Ek is gebore in Uitenhage (op 10 Januarie 1986) en het groot geword in Joubertina in die Langkloof (Ooskaap). Ek is die jongste van drie dogters, die laatlammetjie.
Ek was van graad 1 tot 12 in Hoërskool McLachlan in Joubertina. Dit was maar ’n klein skooltjie (sowat 350 leerders, laer- en hoërskool te same), maar dit was heerlik om almal in die skool en op die dorp te ken.
Na matriek (2004) het ek BSc Biotegnologie studeer aan die Universiteit van Stellenbosch, maar ek het gou agtergekom ek is nie in die regte rigting nie. Ek het toe in 2006 BA Geesteswetenskappe begin studeer, wéér aan Universiteit van Stellenbosch, waar ek my graad in 2009 ontvang het. In 2010 het ek my studies verder geneem deurdat ek honneurs Geografie en Omgewingstudie ook aan die Universiteit van Stellenbosch voltooi het.
Na my honneursjaar moes ek werk soek, wat nie altyd maklik is vir iemand wat pas uit universiteit stap nie. Ek het as persoonlike assistent en ontvangsdame by ’n makelaar in Joubertina gewerk. Ek het gou genoeg besef ek moet my vlerke sprei en het die groot stap geneem om terug Kaap toe te trek, waar ek in my pa se huis in Kuilsrivier kon woon. Ek was so bevoorreg om twee maande later by ’n uitvoermaatskappy van vrugte in die Paarl in te stap en het bitter baie van die vrugtebedryf geleer.
Tans is ek nogsteeds in die bedryf by ’n maatskappy in Somerset Wes, waar ek as cost accountant in die trade finance-span werk. Ek dink as die vrugte-gogga jou eers gebyt het, los hy nie sommer nie.
Wat my persoonlike lewe aanbetref, het ek verseker my fair share van ’n gebroke hart al ervaar (eintlik al te veel). Soms voel dit my liefdeslewe wil net nooit uitwerk nie. Mens wonder dan of daar fout is met jou, of jy nie mooi genoeg of slim genoeg is nie.
Ek het huidiglik die mooimaak só nodig, want ek is op ’n ouderdom waar ek voel my lewe moet nou in ’n rigting beweeg. Ek wil graag eendag ’n man en kinders hê, en ook vorder in my werk.
Ek het reeds twee vierpotige kinders, wat my soveel vreugde verskaf. Hulle voel soos my kinders.
Dan is ek ook baie lief vir my familie, en om ’n tannie van vyf seuns te wees is heerlik (al is hulle soms bietjie rof) maar ek raak ook alleen. Ek wil ook iemand spesiaal hê met wie ek die lekker in die lewe kan deel.