web uni tv guide
web uni tv guide

In Gesprek

144AktueelPG13

Tussen tonele met Lourensa Eckard

Nuus
03 Oktober 2024
Ons het meer gaan uitvind oor dié joernalis en draaiboekskrywer!
Tussen tonele met Lourensa Eckard

Lourensa kuier weekliks in sitkamers as aanbieder van In Gesprek met Lourensa Eckard (waarvoor sy onlangs bekroon is as beste aanbieder van ‘n aktuele program by vanjaar se Silwerskermfees-toekennings vir Films en televisie) en ook as joernalis op Carte Blanche.

Lourensa en Mercy Kannemeyer is ook by vanjaar se Silwerskermfees-toekennings vir Film en televisie bekroon vir Beste draaiboek van ’n kortfilm deur ’n opkomende filmmaker vir die film Marie se laaste dag.

Watter items gaan ten alle tye saam met jou stel toe?

Die belangrikste items wat ek saam stel toe neem is ’n pen en papier. Ek moet kan notas neem gedurende onderhoude en my pen help ook as ek vir gaste moet wys hulle praat nou te lank, dan swaai ek dit so bietjie soos ’n towerstaf.

Het jy onlangs iets geleer by ’n ander aanbieder of persoon op stel wat jou geïnspireer het?

Ek was onlangs by ’n kyknet bemarking-geleentheid saam met Hannes van Wyk en net om te sien hoe gemaklik hy is voor die kamera het my opnuut geïnspireer: Hy is volkome net homself en hy probeer nie iemand anders wees nie. In die TV-bedryf kan mens soms voel jy moet te alle tye jou beste voetjie voor sit. So wat ek geleer het is dat kykers dit die heel meeste waardeer as jy net jouself is.

Is daar ’n fliek of reeks op kykNET of Showmax wat jy onlangs gesien het waar jy gedink het jy sal nogal graag daarin wil speel?

Ek was mal oor die eerste seisoen van Koek op Showmax en ek kan net dink hoe baie pret die akteurs gehad het. 

Hoe motiveer jy jouself nadat jy ’n moeilike dag agter die rug het?

Die beste is om vorentoe te kyk en te begin fokus op die volgende taak op hande.  

Wat is jou motto in die lewe?

As jy lank genoeg na die berg staar gaan jy hom uiteindelik uitklim.

Het jy ’n geheime talent waarvan ons nie weet nie? 

Ek is ’n kranige snoekerspeler.

Skakel Maandae om 20:30 in op kykNET, kanaal 144 vir In Gesprek met Lourensa Eckard en Sondae om 20:00 op M-net, kanaal 101 vir Carte Blanche. Marie se laaste dag is ook beskikbaar op DStv Stream.