Hierdie jubileumsuitgawe verskyn met vier verskillende voorblaaie, en op elkeen pryk vier van die sestien geliefde figure wat op verskeie maniere verpersoonlik waarvoor kykNET en SARIE staan – twee instellings wat saam ’n eeu van gemeenskap, vermaak, inspirasie, inligting, geselskap en gehalte aan gewaardeerde kykers en lesers gebied het.
“SARIE is vanjaar 75. Dis ’n merkwaardige mylpaal en iets waarop die SARIE-span ongelooflik trots is. Om dit só saam met kykNET in hul groot jaar te vier, is opwindend!” sê die SARIE-redakteur, Michélle van Breda. “Baie van hierdie sterre stap al ’n lang pad saam met die tydskrif – Denise Newman, Donnalee Roberts, Nadia Valvekens, Simoné Pretorius, Amalia Uys, Emo Adams en Hannes van Wyk. Hulle is ook van die gesigte wat oor die jare byna sinoniem met kykNET geword het. En daar’s vele nuwe gesigte. Dis wonderlik om hulle saam op die voorblaaie te sien ter viering van hierdie unieke geleentheid en boonop ’n groot bederf vir die feesseisoen.’’
Volgens Michélle het dit van SARIE en kykNET behoorlik kophou geverg om die vier voorblaaie te laat gebeur. “Een voorblad is reeds ’n uitdaging – vier wil gedoen wees. Ons het al dikwels meer as een voorblad in dieselfde tyd op die rak gehad, maar nog nooit met soveel bekendes nie. Hierdie is ’n eerste vir ons en vir kykNET. Net om almal op een plek voor fotograaf Marijke Willems se kamera te kry, het fyn beplanning gekos. Want hulle is akteurs, TV-aanbieders, nuusjoernaliste, vermaaklikheidsterre, legendes in die bedryf … en bésig!
“Ek haal my hoed af vir die kykNET-span wat ons wenslys laat waar word het. Hulle het eenvoudig nie opgegee nie. Om Hans Strydom voor die SARIE-kamera te kry is een van my persoonlike voorbladhoogtepunte!”
“Wat ’n wonderlike manier om ons verjaarsdagmaand af te skop,” sê Waldimar Pelser, M-Net-kanaaldirekteur: Premium-kanale. “Ons is geweldig trots dat kykNET 25 jaar van die beste Afrikaanse inhoud kan vier. Dit is te danke aan die passie en toewyding van almal voor en agter die kameras en ons getroue, geliefde kykers. Om saam met SARIE hierdie mylpaal te vier en hierdie spesiale uitgawe en konsep te kon realiseer, is werklik die kersie op die verjaardagkoek!”
Die fotosessie het reeds in Augustus in Johannesburg plaasgevind met verskeie bekendes wat spesiaal van Kaapstad opgevlieg is en hul ander verpligtinge vir eers opsy moes skuif. Sestien mense voor die kamera, maar net soveel daaragter.
Vir twee dae was dit ’n miernes van bedrywigheid in die ateljee met spontane danspassies en sangsessies, onthou-jy-praatjies, kan-jy-glo-stories en baie lag. By tye het die senuwees geknaag, want die tyd was min, maar daar was ’n magtige wil en dus ’n weg. Soos Kwêla se Hannes dit gestel het: “Vir só ’n geleentheid sê jy net ja!”
- SARIE se November/Desember-tydskrif is tans op die rakke. Bravo! het agter die skerms gekuier en op Donderdag, 7 November om 21:00 word die episode uitgesaai op kykNET, DStv kanaal 144. Episodes is ook op Catch Up op DStv Stream beskikbaar.