n teaterproduksie wat vir hom uitstaan; ’n gunsteling onder die vele wat hy al gedoen het?
“Dis soos om ’n gunsteling-kind te kies,” sê hy. “Daar is om die waarheid te sê min toneelstukke waarop ek nie trots is nie. Jy raak lief vir die goed. As daar een is wat ek baie graag weer wil doen, is dit Tien duisend ton waarin ek en Cintaine Schutte gespeel het. Nico (Scheepers, ook die skrywer en mede-regisseur van Nêrens, Noord-Kaap) het die teks uit Engels vertaal en was ook die regisseur. Dis so ’n goeie teks. As daar ’n goeie teks is, is helfte van jou werk vir jou gedoen. Ek is gelukkig. Daar was baie hoogtepunte en min laagtepunte.”
Nêrens, Noord-Kaap se Adendorff-broers – Geon Nel is Frans en De Klerk Oelofse is Andries – kom al ’n pad saam en was al drie deel van die rolverdeling van Balbesit, een van die treffer-stukke in 2013. In 2018 het hulle by die Vrystaatfees in Bloemfontein gedebuteer met die toneelstuk Nêrens, Noord-Kaap waarop die TV-reeks gegrond is.
“Ja, ons is seker al soos broers,” sê Albert. “As jy van een fees en een dorp na die ander toer, leer jy nogal die ander vyfuur in die die oggend in ’n bussie op pad na nog ’n fees ken. Daar is ’n konneksie tussen ons wat ek met min ander mense het.”
Waar het hy vir Ronnie, eers met die toneelstuk en nou met die reeks, gaan haal?
“Ek dink dis van 35 jaar tussen Afrikaners lewe,” sê hy en lag. “Almal ken ’n Ronnie. ’n Oom iewers, jou niggie se boyfriend ... Ek het net van die begin vir Ronnie geken.”
Is daar iets van homself in Ronnie?
“Daar is altyd tog iets van jouself in elke karakter. Ek kan net tap uit my eie ervarings. Ek dink die een ding wat ons beslis in gemeen het, is dat Ronnie, soos ek, ’n klein hartjie het.”
Vir hom is drama en komedie twee kante van ’n munt.
“Ek vind altyd dat dramatiese werk goed werk wanneer daar iets komies ook is of wanneer komedie baie ernstig gespeel word,” sê hy. “Daar is ’n hanswors in Ronnie en dis een van die redes hoekom dit so lekker karakter is om te speel.”
Die reeks is in en om Kaapstad en in Nieuwoudtville verfilm en die verfilming van tonele het nie altyd op mekaar gevolg soos in die draaiboek nie.
“Ek doen baie huiswerk voor die tyd,” sê Albert. “Ek breek alle tonele waarin ek is af en skryf dit in ’n boek oor. As ons byvoorbeeld skielik tussen episodes rondspring, kan ek na my boek toe gaan en kyk waar Ronnie op daardie stadium was. Mens moet kophou. Daar was byvoorbeeld ses weke tussen die verfilming in die Kaap en toe ek Noord-Kaap toe is om die res te doen. Dit kan oorweldigend raak as jy nie voorbereid is nie.”
Hy en Daneel van der Walt, wat die rol van Suzette speel, het mekaar nie goed geken voor hulle saam begin werk het nie. “Ons was al twee op Ikeys en het mekaar so nou en dan op plekke raakgeloop, maar ons het mekaar eintlik leer ken tydens die repetisies voor die tyd en omdat ons met die tonele in Kaapstad elke dag saam stel toe en terug gery het. Baie van die bonding het in die kar gebeur.”
Albert sê hy het reeds toe hy die draaiboek gelees het, besef Suzette is ’n ongelooflike karakter.
“Sy is amper die redder. Die reeks gaan eintlik oor die mans, maar dis die vroue wat sterk is. Suzette het ’n hart van goud en sy het van die begin vir Ronnie gesien vir wie hy is. Daneel is ’n fantastiese aktrise. Sy luister. Sy is in daardie toneel wat ons skiet. Sy het ’n teenwoordighed, ’n prescence. Ronnie en Suzette se verhouding is nie perfek nie, maar somehow werk dit en dis seker die beste wat almal van ons kan vra.”
Albert sê Nico se kinderlike opgewondenheid oor sy werk is aansteeklik.
“Dis asof hy sê: Kom ons speel dan worry ons oor die grootmensgoed later. Dan maak ’n show oop en jy besef ons het nog net gespeel. Dit was my keer eerste om saam met twee regisseurs te werk, maar ek het dit baie geniet. (Johan Cronje is die mede-regisseur.) Nico en Johan is uiteenlopend, maar het dieselfde visie en dis ’n groot voordeel.”
