Foto: ’n Oomblik vanuit die tiende episode
deur Tertius Kapp
In 2004 was ek deel van ’n teatergroep genaamd Tart ’n Koggel. Een van die eerste produksies wat ons aangepak het, was De Familie Wagenaer. Ons het ’n verlate ou huis tien kilometer buite Oudtshoorn gehuur, by ’n byeboer. Elke nag tienuur bring bussies ons gehoor, en spokerige gedaantes vat hulle deur die huis waar hulle stukkie vir stukkie die familie se geskiedenis aanmekaarsit.
De Familie Wagenaer was ’n sukses. Die hele KKNK het daaroor gepraat. Ons het sommige nagte tot tien vertonings gedoen. Ons het soms mekaar moes aflos, maar Anneke Borman, Vicky Davis, Deon van Zyl, Lindy Downing, Tamarin du Toit, Trude Gunther, Neels van Jaarsveld, Tessa Jubber, Schalk Joubert en Floyed de Vaal was almal deel van die show.
Een van die rekwisiete was ’n antieke stootwaentjie. Vicky was die aktrise wat meestal daarmee gewerk het. Toe begin sy kla die waentjie is nooit waar sy dit los nie. En so begin die ander akteurs vertel. Van vreemde goed wat op hulle eie beweeg, geluide wat hulle nie kan verklaar nie.
To be fair, ons het allerhande slagspreuke in rooi teen die mure geverf, en die plek het geruik soos die dood. Ek het dit afgemaak as paranoia. Almal was uitgeput, die ruimte het met jou verbeelding gespeel.
Die voorlaaste aand besluit ek ek gaan dié storie toets. Ek het die enigste sleutel vir die huis. Ek sit die stootwaentjie in die kombuis en sluit alles agter ons. Die volgende aand sluit ek oop en stap onmiddellik kombuis toe.
Weg is die waentjie. Skrywer Willem Anker het ook saam met ons gewerk, en ons het saam deur die huis gesoek na die waentjie. Uiteindelik kry ek dit, doer aan die ander kant, drie kamers en ’n gang van waar ek dit gelos het.
Ek roep vir Willem: “Kyk waar is die waentjie nou.”
Dit was onder ’n sepia-familiefoto wat ons van onsself geneem het. Hy kyk op, en sê: “En ek sien hulle het vir ons handjies gelos.”
Op die portret, in iets wat lyk soos byewas, was daar twee klein babahandjies, met vingerafdrukke en al.
Daarna het almal geweier om alleen in die huis te wees. Ons het ons laaste show afgehandel, opgepak en gery. Al wat die byeboer wou toegee, is dat iemand eens op die werf selfmoord gepleeg het.
Paaseier vir die week: Die hobbelperdjie aan die begin van dié episode is ’n kopknik na The Mantis Project (1987), een van die mees boeiende Suid-Afrikaanse reekse wat ek nog gekyk het. Sommige kykers sal dit onthou: ’n wetenskaplike ekspedisie word vasgekeer in ’n ou huis in die Namib-woestyn (dis in Kolmanskop verfilm). Gou word dit duidelik dat dié huis spook. Wat in my kop vasgebrand het, is die antieke hobbelperdjie wat snags op sy eie beweeg het.
Gebruik die hutsmerk #DieSpreeus op Facebook, Twitter en Instagram. Kliek hier vir meer inligting.