Die gewilde reeks Edik van Nantes is terug vir ’n tweede seisoen, en vir dié reeks het Nataniël en Erik le Roux na ’n plek buite Nantes gegaan. Hier gesels die broers oor hulle kindertyd en oor die tweede seisoen.
As julle terugdink aan julle kindertyd en ’n maaltyd moet saamstel, wat sal dit wees?
Nataniël: Souskluitjies, soetpatat, frikadelle en karringmelkpoeding. My ouma se kos.
Erik: Ek was die derde van vier kinders. Gewoonlik hou ’n familie op kook ná die tweede kind. Polonie, maalvleis en tamatiekos is al wat ek kan onthou.
Wat was julle gunsteling kos/dis toe julle klein was?
Nataniël: Enigiets. Ek was ’n honger, vet kindjie. Maar my groot liefde (nog steeds) is sagopoeding of ’n goeie kerrie.
Erik: Soetgoed soos jellie, versiersuiker, vla en sagopoeding.
Wat is jou eerste goeie kosherinnering?
Nataniël: Tannie Gesie of my ouma se kombuise. Hulle het albei reuse kombuise by die Hugenote Kollege op Wellington gehad. Ek het eers later besef mense het gewone kombuise met net genoeg kos vir ’n gesin. Tannie Gesie het gekook vir studente en my ouma vir die res van die wêreld.
Erik: Ek was te besig met kinder- en tienerepisodes om aan kos te dink. ’n Pesto-linguini wat ek in Rome geëet het, was ’n keerpunt. Ek was vroeg in die twintig.
Wie van julle het eerste begin kook? Wanneer was dit en wat was julle eerste gereg?
Nataniël: Ek het op skool begin kook. Om die een of ander rede was ek obsessief oor rys. Ek het gedink ’n rysgereg uit die Ooste of uit Mexiko is die mees eksotiese kos op aarde.
Erik: Beslis Nataniël. My belangstelling het eers begin ná sy eerste kookboek.
Wie het julle leer kook?
Nataniël: Niemand. Ek het gekarring en goed uitgedink. Peter Veldsman en Topsi Venter was groot invloede op my lewe.
Erik: Ek het professionele opleiding in Europa gehad en saam met ’n verskeidenheid kokke gewerk. Ek is taamlik dom en moet konkrete tegnieke as ’n beginpunt gebruik. Nataniël is kreatief en kook uit geheue en smaak. Ek geniet die proses meer as die finale gereg.
Watter inspirasie bring Frankryk na die program?
Nataniël: Hier is ’n skoonheid wat ongelooflik is. Die mense eet klein porsies en dié wat ek hier ken, eet goeie, vars kos. Hulle praat oor kos, ken kos en léwe kos. Die bestanddele en die verskeidenheid is ongelooflik.
Erik: Ons is beide Hugenote én heet Le Roux, soos ons in die eerste reeks verduidelik. Die historiese grondslag was die oorspronlike inspirasie.
Wat is vir julle taboe wanneer julle mense nooi om by julle te kom eet?
Nataniël: Die grootste sonde is om op die daag met eetgoed of iets wat jy self gemaak het wanneer jy genooi is vir ete. Dit het gelukkig nog net een keer gebeur en ek het hulle vinnig reggehelp.
Erik: Om te oorkuier. Die gasheer beheer die tempo van ’n ete. Moenie dit probeer uitrek en karring nie. Ry asseblief kort ná nagereg. Ek kan nie slaap met vuil skottelgoed nie.
Hierdie artikel is ’n uittreksel uit kykNET se digitale tydskrif, Digityd. Lees die volledige artikel hier.