Albert is vol lof oor hoe goed Nico met die kinderakteurs gewerk het. “Ek vermoed dis omdat hy soveel jare tienertoneel gedoen het. Of dalk omdat hy nog self ’n kinders is,” lag hy. “Nico het daardie vonk van die jeug. Hy hanteer die kinders soos gelyke en kon met elke toneel presies vir hulle verduidelik waar die karakter nou is.”
Vir Arnold Swart, wat klein Lourens speel, het Albert net goeie woorde. “Hy is die lieflikste kind. Tot die laaste dag kon ek hom nie sover kry om my nie oom te noem nie.”
Albert se eerste toneel saam met Frank Opperman, wat sy pa Lourens speel, was die toneel in episode 11 waar Ronnie sy pa gaan groet wanneer hy op die plaas kom vir die partytjie. “Dit is ’n moeilike toneel, maar het gelukkig die ys gebreek. Ek het ongelooflik lief vir Frank geword. Hy is ’n vreugde.”
Hy sê dit is opvallend dat groot name soos Frank, Marius Weyers, Sandra Prinsloo en Anna-Mart van der Merwe geen ego het nie. “Hulle werk drie keer harder as almal anders. Dis ’n goeie leerskool om saam met hulle te werk; om net weer te besef jy moet op jou gat sit en jou werk doen.”
Twee name kom dadelik op wanneer jy hom vra wie die spelers na wie hy opkyk: James Gandolfini en Philip Seymour Hoffman.
“Nie een van hulle lyk noodwendig soos die Hollywood leading man nie, maar hulle werk spreek vanself. Sandra (Temmingh) het altyd gesê dis die verskillende maskers wat mense en ook akteurs dra. Dit gaan nie noodwendig oor hoe jy lyk nie, maar hoe jy die storie vertel. Solank dit wat jy doen gewortel is in die waarheid, kan jy so groot of so klein gaan as wat jy wil.”
Maar, sê Albert, hy dink ook Suid-Afrikaanse uitvoerende kunste is dalk meer geskoei op die Europese model en nie noodwendig Hollywood nie. “Jy het nie nodig om ‘n Adonis te wees nie. Jy kan ’n Gérard Depardieu wees wat dronk van ’n balkon af skreeu. En as ons nou moet eerlik wees, is Suid-Afrika se suksesvolste leading man by die kaartjiekantoor Leon Schuster,” sê hy en gee sy kenmerkende lag.
Hoe hanteer hy kritiek?
“Met ’n knippie sout, maar dit hang seker waar dit vandaan kom. As dit een of ander naamlose mens op sosiale media is, sal ek my nie daaraan steur nie. As dit iemand is wat my goed ken en na my toe kom om te sê iets is nie my beste werk nie, sal ek luister. Ons lewe in ’n wêreld waar almal deesdae kritiek kan lewer, maar dis nie altyd nodig om te luister nie.
“Ek is baie dankbaar vir die lof wat Nêrens, Noord-Kaap kry. Ek probeer om nie voor enige produksie te waag om te sê of dit gaan werk of nie, maar die reaksie op Nêrens, Noord-Kaap het my verras. Dis beslis die storie wat mense so diep getref het. Daar is vir elke mens iets wat hulle aanraak. Het jy byvoorbeeld gesien hoeveel mense sê hulle mis hulle kinders wat oorsee woon?”
Hy sal so nou en dan die kommentaar oor die reeks lees, maar sê soos met kritiek, moet kommentaar ook met ’n knippie sout geneem word. “As jy die slegte kritiek en kommentaar met ’n knippie sout vat, moet jy die goeie ook met ’n knippie sout vat.”
Indien daar ’n tweede reeks is, wat is sy wens vir Ronnie?
“Ek hoop ou Ronna vind vrede. Ek hoop dat hy met homself sal kan begin saamleef.”
2021 was vir Albert ’n moeliker jaar as 2020. “Daar was net nie werk nie,” sê hy. “Daar was Nêrens, Noord-Kaap en so paar klein goedjies, maar ek het net weer besef hoe ons teater nodig het. Gelukkig lyk dit of dinge begin draai. Ek gaan 2022 positief in. Daar is sprake van ’n toneelstuk, hierdie reeks wat in 2022 op Showmax uitgesaai gaan word en ’n kans dat ons weer Nêrens, Noord-Kaap op die planke gaan bring. Dan hoop ek verder dat die mense om my veilig en OK is in 2022. Dan is alles reg.”
Is daar ’n Suzette in sy lewe, iemand wat hom ondersteun en sy grootste aanhanger is?
“Daar is iemand, maar dis nog nuut. Sy kom oor ’n paar weke Mauritius toe waarna ek baie uitsien.”
Nêrens, Noord-Kaap saai elke Dinsdag om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) uit en is ook op DStv Catch up beskikbaar.